Sensu

Latynse woord wat beteken "in die sin van"

Sensu is ’n Latynse woord wat "in die sin van" beteken. Dit word op ’n paar terreine gebruik, onder meer biologie, geologie, taalkunde en die reg. Dit verwys gewoonlik na hoe streng of losweg ’n uitdrukking gebruik word om ’n sekere begrip oor te dra.

Gebruik

Die fases waarin dit gebruik word, is sensu stricto ("in die eng sin", afgekort as s.s.),[1] sensu lato ("in die breë sin", afgekort as s.l.)[2] en sensu amplo ("in die algemene sin", soortgelyk aan sensu lato).

As dit van toepassing is, kan die vergelykende of oortreffende trap gebruik word om "meer" en "mees" aan te dui. Sensu stricto word dan sensu strictiore ("in die enger sin") en sensu strictissimo ("in die engste sin").

Betekenisse van die woord "sensu"
BasiesVergelykendOortreffendBetekenis
sensu strictosensu strictioresensu strictissimoin die eng/enger/engste sin
sensu latosensu latioresensu latissimoin die breë/breër/breedste sin
sensu amplosensu amplioresensu amplissimoin die algemene/algemener/algemeenste sin

Huidige definisies van die planteryk, Plantae, wys hoe die woorde op ’n biologiese grondslag gebruik kan word. Een definisie van Plantae is dat dit bestaan uit alle Viridiplantae (groen plante), alle Rhodophyta (rooi alge) en alle Glaucophyta (mikroskopiese varswateralge). ’n Enger definisie sluit die Rhodophyta en Glaucophyta uit en die groep word dan genoem "Plantae sensu stricto". ’n Nog enger definisie sluit groen alge uit en laat net landplante oor; die groep sal in dié sin "Plantae sensu strictissimo" genoem word.[3] Indien van toepassing, gebruik sommige skrywers ook terme soos "sensu non strictissimo", dus "nie in die engs moontlike sin nie".[4]

Nog ’n algemene gebruik is om dit voor ’n mens se van te gebruik. Dan beteken "sensu Smith" "in die sin soos gebruik of bedoel deur Smith".[5][6]

Verwysings

Eksterne skakels