Europa

Vasteland wat oor die westelike vyfde van die Eurasiese landmassa strek

Europa (afgelei van Grieks Εὐρώπη of Eurṓpē) is 'n vasteland wat oor die westelike vyfde van die Eurasiese landmassa strek. Alhoewel dit in geografiese opsig eerder as subkontinent geklassifiseer kan word wat saam met Asië die vasteland van Eurasië vorm, word dit vanweë sy historiese en kulturele ontwikkeling meestal as selfstandige kontinent beskou. Eeue lank was Europa in kulturele en ekonomiese opsig die middelpunt van die wêreld. So het die term Europa naas sy geografiese definisie ook betrekking op kulturele, politieke, ekonomiese, regtelike en ideële aspekte.

Europa
Ligging van Europa op 'n wêreldkaart
Oppervlakte10 180 000 km² (6de)
Bevolking742 452 000 (2013, 3de)
Bevolkingsdigtheid73/km²
Lande~50 (en ~5 omstrede)
Afhanklike gebiede6
TaalfamiliesIndo-Europees
Oeraals
Turks
Baskies
Semities
Noordwes-Kaukasies
Noordoos-Kaukasies
Mongools
TydsonesUTC-1 (Ysland) tot UTC+4 (Rusland)
Grootste stedeVlag van Turkye Istanboel (transkontinentaal)
Vlag van Rusland Moskou
Vlag van Frankryk Parys
Vlag van Verenigde Koninkryk Londen
Vlag van Spanje Madrid
Vlag van Spanje Barcelona
Vlag van Rusland Sint Petersburg
Vlag van Italië Rome
Vlag van Duitsland Berlyn
Portaal Europa
Vir die vierde grootste maan van die planeet Jupiter, sien Europa (maan).

Naam

Die naam Europa strek in sy Griekse vorm Εὐρώπη ver terug. Hier is die term Eurṓpē meestal as 'n samestelling van die Oud-Griekse εὐρύς (eurýs, "wyd") en ὄψ (óps, "sig, gesig") opgevat – dus was Eurṓpē "die (vrou) met die wye sig".

Volgens die Griekse mitologie was Europa die naam van 'n Fenisiese koningsdogter wat deur die god Zeus in die gestalte van 'n stier swemmend na die eiland Kreta ontvoer en daar deur hom verlei is. Sommige etimoloë neem aan dat hierdie naam oorspronklik aan 'n Semitiese taal ontleen en daarna vergrieks is.[1] Dit is moontlik van die Fenisiese erob "donker" of "aand" afgelei.

Geografie

'n Satellietfoto van Europa (ortografiese projeksie)

Europa word deur die Bosporus en die Dardanelle van Klein-Asië geskei en deur die Middellandse See en die Straat van Gibraltar van Afrika. In die weste word dit deur die Atlantiese Oseaan en in die noorde deur die Noordoostelike Yssee begrens. In die suide, weste en noorde strek seearms van die Atlantiese Oseaan diep in die landmassa in en maak van Europa die vasteland met die mees onreëlmatige kuslyn – die hartland word deur talle skiereilande en eilande omring.

In die ooste is daar geen presiese geografiese of geologiese grens tussen Europa en Asië nie. Die "grense van Europa" word dus as gevolg van maatskaplike konvensies bepaal, terwyl 'n geografiese definisie van Europa steeds willekeurig is. So het die Franse filosoof Bernard-Henri Lévy opgemerk dat Europa eerder 'n "gedagte" sou wees as 'n plek.

Die Sweedse offisier en aardrykskundige maar Duitse boorling Philip Johan von Strahlenberg (1676–1747) het die Oeralgebergte en -rivier as die oostelike grens van Europa gedefinieer. Tussen die Kaspiese See en die Swart See loop die grenslyn noord van die Kaukasus-gebergte.

Europa strek oor 'n oppervlakte van sowat 10,5 miljoen vierkante kilometer en is dus die tweede kleinste vasteland ná Australië. Die mees noordelike punt van die Europese vasteland lê op die skiereiland Nordkinn in Noorweë, die mees suidelike is die Punta de Tarifa in Spanje, die mees westelike die Cabo da Roca in Portugal. In noord-suidelike rigting strek die vasteland oor 'n afstand van sowat 3 800 kilometer, in oos-westelike rigting oor sowat 6 000 kilometer, vanaf die Oeralgebergte in Rusland tot by die Atlantiese kus van Portugal.

Topografie

Wes-Europa kan rofweg in drie groot landskapsvorme verdeel word: die vlaktes van die noordweste en noorde, die laer bergreekse en die relatief jong hoë bergreeks wat nog gedeeltelik vergletser is en vanuit die Pireneë-bergreeks langs die Frans-Spaanse grens oor die Alpe van Sentraal-Europa tot by die Karpate-bergreeks strek. Hieraan sluit aan: die Pireneë-, Apennyne- en Balkanskiereilande in die suide, Skandinawië, Jutland en die Britse Eilande in die noorde. Oos-Europa is 'n wydgestrekte en amper eenvormige vlakte wat van die Noordelike Yssee tot by die Swart See strek.

