Willem I van Normandië

Graaf van Normandië (927-942)

Willem I van Normandië (Frans: Guillaume Longue-Épée, Normandies: Willâome de lon Espee, Latyn: Willermus Longa Spata, Oudnoors: Vilhjálmr Langaspjót; omstreeks 89317 Desember 942) was vanaf 927 tot sy sluipmoord in 942 die tweede heerser van die hertogdom van Normandië.[1]

Willem I van Normandië
Willem I van Normandië

Graaf van Rouen
Voorafgegaan deurRollo
Opgevolg deurRichard I van Normandië

Persoonlike besonderhede
Geboreomstreeks 893
Bayeux of Rouen
Sterf17 Desember 893 (-50–-49 jaar oud)
Picquigny op die Sommerivier
Kind(ers)Richard I van Normandië

Hy word somtyds op anachronistiese wyse na verwys as die "Hertog van Normandië", alhoewel die titel "hertog " (dux) eers in die 11de eeu algemeen gebruik is.[2][3][4] Die Frankiese kroniekskrywer Flodoard—wat fyn gelet het op titels—verwys konsekwent na beide Rollo en sy seun as principes (stamhoofde) van die Noormanne.[5]

Geboorte

Willem is "oorsee" gebore[lower-alpha 1][6] as die seun van die Wiking Rollo (terwyl hy steeds 'n heiden was) en sy vrou (ingevolge Deense gebruiklik reg) Poppa van Bayeux.[7][8] Dudo van Sint-Quentin beskryf Poppa in sy "Panegyricus" van die Normandiese hertoë as die dogter van 'n sekere Graaf Berengar van Bayeux, destyds die dominante prins in die streek.[9] Sy word in die 11de eeuse Annales Rotomagenses (Annale van Rouen),[10] genoem as die dogter van Guy, Graaf van Senlis,[11] andersins onbekend.[lower-alpha 2] Haar ouerskap is onseker.[12] Volgens die familie se planctus is Willem waarskynlik saam met sy vader gedoop,[13] wat volgens Orderic Vitalis[14] in 912 plaasgevind het. Die doop is waargeneem deur Franco, Aartsbiskop van Rouen.[15]

Lewe

Willem het in 927 vir Rollo (wat nog vir vyf jaar sou leef)[16] opgevolg. Hy het reeds vroeg in sy bewind 'n rebellie deur die Normandiërs bestry[17], wat van mening was dat hy te veel geassimileer was as Galliër.[18] Volgens Orderic Vitalis was die leier van die rebellie Riouf van Evreux,[18][19][20] wat Willem in Rouen beleër het. Willem het egter 'n beslissende geveg gewen, wat sy gesag as hertog bewys het.[21]:25–6 Ten tyde van die 933-rebellie het Willem sy swanger vrou Sprota (volgens die Deense gebruiklike reg oftewel "more danico") na Fécamp gestuur, waar hul seun Richard gebore is.[22]

In 933 het Willem vir Roedolf van Frankryk, wat moeite gehad het om sy gesag in Noord-Frankryk af te dwing, as Koning van Wes-Frankië erken. Op sy beurt het Roedolf hom aangestel oor groot dele van die Bretonners se gebied, insluitende Avranches, Cotentin en die Kanaaleilande.[23][24][25]:lii Die Bretonners het nie ingestem tot hierdie veranderings nie en weerstand gebied teen die Normandiërs. Die terugvegpoging is gelei deur Alan II van Bretagne en graaf Judicael Berengar. Kort daarna het dit egter in 'n slagting ontaard, met Bretonse kastele wat gelyk gemaak is met die grond.[21]:24 Alan II het na Engeland gevlug, met Beranger wat om versoening gepleit het.[26]

In 935 is Willem getroud met Luitgard van Vermandois,[1] die dogter van Hertog Herbert II van Vermandois. Sy bruidskat het hom die gebiede van Longueville (Manche), Coudres en Illiers l'Eveque besorg.[20] Hy het ook gereël vir 'n huwelik tussen sy suster Adelheid (haar Noorse naam was Geirlaug) en Willem III van Akwitanië, met goedkeuring van Hugo die Grote.[27] Hy was, bykomend tot sy ondersteuning van koning Roedolf, nou 'n lojale bondgenoot van sy skoonvader Herbert II, terwyl sy vader Rollo teen beide gekant was.[28] In Januarie 936 sterf koning Roedolf. Die 16-jarige Lodewyk IV van Frankryk, wat in ballingskap in Engeland gewoon het, is deur 'n belofte van lojaliteit deur Willem omgehaal om terug te keer en koning te word. Die Bretonners het teruggekeer om die gebiede wat deur die Normandiërs beset is terug te neem, wat gelei het tot opnieude gevegte in die uitgebreide Normandiese gebiede.[25]:lii

Die nuwe koning was nie in staat daartoe om sy baronne te beheer nie, en nadat Willem se swaer Herluin II van Montreuil deur Vlaandere aangeval is, het Willem hom in 939 te hulp gesnel.[21]:28–9 Arnulf I van Vlaandere het wraak geneem deur Normandië aan te val. Arnulf I het die kasteel van Montreuil-sur-Mer ingeneem en Herluin verdryf. Herluin en Willem het egter die kasteel teruggeneem.[29][30] Willem is weens die vernietiging van verskeie landgoedere wat aan Arnulf behoort het geëkskommunikeer.[31] Willem het lojaliteit aan koning Lodewyk IV beloof toe hulle in 940 ontmoet het. In ruil daarvoor is hy bevestig as die eienaar van die gebiede wat vroeër aan sy vader Rollo gegee is.[25]:liii[32]

Die begrafnismonument van Willem I in die katedraal van Rouen, Frankryk. Die monument dateer uit die 14de eeu.

In 941 is 'n vredesverdrag in Rouen tussen die Bretonners en Normandiërs onderteken met behulp van koning Lodewyk IV, wat Normandiese uitbreiding in die Bretonners se gebiede beperk het.[25]:liii Willem is die volgende jaar op 17 Desember 942 by Picquigny op 'n eiland in die Sommerivier in 'n lokval gelei en vermoor deur ondersteuners van Arnulf, terwyl hy 'n vredeskonferensie bygewoon het om hul verskille te besleg.[20][30]

Familie

Willem het geen kinders by sy Christenvrou Luitgard gehad nie.[33] Hy het sy seun, Richard I van Normandië, by Sprota,[lower-alpha 3] sy vrou ingevolge Deense gebruik, gehad.[34] Richard het sy vader Willem op 10-jarige ouderdom opgevolg as heerser van Normandië, na sy vader se dood in Desember 942.[33]

Notas

Verwysings

Eksterne skakels