Saab 35 Draken

Die Saab 35 Draken (Draak) is 'n Sweedse vegvliegtuig wat sy tyd vooruit was. Indien dit nie was vir Swede se streng uitvoerbeleid nie, sou die vliegtuig ongetwyfeld in vele lande se lugmagte diens gedoen het. Die Draken is ontwikkel na aanleiding van 'n streng spesifikasie uitgereik deur die Sweedse Lugmag in 1949. Die spesifikasie het verwys na 'n hoëwerksverrigtingvegvliegtuig, wat bomwerpers wat teen transsoniese snelheid vlieg, kon onderskep. Dit het ook 'n snelheid van 50% vinniger as enige bestaande vegvliegtuig bepaal en die vermoë om op paaie en ander verspreide nie-lughawens te kan opstyg en land.

Saab 35 Draken
TipeVegvliegtuig
VervaardigerSaab AB
Nooiensvlug25 Oktober 1955
Bekendstelling8 Maart 1960
Onttrek2005 Oostenryk
StatusOnttrek
HoofgebruikersSweedse Lugmag
Oostenrykse Lugmag
Finse Lugmag
Deense Lugmag
Vervaardig1955–1974
Aantal gebou651

Die oplossing was 'n dubbeldeltavlerkontwerp; met lae massa en groot sterkte wat in alle toestande bevredigend werk terwyl dit ekstra brandstof kon dra en wapens daaraan geheg kon word. As deel van die ontwikkeling is 'n model van die vlerke op 'n 70 persent skaal gebou en daarna met sukses aan 'n vliegtuig getoets. Die prototipe het sy nooiensvlug op 25 Oktober 1955 voltooi en die produksiemodelle het in 1960 begin uitrol. Kenmerkend was 'n driewielonderstel met 'n ekstra stel intrekbare stertwiele. Dit het die vliegtuig toegelaat om te land terwyl die vlerke ten volle as lugremme gebruik word, wat die Draken die vermoë gee om op aanloopbane van slegs 610 m te land.

Ontwikkeling het voortgeduur, model J35B is toegerus met botsingvermydingsradar en verbeterde bewapening. Model J35D was toegerus met kragtiger motors en verbeterde avionika. Model J35F se avionika was selfs beter, toegerus met 'n Aden-masjiengeweer en die vermoë om Falcon lug-tot-lug missiele te dra in stede van Sidewinders. Daar is 66 J35F-modelle opgradeer na model J35J wat die hoogtepunt van die ontwikkeling was. Hulle is eers in 1993 vervang deur die Saab Gripen. Min vegvliegtuie het so lank kompeterend gebly as die Draken.

Daar is ook verkenningsmodelle met vyf kameras in die neus, asook opleidingsmodelle gebou. Die Draken se uitvoere was beperk tot Denemarke, Finland en Oostenryk.

Tegniese besonderhede

Besonderhede van die Saab J35F Draken:
ItemStatistiek
Aantal motors1
Tipe motorStraalmotor
VervaardigerVolvo Flygmotor RM6C turbostraal
Kraglewering per motor7 830 kg stukrag
Vlerkspan9,4 m
Lengte15,35 m
Hoogte3,89 m
Vlerkoppervlakte49,2 m2
Opstygaanloop800 m
Maksimum opstygmassa11 917 kg
Maksimumsnelheid2 125 km/h
Maksimumhoogte20 000 m (65 600 vt)
Togafstand960 km
2 750 km met eksterne loslaattenks
Klimvermoë200 m/s (12 000 m per minuut)
BewapeningEen 30 mm kanon in regtervlerk
2 x RB27 en 2 x 28 Falcon-missiele
plus 1 000 kg bomme

Sien ook

Bron