Waterliggame

Finland is eweneens bekend as "die Land van die Duisend Mere".[2][3]

Die meeste groot Europese riviere het dwarsdeur die jaar genoeg water om as belangrike waterweë en lewensare te dien. Baie van hulle word deur kanale met mekaar verbind. Die meeste Europese mere is in die vroeër vergletserte gebiede van Noord-Europa en aan die voet van die Alpe geleë. Die langste riviere is Wolga (3 531 km), Donau (2 858 km), Dnjepr (2 201 km) en onder meer die Ryn (1 320 km); die grootste mere sluit die Ladogameer (17 700 km²), Onegameer (9 720 km²) en Vänernmeer (5 584 km²) in.

Klimaat

Sneeu op die kerkhof van Mariazell, Oostenryk

Vanweë die nou verbinding tussen land en see en die bergreekse wat van wes na oos loop word Europa in klimatiese opsig deur die heersende westelike winde en die matigende invloed van die warm Golfstroom gekenmerk – so trek die vasteland voordeel uit baie gunstige klimaattoestande met 'n gematigde seeklimaat wat dwarsdeur die jaar reënval verseker, soms selfs jaarlikse neerslae van meer as 2 000 millimeter. Die gemiddelde jaarlikse temperatuur in Bordeaux, Suidwes-Frankryk beloop byvoorbeeld 12,8 °C, terwyl Halifax in die Kanadese provinsie Nova Scotia met slegs 6,3 °C merkbaar koeler is – ofskoon dit op dieselfde breedtegraad lê.

Hierdie seeklimaat gaan eers ver in die ooste en suidooste in 'n kontinentale klimaat met groter seisoenale temperatuurskommelinge en somerreën met soms minder as 500 millimeter per jaar oor. Net die gebied suid van die Alpe-bergreeks strek tot in die subtropiese sone met droë somers en winterreën, die sogenaamde Mediterreense klimaat. Die uiterste noorde van Europa het 'n Arktiese klimaat.

Demografie

Verspreiding van tale in Europa
Bevolkingsgroei in en rondom Europa in 2010[4]

In 2017 is die bevolking van Europa deur die Verenigde Nasies rondom 742 miljoen geskat,[5] wat effens meer as een negende van die wêreldbevolking is. Hierdie getal sluit Siberië (ongeveer 38 miljoen mense) in, maar die Europese Turkye (ongeveer 12 miljoen) is uitgesluit.

In die 20ste eeu het Europa byna 'n kwart van die wêreldbevolking gehad.[6] Die bevolking van Europa het in die afgelope eeu gegroei, maar in ander wêrelddele (veral Afrika en Asië) het die bevolking vinniger gegroei.[7] Onder die vastelande het Europa 'n relatiewe hoë bevolkingsdigtheid, tweede net na Asië. Die grootste deel van Europa is in 'n modus van sub-vervangingsvrugbaarheid, wat beteken dat elke nuwe (gebore) generasie minder bevolk word as die ouer.

Volgens taal en historiese ontwikkeling word 95 persent van die bewoners by die Indo-Europese volksgroepe gereken (waarvan 'n derde Germane en Kelte, 'n derde Slawiërs, 'n kwart Romane en kleiner groepe van Grieke, Albanese en Balte), vyf persent is Fins-Oegriese volke.

Ná die laaste kouetydperk het talle volksgroepe hulle in Europa gevestig en oor die eeue met mekaar vermeng. Die Christelike beskawing (met Rooms-Katolieke, Protestante en Ortodokse) vorm die basis vir die oorgrote meerderheid van Europese kulture.

Europa is 'n dig bevolkte en verstedelikte vasteland. Sy nywerheidsgebiede word deur 'n baie hoë bevolkingsdigtheid van tussen 250 en meer as 1 000 inwoners per km² gekenmerk, veral dele van die Verenigde Koninkryk, Noord-Frankryk en Duitsland, Nederland, Noord-België, Noord-Italië, Opper-Silesië in Suidwes-Pole en dele van Oekraïne. Daarenteen is die bergstreke, Noord- en Oos-Europa met soms minder as 10 inwoners per km² yl bevolk. Die digbevolkste land in Europa (en in die wêreld) is die mikrostaat Monaco.

Politiek

Die politieke kaart van Europa is aansienlik afgelei van die herorganisasie van Europa na die Napoleontiese Oorloë in 1815. Die heersende vorm van regering in Europa is parlementêre demokrasie, in die meeste gevalle in die vorm van 'n republiek. In 1815 was die heersende vorm van regering nog steeds die monargie. Europa se oorblywende elf monargieë (behalwe die mikrostaat van Vatikaanstad) is grondwetlike monargieë.

