Catedral Metropolitana de la Ciudad de México

Die Metropolitaanse Katedraal van die Hemelvaart van die Mees Geseënde Maagd Maria (Spaans: Catedral Metropolitana de la Asunción de la Santísima Virgen María a los cielos) is die setel van die Rooms-Katolieke Aartsbisdom van Meksiko.[1] Dit is geleë op grond wat voorheen aan die Azteke behoort het naby Templo Mayor aan die noordelike kant van die Plaza de la Constitución (Zócalo) in Meksikostad. Die katedraal is vanaf 1573 tot 1813 in seksies gebou rondom die oorspronklike kerk wat gebou is kort na die Spaanse verowering van Tenochtitlan. Die oorspronklike kerk is uiteindelik in sy geheel vervang. Die Spaanse argitek Claudio de Arciniega het die konstruksie beplan. Hy het inspirasie geneem uit Gotiese katedrale in Spanje.[2]

Die katedraal, soos gesien van Maderostraat
Die hoofingang
Die katedraal in die 1940's.

As gevolg van die uitgerekte bouproses van net minder as 250 jaar het byna al die hoof argitekte, skilders, beeldhouers en ander kunstenaars van die onderkoning op 'n tydstip daaraan gewerk. Die uitgerekte bouproses het ook die integrasie van verskeie boustyle meegebring wat deur die eeue in gebruik was of populêr was, insluitende Gotiese, Barok, Churrigueresque en Neoklassieke style. Dieselfde omstandighede het meegebring dat die katedraal se ornamente, beeldhouwerke en meublement in die interieur uit verskeie milieus afkomstig is.[3][4]

Die daarstelling van die katedraal het maatskaplike samehorigheid meegebring omdat dieselfde kerklike owerhede, regeringsowerhede en verskeie godsdienstige denominasies en verskeie generasies maatskaplike groepe uit alle klasse deur die jare heen betrek is.[5]

Die gebou is as gevolg van die invloed van die Katolieke Kerk op die openbare lewe nou verweef met gebeure van historiese belang vir die samelewings van Nieu-Spanje en onafhanklike Meksiko. Om maar enkeles te noem, het die kroning van Agustín de Iturbide en Ana María Huarte as keisers van Mexiko deur die President van die Kongres daar plaasgevind en is die oorskot van die voormelde vorste ook daar bewaar; tot 1925 is die begrafnisse van verskeie helde uit die strewe na onafhanklikheid daar begrawe, soos byvoorbeeld Miguel Hidalgo y Costilla en José María Morelos; die geskille tussen liberales en konserwatiewes wat veroorsaak is deur die skeiding van kerk en staat in die hervormingswette is ook daar besleg; die gebou is gesluit tydens die Cristero-oorlog; en die viering in 2010 van tweehonderd jaar van onafhanklikheid het ook daar plaasgevind.[6]

Oor die eeue het die katedraal aansienlike skade opgedoen. 'n Brand in 1967 het 'n aansienlike deel van die interieur van die katedraal vernietig. Die restourasiewerk wat hierop gevolg het, het daartoe gelei dat 'n aantal belangrike dokumente en kunswerk ontdek is wat voorheen versteek was. Alhoewel 'n soliede fondament vir die katedraal gebou is [7] hou die sagte klei waarop dit gebou is 'n risiko in vir die gebou se strukturele integriteit. Dalende watertafels en versnelde wegsinking het daartoe gelei dat die struktuur gevoeg is tot die Fonds vir Wêreldmonumente se lys van die 100 mees bedreigde strukture. Restourasiewerk wat in die begin van die 1990's begin is het die katedraal gestabiliseer en gevolglik is dit in 2000 verwyder van die lys van bedreigde geboue. [8]

Verwysings

Eksterne skakels