Naeltjie

’n Naeltjie is ’n uitstaande, plat of hol plek aan die abdomen waar die naelstring vas was.[1] Alle plasentale soogdiere, insluitende die mens, het ’n naeltjie.[2]

Naeltjie
Inligting en eksterne bronne
Die naeltjie is ’n uitstaande, plat of hol litteken wat oorbly nadat die naelstring geknip is.
Die naeltjie is ’n uitstaande, plat of hol litteken wat oorbly nadat die naelstring geknip is.
Inligting
LatynUmbilicus
LiggingAbdomen
SlagaarNaelslagaar
AarNaelaar
Eksterne bronne
MeSHD014472
FMA61584
Die naeltjie is in die middel van die sirkel op hierdie skets van die Vitruviaanse Man deur Leonardo da Vinci.

Struktuur

Die naeltjie word gebruik om die abdomen in kwarte te verdeel.[3]

Dit is ’n prominente litteken aan die abdomen en sit by alle mense min of meer op dieselfde plek. Die vel om die middel in die omgewing van die naeltjie word verskaf deur die tiende rugmurgsenuwee (T10-dermatoom) in die bors.

Die naeltjie self lê gewoonlik op ’n vertikale vlak wat ooreenstem met die hegpunt tussen die L3- en L4-werwel,[4] maar dit word as normaal beskou as dit tussen die L3- en L5-werwel lê.[5]

Dele van ’n volwasse mens se naeltjie sluit in die oorblyfsel of punt van die naelstring, wat die litteken is van waar die naelstring vas was. Dit is in die middel van die naeltjie geleë. Om die oorblyfsel van die naelstring is die "naelkraag", wat gevorm word deur die digte, veselagtige naelstringring. Reg agter die naeltjie is ’n dik, veselagtige koord wat uit die naelstring gevorm het, die urachus, wat uit die blaas loop.[6]

Vorms

Elke individu se naeltjie is uniek omdat dit ’n litteken is, en mediese praktisyns het verskeie algemene vorms geklassifiseer.[7][8]

Gemeenskap, kultuur en mode

’n Vrou en man met ’n kort top wat die naeltjie wys.

Met tye in die verlede is die ontbloting van mans en vroue se maag en naeltjie in die Westerse kultuur as taboe beskou. Die ontbloting van ’n vrou se naeltjie is in sekere gemeenskappe verbied, maar menings het sodanig verander dat dit nou aanvaarbaar is.[9] ’n Kort toppie wat die naeltjie wys, is algemeen onder mense van albei geslagte.[10]

Oor die ontbloting van die manlike naeltjie is selde gefrons en dit het in onlangse jare weer gewild geraak vanweë die terugkeer van kort tops en gaatjies deur die naeltjie.[11] Die maag en naeltjie is ook sigbaar wanneer ’n bikini of broek met ’n lae middel gedra word.

In ander dele van die wêreld soos Indië,[12] Japan[13] en die Levant[14] is die ontbloting van vroue se naeltjie lank reeds aanvaarbaar.

Kliniese oorwegings

Uitstaande naeltjies word soms verkeerdelik aangesien vir ’n ingewandsbreuk, maar is onskadelik – anders as ’n ingewandsbreuk. Dit kan wel ’n breuk wees as die uistaande deel 5 cm of langer is. ’n Onverwagte verandering van die vorm van die naeltjie kan dui op buikwatersug.[15]

Verwysings

Eksterne skakels