Europese integrasie is die proses van politieke, wettige, ekonomiese (en in sommige gevalle sosiale en kulturele) integrasie van Europese lande, aangesien dit voortgesit word deur die magte wat die Raad van Europa geborg het sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog.

Die Europese Unie is, sedert sy stigting in 1993, die fokus van ekonomiese integrasie op die kontinent. Meer onlangs is die Eurasiese Ekonomiese Unie tot stand gebring as 'n eweknie wat uit voormalige Sowjetstate bestaan.

27 Europese lande is lede van die politiek-ekonomiese Europese Unie, 26 van die grensvrye Schengen-gebied en 19 van die monetêre unie Eurosone. Onder die kleiner Europese organisasies is die Nordiese Raad, Benelux, die Baltiese Vergadering en die Visegrád-groep.

Ekonomie

Steenkoolaangedrewe stoomenjins het die nywerheidsomwenteling in Engeland en ander dele van Europa aangedryf

In die 19de eeu het Europa danksy die nywerheidsomwenteling, wat sy aanvang in Engeland geneem en later oor die hele vasteland uitgebrei het, die leidende rol in die wêreldekonomie gespeel. Ná die Tweede Wêreldoorlog het Europa se ekonomiese struktuur as gevolg van die vasteland se verdeling in markekonomieë (in Wes-Europa) en sosialistiese plan-ekonomieë (in Oos-Europa) ingrypend verander. Hierdie verdeling is eers met die politieke omwenteling van 1989/90 geleidelik oorkom.

'n Verskeidenheid instellings en organisasies, soos die Europese Vryehandelsone EFTA en die Europese Ekonomiese Gemeenskap EEG (die huidige Europese Unie) bygedra tot Europa se vinnige ekonomiese groei wat in baie dele van die kontinent tot in die 1970's en 1980's voortgeduur het. Kenmerkend vir Europa se ekonomie is die sterk handelsbande met ander wêrelddele.

Die Europese landbousektor is grotendeels gemeganiseer en produseer groot oorskotte. Belangrike agrariese produkte van Europa sluit graan, aartappels, suikerbeet en voerplante asook bees-, vark- en skaapvleis. Italië en Frankryk is ook op wêreldvlak die beduidendste wynprodusente.

Europa het 'n wye verskeidenheid natuurlike hulpbronne, alhoewel die ontginning tans stagneer of afneem. So word weens die sterk vraag na ru-olie en aardgas minder steenkool ontgin. Daar is belangrike voorkomste van bruinkool, ystererts, kalisoute en metale. Groter olievelde word in die Noordsee, in Rusland en Roemenië aangetref, terwyl aardgas veral in 'n aantal Wes-Europese lande ontgin word.

Europa is die tweede grootste nywerheidsmag ter wêreld ná Noord-Amerika. Sy nywerhede het aanvanklik veral in gebiede met beduidende natuurlike hulpbronne ontwikkel – hierdie streke is tot vandag die mees digbevolkte dele van die vasteland. Ander belangrike industriële sentrums het in seehawens, groot handelstede en ander nedersettings langs handelsroetes ontwikkel. Hier word onder meer verwerkende nywerhede, tekstiel- en metaalfabrieke, masjienbou, elektriese-, papier- en voedselnywerhede asook drukkerye aangetref. Die vervaardiging van plastiek en elektroniese goedere toon sterk groei.

Ru-olie, aardgas en kernkrag voorsien in die stygende vraag na energie. Hernubare energiebronne soos wind- en sonkrag speel 'n steeds belangriker rol, terwyl waterkrag veral in die Alpelande, in Skandinawië, in Oekraïne en Rusland aangewend word.

Rasionalisering en die verskuiwing van werksgeleenthede na ekonomieë met laer kostestrukture het in dele van Europa tot grootskaalse deïndustrialisasie en die groei van tersiêre bedrywe gelei wat produksie-georiënteer (navorsing, besigheidsadvies, advertensiebedryf en ander) of verbruikers-georiënteer (opleiding, vryetydsaktiwiteite en vermaak) kan wees.

Met die Verdrag van Maastricht het in 1999 aanvanklik twaalf lidstate van die Europese Unie saamgesluit om 'n monetêre unie te vorm. Vanaf 1 Januarie 2002 is Euro-banknote en -muntstukke ingevoer. Die Europese geldeenheid is tans die wettige betaalmiddel in 16 EU-lidlande en ses ander Europese state.

