Arthur C. Clarke

Arthur Charles Clarke (16 Desember 191719 Maart 2008) was 'n invloedryke Britse wetenskapsfiksie-skrywer. Hy is veral bekend vir sy wetenskapfiksieroman 2001: A Space Odyssey, en vir sy samewerking met filmregisseur Stanley Kubrick om 'n rolprent met dieselfde naam te vervaardig. Clarke word beskou as deel van wetenskapfiksie se "Groot Drie" skrywers van die twintigste eeu. Die andere twee skrywers is Robert Heinlein en Isaac Asimov.

Arthur C. Clarke
Clarke in Colombo, Sri Lanka op 28 Maart 2005
Gebore
Arthur Charles Clarke

16 Desember 1917
Minehead, Somerset, Engeland
Sterf19 Maart 2005 (op 87)
NasionaliteitVlag van Verenigde Koninkryk Verenigde Koninkryk
BeroepSkrywer en uitvinder
Bekend virProfiles of the Future
2001: A Space Odyssey
Rendezvous with Rama
The Fountains of Paradise
EggenootMarilyn Mayfield (1953–1964)
Webwerfwww.clarkefoundation.org

Lewensloop

Arthur C. Clarke tydens 'n ontmoeting met van sy aanhangers by sy tuiskantoor in Sri Lanka, 2005.

Clarke is gebore in Minehead in Somerset, Engeland. As seun geniet hy dit om na die sterre te staar en ou Amerikaanse wetenskapfiksietydskrifte te lees. Na voltooiing van sekondêre skool studeer hy aan die Richard Huish kollege, Taunton aangesien hy nie 'n universiteitsopvoeding kon bekostig nie. Hierna kry hy 'n werk as 'n ouditeur in die pensioene-afdeling van die Raad vir Onderwys.

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog dien hy in die Britse Koninklike Lugmag as 'n radarspesialis en was betrokke by die vroeë waaskuwingsradarstelsel wat 'n reuse bydrae gemaak het tot die Britse Lugmag se sukses gedurende die Slag om Brittanje (Battle of Britain). Hy tree af met die rang van 'n vlugluitenant. Na die oorlog voltooi hy 'n graad in wiskunde en fisika aan die King's College in Londen.

Een van Clarke se belangrikste bydraes is die konseptualisering van die geostasionêre kommunikasiesatelliet. Hy stel hierdie konsep voor in 'n artikel getitel "Extra-Terrestrial Relays – Can Rocket Stations Give Worldwide Radio Coverage?", gepubliseer in Wireless World in Oktober 1945. Hy ontvang hiervoor verskillende eerbewyse, waaronder die Marconi International Fellowship.

Clarke se eerste storie is verkoop in 1946 aan Astounding Science Fiction, naamlik die kortverhaal Rescue Party. Clarke werk ook vir 'n kort periode as hulp-redakteur van Science Abstracts (1949) voordat hy vanaf 1951 hom toelê op voltydse skryfwerk. Clarke lewer ook 'n bydrae tot die Dan Dare reeks en sy eerste drie romans was vir die jeugmark. Sy werk word gekenmerk deur die optimistiese siening van wetenskap wat volgens hom die mens in staat stel om die ruimte te verken. Sy skryfwerk was beïnvloed deur die werk van Olaf Stapledon.

In 1951 skryf hy The Sentinel vir 'n BBC-kompetisie. Hoewel die storie nie aanvaar word nie verander dit die rigting van Clarke se loopbaan. Die storie dien as basis vir 2001, maar lei ook tot 'n meer mistieke en kosmiese aanslag in Clarke se werk. Baie van Clarke se latere werk fokus op 'n tegnologies gevorderde maar bevooroordeelde mensdom wat gekonfronteer word deur 'n superieur buiteruimte intelligensie. In die gevalle van The City and the Stars, Childhood's End, en die 2001-reeks, produseer die interaksies konseptuele deurbrake wat die mensdom se ontwikkeling laat versnel tot 'n volgende vlak van evolusie.

Hy woon sedert 1956 in Sri Lanka. Eers bly hy in Unawatuna aan die suidkus en toe in Colombo. Sri Lanka dien as inspirasie vir sy roman The Fountains of Paradise, waarin hy ook 'n ruimtehysbak beskryf. Hy glo dat hy eendag hiervoor onthou sal word, meer so as vir die geostasionêre kommunikasiesatelliet. Hy glo dat ruimtehysbakke ruimtetuie verouderd sal maak.

Vroeg in sy loopbaan word Clarke gefassineer deur die paranomale en is dit deels inspirasie vir sy roman Childhood's End. Alhoewel hy het hom wel sedertdien van die meeste pseudowetenskap gedistansieer het, is hy steeds 'n voorstander vir verdere navorsing in psigokinese en ander soortgelyke fenomene.

