Goudakaas

Gouda (Nederlands: Goudse kaas) is ’n Nederlandse geel kaas wat van koeimelk gemaak word. Dit is genoem na die die stad Gouda (Zuid-Holland). Dit is wêreldwyd een van die gewildste kase en die naam word vandag algemeen gebruik vir ’n verskeidenheid ander, soortgelyke kase wat op die tradisionele Nederlandse manier gemaak word.[1]

Gouda
Oorsprong Gouda, Vlag van Nederland Nederland
Melkbron Koeie
Eienskappe
Gepasteuriseer Moontlik
Tekstuur Halfhard tot hard
Vorm Wiele
Veroudering 1 tot 36 maande
Voedingswaarde (per 100 g)
Vetinhoud 48-51 g
Wiele gouda op ’n kaasmark in Gouda.

Vervaardiging

Volgens verskeie bronne behoort die naam "gouda" eerder te verwys na ’n algemene manier van kaas maak, as na ’n spesifieke soort kaas, omdat die smaak aansienlik verskil na gelang van die ouderdom.[2] Die sewe verskillende soorte gouda is geskoei op ouderdom.[3] Die geur van ’n jong, fabriekvervaardigde gouda is al beskryf as "fudgerig met neute, maar baie, baie, baie gematig". Dieselfde bron het ’n ouer plaasgouda beskryf as met ’n "lieflike vrugterige smaak" met ’n "soet afronding"; dit "kan ’n amperse botterkaramelgeur" aanneem as dit langer as twee jaar verouder is.[4]

Nadat die wrongel gevorm het, word van die wei afgegooi en water bygevoeg. Dit word genoem die "was van die wrongel" en het ’n soeter kaas tot gevolg.[5] Sowat 10% van die mengsel is wrongel, en dit word vir ’n paar uur in ronde kaasvorms gepers. Die kaas word dan in ’n pekeloplossing laat lê wat aan die kaas en buitelaag sy kenmerkende smaak gee.[6]

Die kaas word ’n paar dae lank gedroog voordat ’n geel laag oorgesit word om te keer dat dit uitdroog. Dit word daarna verouder, ’n proses waartydens die kaas van halfhard in hard verander. Namate dit ouer word, ontwikkel dit ’n karamelagtige soetigheid. Nederlandse kaasmakers gebruik gewoonlik ses kategorieë vir gouda:

  • Jonk (4 weke)
  • Min verouder (8-10 weke)
  • Verouder(16-18 weke)
  • Ekstra verouder (7-8 maande)
  • Oud (10-12 maande)
  • Baie oud (12 maande en ouer)

In Nederland woud stukkies gouda dikwels met skeppies mosterd geëet. Ouer soorte kry soms suiker of appelstroop op. Baie ou soorte word geniet saam met bier of port.

Verwysings

Eksterne skakels