Androginie

Androginie is wanneer 'n mens beide manlike en vroulike eienskappe besit.[1] Androgine kan gebruik word in verband met biologiese geslag, genderidentiteit of genderuitdrukking.

Wanneer "androginie" verwys na gemengde biologiese geslagseienskappe in mense, verwys dit dikwels na interseks mense, wat gebore is met aangebore variasies wat dit moeilik maak om hulle geslag by geboorte te bepaal. In vergelyking is hermafroditisme die besit van beide manlike en vroulike voortplantingsorgane.[2]

Wat genderidentiteit betref, kan androginiese individue identifieer met niebinêre identiteite. Ander kan as transgender identifiseer. Op fisieke gebied kan 'n androginiese voorkoms bereik word deur persoonlike versorging, modes en hormoonbehandeling.

Etimologie

Die term is afgelei van die Griekse ἀνδρόγυνος (van ἀνήρ andro, "man", en γυνή gunē, gyné, "vrou-") deur die Latynse androgynus.[3]

Biologiese geslag

Die woord "androginie" is histories toegepas op mense met 'n mengsel van manlike en vroulike geslagseienskappe en is soms as sinoniem vir die woord "hermafrodiet" gebruik.[4] In sommige dissiplines, soos botanie, word "androginies" en "hermafrodities" steeds om die beurt gebruik.

Wanneer androginie gebruik word om na fisieke eienskappe te verwys, verwys dit dikwels na iemand wie se biologiese geslag moeilik is om dadelik by geboorte vas te stel omdat hulle gemengde manlike en vroulike eienskappe het. Omdat androginie dui op bykomende betekenisse wat verband hou met genderidentiteit en -uitdrukking wat niks met biologiese geslag te doen het nie, word die woord vandag selde gebruik om gemengde biologiese geslagseienskappe in mense te beskryf.[5]

Genderidentiteit

'n Individu se genderidentiteit – sy persoonlike aanvoeling van sy eie gender – kan as androginies beskryf word as hulle voel hulle het beide manlike en vroulike eienskappe. Die woord kan verwys na iemand wat nie netjies in een van die geslagsrolle van hulle gemeenskap pas nie, of na iemand wie se gender 'n mengsel van manlik en vroulik is (nie noodwendig half-half nie). Baie androginiese individue identifiseer as geestelik of emosioneel beide manlik en vroulik.

Hulle kan ook as genderneutraal, "genderqueer" of "niebinêr" identifiseer. 'n Androginiese persoon kan vrylik deelneem aan wat as manlike en vroulike gedrag beskou word, en kan hulle dissosieer van die gedrag wat tipies toegeskryf word aan die gender waartoe hulle sosiaal of fisiek behoort.[6]

Sommige nie-Westerse gemeenskappe erken bykomende androginiese genderidentiteite wat die "derde geslag" genoem word.

Genderuitdrukking

Louise Brooks was die beliggaming van die flapper. Flappers het tradisionele genderrolle teengestaan, en het mansagtige haarstyle en androginiese figure gehad.[7]

Genderuitdrukking wat 'n mengsel van manlike en vroulike eienskappe behels, kan as androginies beskryf word. Die kategorieë manlik en vroulik word maatskaplik bepaal en berus op gedeelde waarnemings van kleredrag, gedrag, kommunikasiestyl en ander aspekte van hoe 'n mens jou voordoen. In sommige kulture word androginiese genderuitdrukking gevier, terwyl dit in ander beperk is of onderdruk word.

Die woord genderqueer word dikwels deur androginiese individue gebruik om na hulleself te verwys, maar die terme "genderqueer" en "androginies" is nie dieselfde of uitruilbaar nie.[8] "Genderqueer", vanweë sy verbintenis met die queer kultuur, het sosiopolitieke konnotasies wat "androginies" nie het nie. Om dié rede kan sommige androginiese mense die etiket "genderqueer" onakkuraat, ontoepaslik of beledigend ervaar.

'n Alternatief vir androginie is genderrol-transendensie: die siening dat individuele bevoegdheid op 'n persoonlike basis beoordeel moet word, en nie op die basis van manlikheid, vroulikheid of androginie nie.[9]

In agenderisme word die verdeling van mense in mans en vroue (in die fisieke sin), as verkeerd en kunsmatig beskou.[10] Agender individue verwerp gender-etikettering in die waarneming van selfidentiteit en ander sake.[11][12][13][14] Hulle beskou hulleself as 'n "persoon" en nie as "man" of "vrou" nie.[11]:p.16 Volgens E.O. Wright kan genderlose mense eienskappe, gedrag en 'n gesindheid openbaar wat ooreenstem met wat tans as manlik of vroulik beskou word, en dié kombinasie kan van persoon tot persoon verskil. Dit beteken egter nie almal sal in die afwesigheid van genderverhoudings androginies in hulle identiteit en praktyke wees nie. Wat met die idee van genderloosheid verdwyn, is enige verwagting dat sommige eienskappe en gesindhede streng volgens 'n persoon se biologiese geslag bepaal word.[15]

Moderne neigings

Coco Chanel met 'n broek en matroostrui, 1928.

