Papenburg

Papenburg [ˈpaːpn̩bʊɐ̯k] is 'n stad in die administratiewe distrik Emsland van die Noord-Duitse deelstaat Nedersakse, geleë aan die Eemsrivier. Papenburg is in die eerste helfte van die 17de eeu as sogenaamde veendorp gestig - 'n nedersetting in 'n uitgestrekte moerasgebied wat deur koloniste droog gelê is. Woongeboue het geleidelik langs kanale ontstaan, sonder 'n funksionele middestad. Winkels en openbare geboue is dus oor meerdere stadsdele versprei. Die stadsnaam is afgelei van 'n waterkasteel (Papenborch) wat omstreeks 1250 deur die biskop van Münster hier opgerig is.

Papenburg

KaartWapen
Vlag
 LandVlag van Duitsland Duitsland
 Deelstaat Nedersakse
 Koördinate53°4′N 7°24′O / 53.067°N 7.400°O / 53.067; 7.400
 Stigting17de eeu
 Stadstatus1 Augustus 1860
 Oppervlakte: 
 - Totaal118,41 vk km
 Hoogte bo seevlak6 m
 Bevolking: 
 - Totaal (31 Desember 2018)37 579
 - Bevolkingsdigtheid317/vk km
 TydsoneUTC +1 (MET)
 - SomertydUTC +2 (MEST)
 BurgemeesterJan Peter Bechtluft (CDU)
 Amptelike Webwerfpapenburg.de
'n Lugaansig van die Meyer-Werft

Die oorsprong van die huidige stadsdeel Aschendorf strek verder terug. Hier is omstreeks 800 'n doopkerk gevestig. Die Emsland, waarvan die stad deel uitmaak, is een van min oorwegend Rooms-Katolieke streke in Noord-Duitsland. Sy bande met die Rooms-Katolieke Kerk spruit uit sy politieke geskiedenis as deel van die Vorsbisdom Münster in Wesfale voort.

Dit staan veral bekend vir een van die grootste skeepswerwe ter wêreld wat op plesierbote fokus, die Meyer-Werft, 'n onderneming wat sedert 1795 in familiebesit is. Die bou en tewaterlating van reuse oseaanskepe het tot toeristeaantreklikhede ontwikkel. Nog tot in die vroeë 21ste eeu het Papenburg ook as die «Gordynehoofstad van Duitsland» bekend gestaan. In 1954 is Europa se voorste vervaardiger van gordyne, ADO Goldkante, in die stadsdeel Aschendorf as familie-onderneming gestig. Aschendorf het sy naam aan die onderneming en handelsmerk verleen. In sy laaste jare het die gordynefabriek as Deutsche Textilfabrik (DTF) bekend gestaan. Die aanleg se sluiting op 28 Februarie 2014 het die laaste 300 medewerkers werkloos gelaat.[1]

Verwysings

Eksterne skakels