Chris Evert

Christine Marie Evert (gebore 21 Desember 1954), beter bekend as Chris Evert Lloyd, is 'n Amerikaanse voormalige wêreld nommer een tennisspeler. Evert het 18 grand slam enkelspeltitels verower, waaronder 'n rekord sewe Franse Ope-titels en 'n gesamentlike rekord ses Amerikaanse Ope-titels (gelykop met Serena Williams). Evert was 260 weke lank as die wêreld se nommer een gerangskik, en was sewe keer die jaareinde se wêreld nommer een enkelspeler (1974 – 78, 1980, 1981). Langs Martina Navratilova, haar grootste mededinger, het Evert 'n groot deel van die 1970's en 1980's vrouetennis oorheers.[1]

Chris Evert.

Evert het in 34 grand slam enkelspel-eindstryde gespeel, 'n rekord vir vrouetennis. In enkelspel bereik Evert die halfeindronde of beter in 52 van die 56 grand slams waarin sy gespeel het. Sy het nooit in die eerste of tweede ronde van 'n grand slam verloor nie en slegs twee keer in die derde ronde verloor. Evert hou die rekord van die meeste agtereenvolgende jare (13) om ten minste een grand slam titel in die jaar te verower. [2]

Evert se loopbaanwenpersentasie in enkelspelwedstryde van 89,97% (1309 gewen– 146 verloor) is die tweede hoogste, vir mans of vroue. Op kleibane bly Evert se loopbaanwenpersentasie in enkelspelwedstryde van 94,55% (382 – 22) 'n rekord. Sy het ook drie grand slam dubbeltitels verower, twee saam met Navratilova en een met Olga Morozova.[3]

Evert was elf jaar president van die Women's Tennis Association, 1975 – 76 en 1983 – 91. Sy is bekroon met die Philippe Chatrier-toekenning en is opgeneem in die Hall of Fame. Na haar aftrede is Evert 'n afrigter en 'n ontleder by ESPN, sy bemark ook 'n reeks tennis- en sportklere.[4]

Vroeë lewe en gesin

Evert is in 1954 in Fort Lauderdale, Florida, gebore aan Colette (née Thompson) en Jimmy Evert, en grootgemaak in 'n toegewyde Katolieke huishouding. Sy het in 1973 gegradueer aan St. Thomas Aquinas High School in Fort Lauderdale.[5][6][7]

Evert se pa was 'n professionele tennisafrigter, en tennis was 'n lewenswyse in sy gesin. Chris en haar suster Jeanne het professionele tennisspelers geword; hul broer John het tennis gespeel aan die Universiteit van Alabama en later aan die Vanderbilt Universiteit, en broer Drew het 'n tennisbeurs aan die Universiteit van Auburn gehad. Jongste suster Clare het beurstennis aan die Southern Methodist University gespeel. Chris, John, Jeanne en Clare, het almal titels verower in die gesogte Junior Orange Bowl in Florida.

Verwysings