Lande van Europa

Hoofartikel: Lys van Europese lande.
Die lande van Europa met vlae
Politiese kaart van Europa
Die Verenigde Nasies se indeling van Europa in substreke:[8]
██ Noord-Europa ██ Wes-Europa ██ Oos-Europa ██ Asiatiese gedeelte van Rusland ██ Suid-Europa ██ Lande van Wes-Asië met gedeeltelike gebied in Suid-Europa: Turkye ██ Asiatiese gedeeltes van hierdie lande ██ Lande van Wes-Asië met gedeeltelike gebied in Oos-Europa: Georgië en Azerbeidjan ██ Asiatiese gedeeltes van hierdie lande ██ Lande van Sentraal-Asië met gedeeltelike gebied in Oos-Europa: Kasakstan ██ Asiatiese gedeeltes van hierdie lande
Die Central Intelligence Agency se The World Factbook-indeling van Europa in substreke:
██ Noord-Europa ██ Wes-Europa ██ Sentraal-Europa ██ Suid-Europa ██ Suidoos-Europa ██ Suidwes-Europa ██ Oos-Europa
Indeling van Europa in substreke volgens kulturele kriteria
Naam van streek en gebied, met vlag [9]Oppervlak
(km²)
Bevolking[10]JaarBevolkingsdigtheid
(per km²)
Hoofstad
Noord-Europa
 Åland (Finland)1 58028 666201318Mariehamn
 Denemarke42 9235 707 2512016133Kopenhagen
 Estland45 3391 311 759201628Tallinn
 Faroëreilande (Denemarke)1 39949 709201336Tórshavn
 Finland338 4245 486 125201518Helsinki
 Letland64 5891 973 700201434Riga
 Litaue65 3002 884 840201645Vilnius
 Noorweë385 1785 214 900201616Oslo
 Swede450 2959 851 017201522Stockholm
 Ysland102 775329 10020153Reykjavik
Oos-Europa
 Armenië29 7433 018 8542011102Jerewan
 Azerbeidjan86 6009 624 9002015106Bakoe
 Georgië69 4203 729 500201554Tbilisi
 Kasakstan2 724 90017 563 30020156Astana
 Roemenië238 39120 121 641201184,4Boekarest
 Moldowa33 8462 913 2812014105Chişinău
 Oekraïne603 50044 429 471201574Kiëf
 Rusland17 098 242144 192 45020158Moskou
 Belarus207 5959 498 700201646Minsk
Sentraal-Europa
 Duitsland357 16881 459 0002015227Berlyn
 Hongarye93 0309 855 5712015107Boedapest
 Liechtenstein16037 3402014227Vaduz
 Oostenryk83 8798 662 5882015101Wene
 Pole312 67938 483 9572014123Warskou
 Slowakye49 0355 415 9492013111Bratislava
 Slowenië20 2732 063 0772015102Ljubljana
 Switserland41 2858 211 7002014198Bern (de facto)
 Tsjeggië78 86610 541 4662015134Praag
Suid-Europa
 Albanië28 7482 821 9772010111Tirana
 Andorra46884 0822010180Andorra la Vella
 Bosnië en Herzegowina51 1294 613 414201090Sarajevo
 Bulgarye110 9947 364 570201077Sofia
 Gibraltar (Verenigde Koninkryk)6,829 43120104 328Gibraltar
 Griekeland131 99011 295 002201085Athene
 Italië301 33860 418 7112010201Rome
 Kosovo10 9081 859 2032010170Pristina
 Kroasië56 5944 489 409201081Zagreb
 Noord-Masedonië25 7132 114 550201082Skopje
 Malta316412 96620101 307Valletta
 Montenegro13 812672 181201050Podgorica
 Portugal92 09011 317 1922010114Lissabon
 San Marino6131 7162010501San Marino
 Serwië77 4747 120 6662010102Belgrado
 Spanje504 03046 030 109201093Madrid
 Turkye783 56278 741 0532010102Ankara
 Vatikaanstad0,4482620101 877Vatikaanstad
Wes-Europa
 België30 52811 190 8452015364Brussel
 Man (eiland)57284 4972011148Douglas
 Frankryk643 80166 644 0002016116Parys
 Guernsey7865 8492014844Saint Peter Port
 Ierland70 2734 635 400201565Dublin
 Jersey11899 5002014819Saint Helier
 Luxemburg2 586562 9582015194Luxemburg-stad
 Nederland41 54316 971 452201518Amsterdam
 Verenigde Koninkryk242 49564 716 0002015256Londen
Europa Totaal10 180 000742 452 0002013213

Sien ook

Verwysings

Eksterne skakels


Kontinente van die wêreld


Afrika-Eurasië

Amerikas

Eurasië

Oseanië


Afrika

Antarktika

Asië

Australië

Europa

Noord-Amerika

Suid-Amerika

Geologiese superkontinente : Gondwana · Laurasië · Pangaea · Rodinia · Ur · Vaalbara