Khmer Rouge

Die Khmer Rouge (Frans vir "Rooi Khmer"; Khmer: ខ្មែរក្រហម, Khmer Kror-Horm) was die gewilde naam wat aan die volgelinge van die Kommunistiese Party van Kambodja (KPK) gegee is en by uitbreiding aan die regering waardeur die KPK Kambodja tussen 1975 en 1979 regeer het.

Khmer Rouge
ខ្មែរក្រហម
Die vlag van Demokratiese Kampuchea.
Die vlag van Demokratiese Kampuchea.
Soort organinasieRebellebeweging
Aktief1951-1999
Bewind1975-1979
IdeologieëKommunisme[1]
Ultranasionalisme[2]
Outargie[1][2]
LeierPol Pot
HoofkwartierPhnom Penh
PosisieVerlinks[3][4]

Geskiedenis

Die Khmer Rouge-leër is in die laat 1960's stelselmatig in die woude van Oos-Kambodja opgebou. Hulle is ondersteun deur die Noord-Viëtnamese leër, die Viëtkong en die Pathet Lao. Die Khmer Rouge het die Kambodjaanse burgeroorlog gewen toe hulle in 1975 die hoofstad ingeneem en die regering van die Khmerrepubliek vervang het.

Pol Pot in 1978.

Ná hul oorwinning het die Khmer Rouge, onder leiding van Pol Pot en ander, die land hernoem tot Demokratiese Kampuchea en dadelik begin om die land se groot stede onder dwang te ontruim. Eindelik is honderdduisende van hul gewaande politieke teenstanders uitgewis: Dit het gelei tot die dood van 1,5 miljoen tot 3 miljoen mense, sowat 25% van Kambodja se bevolking.

Die Khmer Rouge-regime was hoogs outokraties, xenofobies, paranoïes en onderdrukkend. Die volksmoord was deels weens die regering se beleide van sosiale manipulasie.[5] Sy pogings tot landbouhervorming deur kollektivisme het tot grootskaalse hongersnood gelei, terwyl sy aandrang op selfonderhoud, selfs in die verskaffing van medisyne, gelei het tot die dood van baie duisende mense weens siektes soos malaria wat behandelbaar is.

Die regime se rassistiese klem op volksuiwerheid het tot gevolg gehad dat verskeie Kambodjaanse minderhede uitgemoor is. Sy kaders het ook lukrake teregstellings en martelings uitgevoer teen gewaande ondermynende elemente, of tydens volksuiwerings[6] in sy eie geledere tussen 1975 en 1978.

Die regime is in 1979 uit die kussings gelig toe Viëtnam Kambodja binneval en gou die grootste deel van die Khmer Rouge se leërs vernietig het. Die Khmer Rouge het daarna na Thailand gevlug, waar die regering van dié land hulle beskou het as ’n buffer teen die Kommunistiese Viëtnamese. Die Khmer Rouge het voortgegaan om teen die Viëtnamese en die regering van die nuwe Volksrepubliek Kampuchea te veg tydens die Kambodjaans-Viëtnamese Oorlog, wat in 1989 geëindig het.

In 1996 is ’n nuwe politieke party, die Beweging vir Demokratiese Nasionale Eenheid, gestig deur Ieng Sary, wat amnestie gekry het vir sy rol as onderleier van die Khmer Rouge.[7] Teen die middel 1990's was die Khmer Rouge grootliks ontbind en in 1999 het hulle eindelik heeltemal oorgegee.[8] Hulle het in Desember 1999 finaal ontbind.

Verwysings

Eksterne skakels