Gregory Peck

Amerikaanse akteur

Eldred Gregory Peck (5 April 191612 Junie 2003) was ’n Amerikaanse akteur. Tussen die 1940's en 1960's was hy een van die wêreld se gewildste sterre en hy het groot rolle gespeel tot in die laat 1970's. Hy is die bekendste vir sy rol as Atticus Finch in die 1962-rolprent To Kill a Mockingbird, waarvoor hy die Oscar vir beste akteur gewen het. Pres. Lyndon B. Johnson het die Presidensiële Medalje van Vryheid in 1969 aan hom toegeken vir sy lewenslange humanitêre werk. In 1999 het die American Film Institute Peck as no. 12 gelys onder die top-100 sterre van alle tye.

Gregory Peck
'n Beeld van die betrokke persoonlikheid.
Publisiteitsfoto van Peck, 1948.

GeboortenaamEldred Gregory Peck
Geboorte(1916-04-05)5 April 1916
La Jolla, Kalifornië, VSA
Sterfte12 Junie 2003 (op 87)
Los Angeles, Kalifornië
NasionaliteitAmerikaans
Beroep(e)Akteur
Aktiewe jare1942–2000
Internet-rolprentdatabasis-profiel

Vroeë lewe

Peck is in La Jolla, Kalifornië, gebore as die seun van Gregory Pearl Peck, ’n skeikundige en apteker, en Bernice Mae "Bunny" Ayres.[1][2] Sy ouers is geskei toe hy omtrent ses jaar oud was en hy is die volgende paar jaar deur sy ouma aan moederskant grootgemaak.[3]

Sy ouma is dood net nadat Peck op 10-jarige ouderdom by die Katolieke St. John's Military Academy in Los Angeles ingeskryf is en hy het weer by sy pa gaan bly. Op 14 het Peck die Hoërskool San Diego bygewoon.[4] Ná skool het hy vir ’n jaar aan die San Diego-staatsonderwyserskollege studeer en daarna na die Universiteit van Kalifornië, Berkeley verskuif.[5] In sy senior jaar het Peck in vyf toneelstukke verskyn.

Loopbaan

Verhoog

Nadat Peck sy BA-graad in Engels aan Berkeley behaal het, het hy die naam "Eldred" gelos en New York toe gegaan om aan die Neighborhood Playhouse te studeer. In 1940 het hy in ruil vir kos aan die Barter-teater in Abingdon in vyf toneelstukke verskyn. Sy loopbaan het begin toe hy in 1941 in George Bernard Shaw se The Doctor's Dilemma gespeel het. Ongelukkig het dit in San Francisco geopen net ’n week voor die aanval op Pearl Harbor.[6] Hy het in 1942 sy Broadway-debuut gemaak in Emlyn Williams se The Morning Star. Sy tweede rol op Broadway dié jaar was in The Willow and I. Peck was tydens die Tweede Wêreldoorlog in groot aanvraag omdat hy kwytgeskeld is van militêre diens weens ’n rugbesering.

In 1947 het hy saam met Mel Ferrer en Dorothy McGuire die La Jolla Playhouse in sy tuisstad gestig.[7] Dit het van die begin af Hollywood-sterre gelok en bestaan vandag nog.

Rolprente

In die Designing Woman-woonwa.
In The Snows of Kilimanjaro, 1952.

Peck se eerste rolprent, Days of Glory, is in 1944 uitgereik. Hy is in sy eerste vier jaar in rolprente vier keer vir ’n Oscar vir beste akteur benoem – vir The Keys of the Kingdom (1944), The Yearling (1946), Gentleman's Agreement (1947) en Twelve O'Clock High (1949).

Onder sy ander prente was Spellbound (1945), The Paradine Case (1947), The Gunfighter (1950), Moby Dick (1956), The Man in the Gray Flannel Suit (1956), The Guns of Navarone (1961) en Roman Holiday (1953) saam met Audrey Hepburn in ’n rol waarvoor sy ’n Oscar gewen het. Peck en Hepburn was tot met haar dood goeie vriende.

In 1958 het Peck weer saam met die regisseur William Wyler gewerk aan die epiese western The Big Country (1958), waarvan hy die medevervaardiger was. Peck het die Oscar gewen met sy vyfde benoeming, as Atticus Finch in To Kill a Mockingbird. In 2003 is Atticus Finch deur die American Film Institute gekies as die top-rolprentheld van die laaste 100 jaar.[8]

Latere werk

In die 1980's het Peck meer TV-werk gedoen; hy het in die minireeks The Blue and the Gray die rol van Abraham Lincoln vertolk. Hy het ook saam met Christopher Plummer, John Gielgud en Barbara Bouchet in die TV-prent The Scarlet and The Black gespeel.

In 2000 by die Cannes-rolprentfees.

