Arminius

Arminius (18/17 v.C. – 21 n.C.) was 'n stamhoof van die Germaanse Cheruske-stam. Hy is veral bekend as leier van 'n bondgenootskap van Germaanse stamme wat teen die Romeine geveg het tydens die Slag by die Teutoburgerwoud in 9 n.C., waartydens drie Romeinse legioene onder bevel van generaal Varus op beslissende wyse verslaan is. Sy oorwinning by die Teutoburgerwoud was 'n voorspel tot die Romeinse ryk se strategiese onttrekking uit Germania Magna.[1] Moderne historici beskou Arminius se oorwinning as een van Rome se grootste nederlae.[2] Aangesien dit die assimilasie van Germaanse mense oos van die Ryn verhoed het, word dit beskou as een van die belangrikste gevegte in die wêreldgeskiedenis. Die uitwerking daarvan kan vandag nog waargeneem word in byvoorbeeld die verspreiding van die Romaanse- en Germaanse tale.[3][4][5][6] Die geveg was 'n kantelpunt in die wêreldgeskiedenis.[7]

Arminius
Arminius
Standbeeld van Arminius by die Hermannsdenkmal gedenkteken

Prins en stamhoof van die Cheruske-stam
Voorafgegaan deurSegimer
Opgevolg deurItalicus

Persoonlike besonderhede
Gebore18/17 v.C.
Germanië
Sterf21 n.C. (aged 37–38)
Germanië
Kind(ers)Thumelicus
ReligieGermaanse gelowe

Arminius is gebore as 'n prins van die Cheruske-stam, en het deel gevorm van die stamfaksie wat die Romeine goedgesind was. Hy het Latyn aangeleer en in die Romeinse leër gedien, as gevolg waarvan hy Romeinse burgerskap en die rang van eques verkry het. Nadat hy met onderskeiding gedien het tydens die Bellum Batonianum, is hy na Germanië gestuur om die plaaslike goewerneur, Varus, by te staan in die onderwerping van die Germaanse stamme. Terwyl Arminius in die hoedanigheid opgetree het, het hy egter 'n geheime komplot teen Romeinse heerskappy gevoer, wat uiteindelik gelei het tot 'n hinderlaag, en die vernietiging van drie Romeinse legioene in die Teutoburgerwoud.

Arminius het vergeldingsinvalle deur die Romeinse generaal Germanicus in die gevegte van Pontes Longi, Idistaviso en die Angrivarier-muur afgeweer, en in die proses 'n teenstander, die Marcomanni koning Maroboduus, verslaan. Germaanse adellikes, wat Arminius se groeiende mag gevrees het, het hom in 21 n.C. vermoor. Sy legendariese dade is generasies daarna nog gedenk in Germaanse sages.[8] Die Romeinse geskiedkundige Tacitus het Arminius uitgesonder as bevryder van die Germaanse stamme en hom gehuldig omdat hy die Romeinse Ryk tydens die hoogbloei van sy mag tot stilstand gedwing het.[8]

Kulturele heenwysings

  • Arminio is 'n opera uit 1692 oor Arminius deur die Oostenryks-Boheemse komponis Heinrich Ignaz Franz Biber.
  • Arminio is 'n opera uit 1736 oor Arminius deur Händel.
  • Arminius is 'n oratorium uit 1877 oor Arminius deur die Duitse komponis Max Bruch.
  • Barbarians is 'n 2020 TV-reeks wat 'n fiksionele beeld bied van Arminius.

Verwysings

Bronne

Eksterne skakels