De Havilland Mosquito

Britse twee motorige multi-rol vliegtuig

Die De Havilland Mosquito was 'n tweemotorige vliegtuig en bomwerper van die Britse Lugmag tydens die Tweede Wêreldoorlog. Die Mosquito was 'n veeldoelige vliegtuig wat as bomwerper gebruik is, asook vir fotografiese verkenning. Die vliegtuig is reeds in 1938 ontwerp, maar het eers in Maart 1940 aandag getrek toe vyftig bestel is. Drie prototipes is gebou, waarvan die eerste as 'n bomwerper gebou is en die tweede as 'n fotografiese verkenningsvliegtuig. Die eerste het op 25 November 1940 en die tweede op 10 Junie 1941 hulle nooiensvlugte onderneem. Aanvanklik was die vliegtuig ontwerp as 'n bomwerper sonder enige bewapening aan boord, maar vinnig genoeg om enige vyandelike vliegtuig met spoed die loef af te steek.

De Havilland Mosquito
TipeVeeldoelige bomwerper
VervaardigerDe Havilland
Nooiensvlug25 November 1940
StatusUit diens gestel
HoofgebruikerBritse Lugmag
Aantal gebou7,781

Ontwikkeling

Die eerste bestelling vir die vliegtuig was vir 50 eksemplare. Hierdie eerste 50 het onder andere tien modelle PR Mk 1 en tien B Mk IV ingesluit. Die PR Mk 1 het sy eerste operasionele vlug op 20 September 1941 onderneem en die B Mk IV in Mei 1942. Daar word uiteindelik 273 Mk IV's gebou. Daar was drie vervaardigingsaanlegte vir die vliegtuig in Brittanje. