Kordylewski-wolke

Die Kordylewski-wolke, ook spookmane genoem, is konsentrasies stof wat by die punte L4 en L5 van die Aarde-Maan-stelsel voorkom.[1][2][3]

'n Diagram wys die Lagrangepunte van die Aarde-Maan-stelsel. Kordylewski-wolke bestaan in die streke L4 en L5.

Hulle is in die 1960's die eerste keer aangemeld deur die Poolse sterrekundige Kazimierz Kordylewski, en die bestaan daarvan is in Oktober 2018 deur die Konininklike Sterrekundige Vereniging bevestig.[2][3][4]

Ontdekking en waarneming

Kordylewski het in 1951 begin soek na 'n fotometries bevestigbare konsentrasie stof by die Lagrange-punte.[5][6]

Nadat Josef Witkowski 'n verandering van metode voorgestel het, het Kordylewski die wolke in 1956 die eerste keer gesien.[7] Tussen 6 Maart en 6 April 1961 het hy twee helder kolle naby die L5-punt afgeneem. In die tyd van waarneming het dit skaars gelyk of die twee kolle beweeg het met betrekking tot L5.[6]

In 1967 het J. Wesley Simpson die wolke met behulp van die Kuiper-lugsterrewag gesien.[8] In Oktober 2018 is berig die bestaan van die Kordylewski-wolke is deur die Konininklike Sterrekundige Vereniging bevestig.[2][3][4] In 1992 het die Japannese Hiten-ruimtetuig egter deur die Lagrange-punte gevlieg en geen stofdeeltjies waargeneem wat digter as die omringende ruimte was nie.[7][9]Dit ontken egter nie die wolke se bestaan nie, want Hiten het net vir een omwenteling om elke punt gebly en kon die wolke misgekyk het.[10]

Om dié uiters dowwe wolke te kon sien is polarimetrie gebruik. Dit is opsporing deur middel van hulle polarisasiepatrone en nie hoofsaaklik hulle helderheid nie.[2]

Voorkoms

Die Kordylewski-wolke is 'n baie dowwe verskynsel, wat met die helderheid van die gegenschein vergelyk kan word.[11] Dit is baie moeilik om hulle van die Aarde af te sien,[7] maar hulle sal op 'n baie donker en helder nag met die blote oog sigbaar kan wees. Die meeste aangetekende waarnemings is gedoen uit woestyne, ter see en van berge af.[11] Die wolke lyk effens rooier as die gegenschein, wat daarop dui dat hulle uit 'n ander soort deeltjie bestaan.[7]

Die Kordylewski-wolke kom naby die L4- en L5-punt van die Aarde-Maan-stelsel voor. Hulle skynbare grootte is omtrent 6 grade.[7] Die wolke kan tot 6 of 10 grade van dié punte af dryf.[11] Volgens ander waarnemings beweeg hulle tussen die L-punte rond met sowat 6 by 2 grade.[7]

Sien ook

Verwysings

Nog bronne

Skakels