Allan Hills 84001

Allan Hills 84001, of ALH 84001,[1] is 'n fragment van 'n meteoriet van Mars af wat op 27 Desember 1984 in die Allan Hills op Antarktika ontdek is deur 'n groep Amerikaanse meteorietjagters van die ANSMET-projek.

Allan Hills 84001
'n Fragment van meteoriet ALH 84001.
'n Fragment van meteoriet ALH 84001.
Voorwerp
Ander naamALH 84001
TipeAchondriet
SamestellingLae-Ca-ortopirokseen, chromiet, maskeliniet, Fe-ryke karbonaat[1]
Datum1984 (ontdek)
Waargenome valNee
TBG1 930,9 g
Gebied
LandAntarktika
StreekAllan Hills
OorsprongMars
Navorsing onder mikroskope het kettingstrukture in ALH 84001 onthul wat soos lewende organismes lyk.

Daar word vermoed dit kom oorspronklik van Mars af, nes ander lede van die SNC-groep. Dit pas egter nie in een van die voorheen ontdekte SNC-groepe nie. Sy massa toe dit ontdek is, was 1,93 kg.

In 1996 het 'n groep wetenskaplikes iets in die meteoriet ontdek wat ooreengestem het met mikroskopiese fossiele van bakterieë, wat daarop gedui het dat dié organismes van Mars af kom. Die bewering het dadelik wêreldwyd die nuushoofberigte gehaal, en het daartoe gelei dat die destydse Amerikaanse president, Bill Clinton, 'n toespraak oor die moontlike ontdekking gelewer het.[2]

Die bewering was van die begin af omstrede en die wyer wetenskaplike gemeenskap het eindelik die hipotese verwerp nadat al die ongewone eienskappe in die meteoriet verduidelik is sonder dat dit op lewe dui.

Hoewel daar geen oortuigende bewyse was van lewe op Mars nie, word die aanvanklike geskrif en die enorme wetenskaplike en openbare belangstelling wat dit ontlok het, beskou as 'n keerpunt in die geskiedenis van die ontwikkelende wetenskap astrobiologie.[3]

Beskrywing

ALH 84001 is in die 1984-'85-seisoen in die Allan Hills ontdek.[4] Dit is vermoedelik een van die oudste Marsmeteoriete wat na bewering 4,091 miljard jaar gelede uit gesmelte rots gekristalliseer het.[5] 'n Chemiese ontleding dui aan dit het op Mars ontstaan[6][7] toe daar vloeibare water op die planeet se oppervlak was.[8][9]

Volgens 'n teorie is ALH 84001 sowat 17 miljoen jaar gelede van Mars se oppervlak af geskiet in 'n botsing met 'n meteoor,[10] en het dit 13 000 jaar gelede op die aardoppervlak geval.[11] Dié datums is bepaal deur 'n verskeidenheid radiometriese dateringstegnieke, insluitende radiokoolstofdatering.[12][13] Die groot belangstelling in ALH 84001 het ontstaan omdat dit die enigste meteoriet is wat van Mars af gekom het toe dit vloeibare water op die oppervlak kon gehad het.[3]

In April 2020 het navorsers berig hulle het stikstofhoudende organismes in Allan Hills 84001 gevind.[14] 'n Latere studie het aangedui ALH 84001 bevat nie Marslewe nie; daar is bevind die ontdekte organiese molekules kan verbind word met abiotiese prosesse wat 4 miljard jaar gelede op 'n baie vroeë Mars geskep is.[15][16]

Verwysings

Nog leesstof

Skakels

156°46′25″O / 76.92028°S 156.77361°O / -76.92028; 156.77361