John Williams

John Towner Williams (gebore op 8 Februarie 1932)[1][2][3] is 'n Amerikaanse komponis en dirigent. In 'n loopbaan wat oor sewe dekades strek, het hy van die gewildste, herkenbaarste en mees geprese rolprentmusiek in die geskiedenis geskryf.

John Williams
Williams in 2011, saam met die Boston Pops Orchestra.
Gebore
John Towner Williams

8 Februarie 1932 (1932-02-08) (92 jaar oud)
Queens, New York, VSA
Beroep
  • Komponis
  • dirigent
  • pianis
Jare aktief1952-tans

Williams het 25 Grammys, 5 Oscars, 7 Baftas en 4 Golden Globes gewen. Sy 53 benoemings vir 'n Oscar is die meeste naas dié van Walt Disney. Hy word beskou as een van die grootste komponiste in die rolprentbedryf.[4] Hy is bekend vir sy samewerking met Steven Spielberg en George Lucas, en het ook al saam met talle ander regisseurs gewerk, soos Alfred Hitchcock, Brian de Palma, Robert Altman, Oliver Stone, Richard Donner, Sydney Pollack en Mark Rydell. Hy het 'n baie eiesoortige klank wat romantiese, impressionistiese, atonale en orkesmusiek meng.[5]

Sy vroeë werk as rolprentkomponis sluit in musiek vir The Killers (1964), Valley of the Dolls (1967), Goodbye, Mr. Chips (1969) en The Long Goodbye (1973). Williams word met Spielberg verbind sedert sy prent The Sugarland Express van 1974, en het die musiek geskryf vir al sy rolprente buiten vyf. Spielberg het hom by Lucas aanbeveel, en dié het hom gehuur vir Star Wars.

Sy eerste Oscar was vir die beste oorspronklike musiek vir Fiddler on the Roof (1971). Ander sluit in vir die rolprente Jaws (1975), Star Wars (1977), E.T.: The Extra Terrestrial (1982) en Schindler's List (1993). Nog van sy musiek wat lank onthou sal word, was vir Close Encounters of the Third Kind (1977), Raiders of the Lost Ark (1981), Indiana Jones and the Temple of Doom (1984), Indiana Jones and the Last Crusade (1989), Hook (1991), Jurassic Park (1993), Saving Private Ryan (1998), A.I. Artificial Intelligence (2001), Lincoln en The Fabelmans (2022).[6] Williams het ook die musiek geskryf vir Superman (1978), die eerste twee Home Alone-prente en die eerste drie Harry Potter-prente. Sy motief vir "Hedwig's Theme" is egter in al agt prente gebruik.

Williams het ook verskeie klassieke concerto's en werk vir orkesensembles en solo-instrumente geskryf. Hy was van 1980 tot 1993 die Boston Pops Orchestra se hoofkomponis.[7]

In 2005 het die Amerikaanse Rolprentinstituut Williams se musiek vir 1977 se Star Wars gekies as die beste rolprentmusiek van alle tye. Die Library of Congress het die Star Wars-klankbaan in die Nasionale Opnameregister opgeneem as "kultureel, histories en esteties belangrik".[8]

Verwysings

Skakels