Mini-Neptunus

'n Mini-Neptunus (soms bekend as 'n gasdwerg of oorgangsplaneet) is 'n planeet met 'n kleiner massa as Neptunus, maar wat soos Neptunus lyk deurdat dit 'n dik atmosfeer van waterstof en helium het, moontlik met diep lae ys, rots of vloeibare oseane (van water, ammoniak, 'n mengsel van die twee of swaarder vlugtige stowwe).[1]

'n Kunstenaar se voorstelling van 'n mini-Neptunus, of "gasdwerg".

'n Gasdwerg is 'n gasplaneet met 'n rotsagtige kern wat 'n dik bedekking van waterstof, helium en ander vlugtige stowwe versamel het, met 'n totale radius van tussen 1,7 en 3,9 aardradiusse (1,7-3,9 R🜨). Die term word gebruik in 'n drielaag-, metaalgebaseerde klassifikasiewyse vir kortperiode-eksoplanete wat ook die rotsagtige, aardagtige planete insluit met 'n radius van kleiner as 1,7 R🜨 of groter as 3,9 R🜨, naamlik ys- en gasreuse.[2]

Eienskappe

Teoretiese studies oor sulke planete is losweg gegrond op kennis van Uranus en Neptunus. Sonder 'n dik atmosfeer sou dit eerder as 'n oseaanplaneet geklassifiseer word.[3] 'n Geraamde onderskeid tussen 'n aard- en gasplaneet is sowat 1,6-2 R🜨.[4][5] Planete met groter radiusse en massas het meestal 'n lae digtheid en 'n uitgebreide atmosfeer is nodig om terselfdertyd hulle massa en radius te verduidelik. Waarnemings toon planete van groter as sowat 1,6 aardradiusse (en 'n groter massa as sowat 6 aardmassas of 6 M🜨) bevat aansienlike hoeveelhede vlugtige stowwe of waterstof-helium-gas, wat waarskynlik tydens vorming versamel is.[6][1] Dit lyk of sulke planete uiteenlopende samestellings het wat nie goed verduidelik kan word aan die hand van 'n enkele massa-radius-verhouding soos dié van digter, rotsagtige planete nie.[7][8][9]

Die laer limiet vir massa kan aansienlik wissel vir verskillende planete na gelang van hulle samestelling; die massa kan wissel van 1-20 M🜨. Kleiner gasplanete en planete nader aan hulle moederster sal atmosferiese massa vinniger verloor as groter planete en planete verder weg.[10][11] 'n Gasplaneet met 'n klein massa kan steeds 'n radius hê wat ooreenkom met dié van 'n gasreus as dit die regte temperatuur het.[12]

Neptunusagtige planete word beskou as minder volop as sub-Neptunusse, al is hulle net effens groter.[13][14] Dit is vermoedelik omdat die atmosfeer van planete van dié grootte tydens vorming, wanneer gas versamel word, die druk bereik wat nodig is om waterstof in die magmaoseaan te forseer en dus radiusgroei belemmer. Wanneer die magmaoseaan versadig is, kan radiusgroei voortgaan. Planete wat genoeg gas het om versadig te raak, is egter veel skaarser, want hulle het baie meer gas nodig.[13]

Voorbeeld

Die kleinste bekendse eksoplaneet wat 'n gasdwerg kan wees, is Kepler-138d. Dit het 'n kleiner massa as die Aarde, maar sy volume is 60% groter. Dus het dit 'n digtheid (2,1(+2,2/-1,2) gram per cm3) wat dui op 'n aansienlike waterinhoud[15] of moontlik 'n dik gasbedekking.[16]

Sien ook

Verwysings

Nog leesstof

Skakels