Patriarg Nikon van Moskou

Patriarg Nikon (Russies: Ни́кон; Oudslawies: Нїконъ) is op 7 Mei 1605 gebore as Nikita Minin (Никита Минин) en was ’n Russiese geestelike. Hy was van 1652 tot 1666 die sewende patriarg van die Russies-Ortodokse Kerk. In 1667 het hy ’n skeuring (Russies: раскол; raskol) in die kerk gebring met sy hervormings.

Patriarg Nikon
KerkRussies-Ortodokse Kerk
SetelMoskou
Termyn25 Julie 165212 Desember 1666
RussiesНикон
Kerkampte
VoorgangerPatriarg Josef
OpvolgerPatriarg Joasaf II
Persoonlike besonderhede
Geboortenaam  Nikita Minin
(Никита Минин)
Gebore7 Mei 1605
GeboorteplekWeldemanowo, Rusland
Oorlede17 Augustus 1681
SterfteplekJaroslawl
NasionaliteitRussies
Portaal  Portaalicoon  Rusland

Agtergrond

In 987 het grootprins Wladimir I van Kiëf die Christelike geloof aanvaar nadat die Oosters-Ortodokse gebruike van die Bisantynse kerk hom beïndruk het. Rusland het die dienste, evangelie, sakramente en rites van die Ortodokse Kerk aangeneem.

Teen die middel van die 17de eeu het Griekse en Russiese kerkamptenare, insluitend patriarg Nikon, agtergekom daar is verskille tussen gebruike in die Russiese en die res van die Ortodokse kerke. Hulle het tot die gevolgtrekking gekom dat die Russiese Kerk rites ontwikkel het wat verskil van die oorspronklike Ortodokse Kerk.

Skeuring

Nikon, wat ondersteun is deur tsaar Aleksei, wat van 1645 tot 1676 regeer het, het in 1652 ’n sinode saamgestel om Russiese en Griekse liturgiese boeke met mekaar te vergelyk. In 1666 het ’n tweede sinode van patriarge en biskoppe die hervormings bekragtig.

’n Skeuring het gevolg en dit was die ontstaan van die Raskolniki, wat later bekend geraak het as die Ougelowiges. Onder leiding van aartspriester Awwakoem Petrof (1620 of 1621 tot 1682) het die Ougelowiges alle kerkhervormings in die openbaar verwerp. Die aktiefste lede is gearresteer en verskeie van hulle, onder andere aartspriester Awwakoem, is in 1682 tereggestel.

In onguns

Nadat die verhouding tussen patriarg Nikon en tsaar Aleksei versleg het, het Nikon Moskou verlaat en gedink die tsaar sou hom bedink en Nikon vra om weer patriarg te word. Dit het egter nie gebeur nie en eindelik is Nikon op die konsilie van 1666-1667 van sy amp onthef en verban.

Patriarg Nikon is steeds ’n omstrede persoon. Hy word deur sommige beskou as die oorsaak van die skeuring in die Russies-Ortodokse Kerk, terwyl ander meen hy is onregverdig behandel en hom loof vir sy politieke insig en daadkrag.

Sien ook

Verdere leesstof

  • Makarios: Patriarg Nikon. Moskou, 1881 {ru}
  • Paul Meyendorff: Russia, Ritual, and Reform. The Liturgical Reforms of Nikon in the 17th century. St. Vladimir’s Seminary Press, Crestwood, NY 1991. ISBN 0-88141-090-X
  • Olga B. Strakhov: The Byzantine Culture in Muscovite Rus. The Case of Evfimii Chudovskii (1620–1705). Böhlau, Köln 1998. ISBN 3-412-06898-5
  • S.V. Lobatsjef: Patriarg Nikon. Sint Petersburg, Iskoesstwo-SPB 2003. ISBN 5-210-01561-0

Eksterne skakel