Berserker

In die Noorse mitologie is 'n berserker iemand wat in 'n soort beswyming veg, 'n karaktertrek wat later gelei het tot die Afrikaanse woorde "berserk" en "berserker": "vegter wat in ’n soort raserny bonatuurlike krag openbaar; woeste vegter".[1] Berserkers kom in talle Oudnoorse bronne voor.

'n Moderne nabootser van 'n berserker in Duitsland.

Etimologie

Die Oudnoorse vorm van die woord is berserkr (meervoud: berserkir). Dit beteken waarskynlik letterlik "beerhemp", "iemand wat 'n pelsjas van beervel dra".[2]

Vroeë begin

Sommige skrywers stel voor die noordelike vegterstradisie het uit jagterskultusse ontstaan.[3][4] Die belangrikste dierkultusse wat genoem word, is dié van die beer, wolf en wildevark.[3]

Wanneer Wikingdorpies saam in 'n oorlog betrokke geraak het, het die berserkers dikwels spesiale klere soos die pels van 'n beer of wolf gedra om aan te dui hy is 'n berserker en dat hy nie die verskil tussen vriend en vyand sal ken wanneer hy in "bersærkergang" is nie. So sou sy bondgenote weet om op 'n afstand te bly.[5]

Sommige geleerdes meen sekere voorbeelde van berserkte woede is willekeurig veroorsaak deur die gebruik van dwelms soos drogbeeldende sampioene[6][7][8] of groot hoeveelhede alkohol.[9] Daaroor word gedebatteer,[10] maar die teorie word versterk deur die ontdekking van sade van die plant dolkruid in 'n Wikinggraf naby Fyrkat, Denemarke, in 1977.[11] 'n Ontleding van die simptome wat deur die plant veroorsaak word, stem ooreen met dié van 'n beserkte toestand, wat daarop dui dat dit gebruik kon gewees het om 'n strydlustige bui te veroorsaak.[12]

Ander verduidelikings sluit in 'n toestand van histerie wat deur die persoon self veroorsaak is, epilepsie of geestesteuring.[13] Daar is al voorgestel dat die berserkers se gedrag geïnspireer is deur die legende van die weerwolf.[14]

Verwysings

Skakels