Gallerie dell'Accademia

Gallerie dell'Accademia
'n Beeld van die museum.

Openingsjaar1750
Webtuistegallerieaccademia.it

Die Gallerie dell'Accademia is 'n museumgalery wat pre-19de eeuse kuns uitstal en wat in Venesië, noord-Italië geleë is. Dit word gehuisves in die Scuola della Carità op die suidelike oewer van die Groot-Kanaal in Venesië binne die sestiere[1] van Dorsoduro. Dit was oorspronklik die galery van die Accademia di Belle Arti di Venezia; d.i. die kunsakademie van Venesië, waarvan dit in 1879 onafhanklik geword het. Die twee instellings was tot 2004 in dieselfde gebou gehuisves - toe die kunsskool verskuif het na die Ospedale degli Incurabili.[2]

Geskiedenis

Vroeë geskiedenis

Die Accademia di Belle Arti di Venezia is op 24 September 1750 gestig; die statuut dateer uit 1756. [3] Die eerste direkteur daarvan was Giovanni Battista Piazzetta; Giovanni Battista Tiepolo het die eerste president geword na sy terugkeer uit Würzburg.[4]

Dit was een van die eerste instellings wat kunsrestorasie gestudeer het, beginnende in 1777 met Pietro Edwards. Teen 1819 is dit as 'n kursus geformaliseer. In 1807 is die akademie heropgerig by wyse van 'n Napoleoniese edik. Die naam is verander van Veneta Academia di Pittura, Scultura e Architettura, na Accademia Reale di Belle Arti, "koninklike akademie vir beeldende kunste", en die akademie is verskuif na die Palladiaanse kompleks van die Scuola della Carità, waar die Gallerie dell'Accademia steeds gehuisves word. Die versamelings van die Accademia is die eerste keer op 10 Augustus 1817 vir die publiek geopen. [3][5]

Latere geskiedenis

Die Gallerie dell'Accademia het in 1879 onafhanklik geword van die Accademia di Belle Arti di Venezia. Soos ander staatsmuseums in Italië val dit onder die Ministerie van Kulturele Erfenis, Aktiwiteite en Toerisme (Italiaans: Ministero per i Beni e le Attività Culturali), d.i. die Italiaanse ministerie van kultuur en erfenis.

Gebou

Vitruviaanse Man deur Leonardo da Vinci (c. 1487)

Die Napoleoniese administrasie het baie instellings in Venesië ontbind, waaronder sommige kerke, kloosters en scuole. Die Scuola della Carità, die Convento dei Canonici Lateranensi en die kerk van Santa Maria della Carità het dus die tuiste van die Accademia geword. Die Scuola della Carità was die oudste van die ses Scuole Grandi. Die gebou dateer uit 1343, alhoewel die scuola in 1260 gestig is. Die Convento dei Canonici Lateranensi is in 1561 deur Andrea Palladio begin, alhoewel dit nooit volledig voltooi is nie. Die fasade van Santa Maria della Carità is in 1441 deur Bartolomeo Bon voltooi.

Versameling

Die Gallerie dell’Accademia bevat meesterstukke van die Venesiaanse skilderwerke wat dateer tot uit die 18de eeu, welke werke chronologies rangskik word, alhoewel sommige tematiese uitstallings voorkom.

Kunstenaars wat verteenwoordig word sluit in:Antonello da Messina, Lazzaro Bastiani,Gentile en Giovanni Bellini, Bernardo Bellotto, Pacino di Bonaguida,[6] Canaletto, Vittore Carpaccio, Giulio Carpioni, Rosalba Carriera, Cima da Conegliano, Domenico Fetti, Pietro Gaspari, Michele Giambono, Luca Giordano, Francesco Guardi, Giorgione, Johann Liss, Charles Le Brun, Pietro Longhi, Lorenzo Lotto, Mantegna,Rocco Marconi, Michele Marieschi, Giambattista Piazzetta,Giambattista Pittoni, Mattia Preti, Giovanni Battista Tiepolo, Tintoretto, Titiaan, Paolo Veronese (Paolo Caliari),Vasari, Leonardo da Vinci (Tekening van die Vitruviaanse Man),Alvise Vivarini, enGiuseppe Zais.

Hoogtepunte uit die Skilderversameling

Verwysings