West Texas Intermediate

West Texas Intermediate (WTI), ook bekend as Texas-ligsoet, is 'n graad van ruolie wat as 'n maatstaf by die bepaling van oliepryse gebruik word. Hierdie graad word as ligte ruolie beskryf weens sy relatief lae digtheid, en as soet weens sy lae swawelinhoud. Dit is die onderliggende kommoditeit van New York Mercantile Exchange (NYMEX) se olietermynkontrakte.

Plekprys van West Texas Intermediate en Brent-ruolie

Die prys van WTI word gewoonlik in nuusberigte oor oliepryse aangegee, tesame met die prys van Brent-ruolie van die Noordsee. Ander belangrike oliegrade is Doebai-ruolie, Oman-ruolie, Oerale-olie, en die OPUL-verwysingsmandjie. WTI is ligter en soeter (dit wil sê, dit bevat minder swawel) as Brent-ruolie en aansienlik ligter en soeter as Doebai- en Oman-ruolie.[1]

Prys

Die prys van West Texas Intermediate-ruolie (WTI) vir lewering in Mei 2020 word op Maandag, 20 April 2020 negatief weens 'n tekort aan bergingsruimte.[2][3][4][5] Die tekort aan bergingsruimte word toegeskryf aan 'n ineenstorting van aanvraag weens die voortslepende koronaviruspandemie en aan 'n prysoorlog tussen die olieprodusente Rusland en Saoedi-Arabië.[2] WTI vir lewering in Mei 2020 bereik op daardie dag 'n prys van -$40,32, die laagste prys ooit en die grootste prysdaling in een dag.[2] Die prys van dieselfde graad olie vir lewering in Junie 2020 het op dieselfde dag by $20,43 gedraai.[2] Dit was die grootste prysverskil ooit tussen die nabye termynkontrak en die termynkontrak vir lewering een maand later vir hierdie graad van ruolie.[2]

Verwysings