Weliki Oestjoeg (Russies: Великий Устюг) is ’n dorp in die RussieseWologda-oblast. Dit lê by die sameloop van die Soechona- en die Joeg-rivier. Die inwonertal in 2010 was 31 665.[1]
Die naam van die dorp kom van die eerste nedersetting in die gebied, die kloosternedersetting by Gleden (Гледен), waar die Joeg-rivier ("Suidelike Rivier") in die Soechona invloei. Saam vorm hulle die Noordelike Dwina. Die naam Устюг is ’n samestelling van die Russiese woorde oestje (устье; riviermonding) en joeg (юг; suid). Weliki is die Russiese woord vir "groot" en is aan die einde van die 15de eeu by die naam gevoeg.
In die woud by Weliki Oestjoeg is ’n wotsjina (вотчина; landgoed) met die amptelike woning van Djed Moroz (Дед Мороз; "Oupa Ryp"), die Russiese weergawe van Kersvader. In 1998 het die destydse Moskouse burgemeester, Joeri Loezjkof, voorgestel dat Weliki Oestjoeg die amptelike tuiste van Djed Moroz word, pleks van die tradisionele Lapland.[2] ’n Spesiale maatskappy is vir dié doel gestig. Daar is ’n spesiale poskantoor vir briewe van kinders aan Djed Moroz.