Arthur C. Clarke se bekendste boek is waarskynlik 2001: A Space Odyssey, gebaseer op die rolprentdraaiboek wat hy saam met Stanley Kubrick skryf vir die gelyknamige rolprent en wat op sy beurt gebaseer was op Clarke se vroeëre kortverhaal The Sentinel. Die rolprent wat in 1968 uitgereik word, word beskou as 'n mylpaal in die geskiedenis van die rolprentwese. Clarke word, saam met Kubrick, selfs genomineer vir 'n Oscar. Clarke skryf nog 'n aantal opvolgverhale vir 2001, waarvan die eerste verhaal ook verfilm word.

Na die vrystelling van 2001, is daar 'n vraag na Clarke as 'n kommentator oor wetenskap en tegnologie – veral ten tye van die Apollo-ruimteprogram. Clarke doen byvoorbeeld saam met Walter Cronkite verslag oor die Apollo-maanekspedisies. Die beroemdheid van 2001 was voldoende om die beheermodule van die Apollo 13 tuig as "Odyssey" genoem te kry.

Clarke is ook bekend vir televisieprogramme soos Arthur C. Clarke's Mysterious World (1981) en Arthur C. Clarke's World of Strange Powers (1984).

In 1988 word hy gediagnoseer met na-polio sindroom en het sedertdien nodig om van 'n rolstoel gebruik te maak.

Hy was lid van die Royal Astronomical Society, oud-voorsitter van die British Interplanetary Society en lid van die Academy Of Astronautics. Hy was ook die Ere-raadsvoorsiter van die Institute for Cooperation in Space, gestig deur Carol Rosin en het ook op die Raad van Goewerneurs van die National Space Society, 'n ruimte pleitbesorger-organisasie gestig deur Dr. Wernher von Braun, gedien.

Arthur C. Clarke sterf op negentigjarige leeftyd in 'n hospitaal in sy tuisdorp Colombo in Sri Lanka.

Bibliografie

  • 1951 – Prelude to Space
  • 1951 – The Sands of Mars
  • 1952 – Islands in the Sky
  • 1953 – Against the Fall of Night
  • 1953 – Childhood's End
  • 1953 – Expedition to Earth
  • 1955 – Earthlight
  • 1956 – Reach for Tomorrow [kort verhale]
  • 1956 – The City and the Stars
  • 1957 – Tales from the White Hart [kort verhale]
  • 1957 – The Deep Range
  • 1958 – The Other Side of the Sky
  • 1959 – Across the Sea of Stars [kort verhale]
  • 1961 – A Fall of Moondust
  • 1962 – From the Ocean, From the Stars
  • 1962 – Tales of Ten Worlds
  • 1963 – Dolphin Island
  • 1963 – Glide Path
  • 1965 – An Arthur C. Clarke Omnibus
  • 1965 – Prelude to Mars [kort verhale]
  • 1967 – The Nine Billion Names of God [kort verhale]
  • 1968–2001: A Space Odyssey
  • 1968 – An Arthur C. Clarke Second Omnibus [kort verhale]
  • 1968 – The Lion of Comarre & Against the Fall of Night [kort verhale]
  • 1972 – Of Time and Stars
  • 1972 – The Wind from the Sun
  • 1973 – Rendezvous with Rama
  • 1975 – Imperial Earth
  • 1978 – Four Great SF Novels
  • 1979 – The Fountains of Paradise
  • 1982–2010: Odyssey Two
  • 1983 – The Sentinel [kort verhale versameling]
  • 1986 – The Songs of Distant Earth
  • 1988–2061: Odyssey Three
  • 1988 – A Meeting With Medusa
  • 1988 – Cradle (met Gentry Lee)
  • 1989 – Rama II (met Gentry Lee)
  • 1990 – Beyond the Fall of Night (met Gregory Benford)
  • 1990 – Tales From Planet Earth
  • 1990 – The Ghost from the Grand Banks
  • 1991 – More Than One Universe
  • 1991 – The Garden of Rama (met Gentry Lee)
  • 1993 – Rama Revealed (met Gentry Lee)
  • 1993 – The Hammer of God
  • 1996 – Richter 10 (met Mike McQuay)
  • 1997 – 3001: The Final Odyssey
  • 1999 – The Trigger (met Michael P. Kube-McDowell)
  • 2000 – The Light of Other Days (met Stephen Baxter)
  • 2000 – The Collected Stories of Arthur C. Clarke [kort verhale]
  • 2004 – Time's Eye (met Stephen Baxter)