Peck, Robert Mitchum en Martin Balsam het rolle gehad in die 1991-hervervaardiging van Cape Fear deur regisseur Martin Scorsese – al drie was in die oorspronklike 1962-weergawe.

Sy laaste groot rol was in Other People's Money, ook in 1991, van regisseur Norman Jewison. Peck het daarna afgetree en begin toer; hy het grepe uit sy flieks gewys, daaroor gepraat en vrae beantwoord. Hy het een keer weer toneelgespeel, in die 1998-minireeks-weergawe van een van sy grootste prente, Moby Dick – daarin het hy die rol van vader Mapple gespeel (wat in die 1956-weergawe deur Orson Welles vertolk is). Peck se vroeëre rol van kaptein Ahab is deur Patrick Stewart gespeel. Dit was sy laaste optrede en hy het die Golden Globe vir beste manlike byspeler gewen.

Persoonlike lewe

Peck is in Oktober 1942 met die Fins gebore aktrise Greta Kukkonen getroud, by wie hy drie seuns gehad het: Jonathan, Stephen en Carey Paul. Hulle is in 1955 geskei, maar het vriende gebly. Die dag ná sy egskeiding is Peck getroud met Veronique Passani, ’n verslaggewer. Hulle het ’n seun, Anthony, en ’n dogter, Cecilia, gehad.

Peck is op 12 Junie 2003 in sy huis in sy slaap dood.[9]

Filmografie

JaarRolprentRolNotas
1944Days of GloryVladimir
The Keys of the KingdomVader Francis ChisholmOscar-benoeming vir beste akteur
1945The Valley of DecisionPaul Scott
Spellbound John Ballantyne
1946The YearlingEzra "Penny" BaxterGolden Globe vir beste akteur, Oscar-benoeming vir beste akteur
Duel in the SunLewton 'Lewt' McCanles
1947The Macomber AffairRobert Wilson
Gentleman's AgreementPhilip Schuyler GreenOscar-benoeming vir beste akteur
The Paradine CaseAnthony Keane
1949Yellow SkyJames 'Stretch' Dawson
The Great SinnerFedja
Twelve O'Clock HighGenl. Frank SavageOscar-benoeming vir beste akteur
1950The GunfighterJimmy Ringo
1951Captain Horatio HornblowerKapt. Horatio Hornblower
Only the ValiantKapt. Richard Lance
Screen Snapshots: Hollywood Awards
David and BathshebaKoning Dawid
1952The Snows of KilimanjaroHarry Street
The World in His ArmsKapt. Jonathan Clark
1953The Million Pound NoteHenry Adams
Roman HolidayJoe BradleyBAFTA-benoeming vir beste akteur
1954Night PeopleKol. Steve Van Dyke
The Purple PlainBill Forrester
1956The Man in the Gray Flannel SuitTom Rath
Moby DickKapt. Ahab
1957Designing WomanMike Hagen
1958The BravadosJim Douglass
The Big CountryJames McKayOok vervaardiger
1959Pork Chop HillLt. Joseph G. Clemons
Beloved InfidelF. Scott Fitzgerald
On the BeachKmdr. Dwight Lionel Towers, USS Sawfish
1961The Guns of NavaroneKapt. Keith Mallory
1962Cape FearSam Bowden
How the West Was WonCleve Van Valen
To Kill a MockingbirdAtticus FinchOscar-benoeming vir beste akteur, Golden Globe-benoeming vir beste akteur, BAFTA-benoeming vir beste akteur
1963Captain Newman, M.D.Kapt. Josiah J. Newman, MDGolden Globe-benoeming vir beste akteur, drama
1964Behold a Pale HorseManuel Artiguez
1965MirageDavid Stillwell
1966John F. Kennedy: Years of Lightning, Day of DrumsVertellerDokumentêr
ArabesqueProf. David Pollock
1969The Stalking MoonSam Varner
Mackenna's GoldMacKenna
The ChairmanJohn Hathaway
Marooned Charles Keith
1970I Walk the LineSheriff Tawes
1971Shoot OutClay Lomax
1974Billy Two HatsArch Deans
The DoveVervaardiger
1976The OmenRobert Thorn
1977MacArthurGenl. Douglas MacArthurGolden Globe-benoeming vir beste akteur, drama
1978The Boys from BrazilJosef MengeleGolden Globe-benoeming vir beste akteur, drama
1980The Sea WolvesKol. Lewis Pugh
1982The Blue and the GrayAbraham Lincoln
1983The Scarlet and the BlackMonsignor Hugh O'Flaherty
1987Amazing Grace and ChuckPresident
1989Old GringoAmbrose Bierce
Super Chief: The Life and Legacy of Earl WarrenVertellerDokumentêr
1991Other People's MoneyAndrew Jorgenson
Cape FearLee Heller
1993The PortraitGardner Church
1998Moby DickVader MappleTV-minireeks
Golden Globe-benoeming vir beste byspeler

Verwysings

Eksterne skakels