Panseksualiteit

Panseksualiteit kan beskou word as ’n seksuele oriëntasie op sy eie of as ’n tak van biseksualiteit, en dui op ’n alternatiewe seksuele identiteit.[1][2][3]

Die panseksuele pride-vlag.

Beskrywing

Die simbool van panseksualiteit.

Omdat panseksuele mense ’n verhouding met ander kan aanknoop wat hulle nie in die streng sin as man of vrou identifiseer nie, verwerp hulle die tweeledige indeling van geslagte.[1][4] Dit word dus beskou as ’n inklusiewer term as "biseksueel".[5][6] Die mate waarin die term "biseksueel" inklusief is in vergelyking met die term "panseksueel", is ’n kwessie van debatvoering in die LGBT-gemeenskap, veral onder biseksuele.[6]

Etimologie

Panseksualiteit word soms ook "omniseksualiteit" genoem.[7][6][8] Die voorvoegsel "pan-" kom van die Antieke Griekse woord vir "alles", πᾶν, terwyl "omni-" kom van die Latynse woord vir alles, omnis. Die woord "panseksueel" is sover bekend in 1917 die eerste keer gebruik, en dui op die idee "dat die seksinstink die belangrikste rol speel in alle menslike aktiwiteit, geestelik en fisiek",[5][9] ’n aanhaling wat aan Sigmund Freud toegeskryf word.[5][9]

Die letterlike betekenis van "biseksueel" is aantrekking tot die twee geslagte ("bi-" beteken "twee") of twee genders, mans en vroue.[5][6][10] Daarteenoor sluit panseksualiteit ook interseks, transgender of ander mense in.[1][5][6]

Poliseksualiteit

Poliseksualiteit is al beskryf as "omsluitend of gekenmerk deur baie verskillende soorte seksualiteit",[11] en as seksuele aantrekking tot baie, maar nie alle, genders.[12]:281-287 Baie mense gebruik dit in die plek van "biseksualiteit".[13]

Verwysings

Skakels