Deur die grootste deel van die Westerse geskiedenis het sosiale reëls mense se kleredrag streng volgens gender bepaal. Broeke was tradisioneel net vir mans.[16]

In die 1900's, van om en by die Eerste Wêreldoorlog, het genderrolle begin vervaag en modeontwerpers soos Paul Poiret en Coco Chanel het broeke vir vroue ontwerp. Die flapper-styl vir vroue van dié tydperk het broeke en 'n netjiese bobhaarstyl ingesluit, en dit het vroue 'n androginiese voorkoms gegee.[17] Coco Chanel, wat self graag broeke gedra het, het broekmodes vir vroue ontwerp soos strandpajamas en perdryuitrustings.[16] In die 1930's het glansryke aktrises soos Marlene Dietrich baie betower en geskok met hulle broeke en androginiese styl. Dietrich word onthou as een van die eerste aktrises wat 'n broek na 'n première gedra het.[18]

Yves Saint Laurent se aandpak "Le Smoking", wat in 1966 geskep is.

In die 1960's en 1970's het die vrouebevrydingsbeweging waarskynlik tot idees bygedra en modeontwerpers soos Yves Saint Laurent beïnvloed.[19] Hy het Le Smoking-aandpak vir vroue in 1966 bekend gestel, terwyl Helmut Newton se erotiese androginiese foto's daarvan dit ikonies en klassiek gemaak het.[20]

Elvis Presley het 'n androginiese styl in ruk-en-rol bekend gestel.[21] Sy mooi gesig en gebruik van ooggrimering het baie mense laat dink hy is 'n taamlik "verwyfde man".[22] Toe die Rolling Stones in 1969 in Londen se Hyde Park optree, het Mick Jagger 'n wit "mansrok" gedra.[23] Dit is beskou as die verpersoonliking van die Swinging Sixties.[24]

Die popsterre Boy George (op foto) en Annie Lennox het in Desember 1983 op die voorblad van die tydskrif Smash Hits verskyn met die opskrif: "Which one is the boy?"[25]

In 1972 het David Bowie sy alter ego Ziggy Stardust bekend gestel, 'n karakter wat 'n simbool van seksuele dubbelsinnigheid was, toe hy die album The Rise and Fall of Ziggy Stardust and Spiders from Mars uitreik.[26] Marc Bolan, nog 'n baanbreker van glam rock, het in 1971 op die BBC se Top of the Pops verskyn met blinkers en satynklere. Volgens die koerant The Independent het sy voorkoms "'n generasie tieners toegelaat om met die idee van androginie te begin speel".[27] Die Weseinde-musiekspel van 1973 The Rocky Horror Show het ook seksuele vloeibaarheid uitgebeeld.[28]

In die 1980's het nuwe modeontwerpers voortgegaan om die sosiale idees van gender uit te tart. Hulle het klem gelê op androginie in modeontwerp en gendersake. Dié beeld is ook deur popsterre soos Annie Lennox en Boy George uitgedra.[29][30]

Jaden Smith het 'n paar jaar gelede aan Louis Vuitton se vroueklereveldtog deelgeneem.

Kragkleredrag vir vroue het in die 1980's selfs prominenter geword, terwyl it vroeër hoofsaaklik deur mans gebruik is om invloedryk en magtig te lyk. In die artikel “The Menswear Phenomenon” deur Kathleen Beckett in 1984 in Vogue word die begrip kragkleredrag bespreek. Vroue het in die 1980's werke gekry wat hulle op 'n gelyke voet met mans geplaas het en hulle het dienooreenkomstig begin aantrek. Dit het 'n gewilde styl vir vroue geword.[31] Vroue het begin agterkom hulle kan mans met hulle kleredrag oorreed om meer aandag aan hulle intellektuele vermoëns te gee, eerder as aan hulle fisieke aantrekkingskrag.

In dié tyd het Grace Jones, 'n sanger en model, se androginiese voorkoms die publiek laat regop sit. Haar styl het baie mense geïnspireer en sy het 'n androginiese stylikoon vir moderne glansrykes geword.[32]

Androginie het in die vroeë 21ste eeu nog groter prominensie in die populêre kultuur gekry.[33] Beide die modenywerheid[34] en popkultuur het die androginiese voorkoms aanvaar en selfs gewild gemaak.

In 2016 het Louis Vuitton bekend gemaak dat Jaden Smith aan hulle vroueklereveldtog sou deelneem. Danksy gebeure soos dié is gendervloeibaarheid in die mode lewendig in die media bespreek, met mense soos Lady Gaga en Ruby Rose wat aan die begrip uiting gegee het. Jaden Smith en ander jong individue het die beweging geïnspireer met hulle beroep dat klere nie meer genderspesifiek moet wees nie, wat beteken mans moet rompe kan dra en vroue boksbroeke as hulle sou wou.[35]

Simbole en ikonografie

In die antieke en Middeleeuse wêreld is androginiese mense en/of hermafrodiete in die kuns voorgestel deur die boodskapperstaf (caduceus), 'n staf met transformerende kragte in die Griekse en Romeinse mitologie. Die boodskapperstaf is deur Tiresias geskep en verteenwoordig sy transformasie in 'n vrou deur Juno as straf omdat hy na parende slange geslaan het. Die staf is later deur Hermes/Mercurius gedra en was die basis vir die sterrekundige simbool vir die planeet Mercurius en die botaniese teken vir hermafrodiete. Die teken word soms vir androginiese mense gebruik.

Nog 'n algemene androginiese ikoon in die Middeleeue en vroeë moderne gekiedenis was die rebis, 'n gesamentlike manlike en vroulike figuur, dikwels met son- en maanmotiewe. Nog 'n simbool is wat vandag die "sonkruis" genoem word en wat die kruis vir manlik verenig met die sirkel vir vroulik.[36] Die teken is nou die sterrekundige simbool vir die planeet Aarde.[37]

Verwysings

Skakels