Phnom Kulen

Phnom Kulen is ’n bergreeks in die provinsie Siem Reap, Kambodja.

Phnom Kulen
Phnom Kulen is ’n lang, aaneenlopende silhoeët op die agtergrond. Phnom Kulen is ’n lang, aaneenlopende silhoeët op die agtergrond.
LiggingVlag van Kambodja Kambodja
Hoogte487 meter bo seevlak
BergtipeSandsteen
Maklikste roeteRy

Geografie

Phnom Kulen is ’n geïsoleerde reeks klein bergplato's van gemiddelde hoogte. Dit strek sowat 40 km ver in ’n wesnoordwestelike tot ’n oossuidoostelike rigting en lê sowat 48 km noord van die stad Siem Reap. Die hoogste punt is 487 m hoog en die hoogte is redelik eenvormig, met ’n gemiddeld van 400 m.

Die bergreeks is uit sandsteen gevorm. In die tyd van die Khmer-ryk was dit ’n belangrike steengroef; die belangrikste steengroewe is in die suidoostelike hoek van die massief.[1] Die Phnom Kulen Nasionale Park is ’n beskermde gebied. Die doel daarvan is om die natuurlike eienskappe van die berge, soos ’n paar beroemde watervalle, te beskerm.

Beskrywing

’n Waterval op Phnom Kulen.

Die Phnom Kulen-bergreeks lê 30 km noord van Angkor Wat. Die naam beteken "Berg van die Lietsjies".[2] Bo-op die bergreeks is ’n heilige terrein en die berg self word in Kambodja as heilig beskou. Hindoes en Boeddhiste onderneem bedevaarte daarheen.

Vir Kambodjane is dit die geboorteplek van die antieke Khmer-ryk, want dit was hier waar koning Jayavarman II die land in 804 onafhanklik van Java verklaar het. Hy het ook die Devaraja-kultus van die konings begin.[3]:99–101 Of dié Java die hedendaagse Java was of dalk die koninkryk Champa, is onseker, asook die legende dat die koning in Java aangehou is vir ’n losprys.[4] In die tyd van die Khmer-ryk was die bergreeks bekend as Mahendraparvata (die Berg van die Groot Indra).[5]

Die water van Phnom Kulen word ook as heilig beskou, want Jayavarman II het hier geswem. Hy het ook die rivier laat herlei sodat graverings in die klipbodem gemaak kon word. Graverings sluit in uitbeeldings van die Hindoegod Vishnu wat op sy slang, Ananta, lê met sy vrou Lakshmi aan sy voete.[6] ’n Lotusblom met die god Brahma steek uit sy maag.

Naby die bergreeks is Preah Ang Thom, ’n 16de-eeuse Boeddhisteklooster wat bekend is vir sy reusebeeld van ’n rustende Boeddha, die grootste in die land.[6]

Die Khmer Rouge het die ligging as ’n laaste vesting gebruik toe hul regime in 1979 tot ’n einde gekom het.

Verwysings

Eksterne skakels

104°06′45″O / 13.61278°N 104.11250°O / 13.61278; 104.11250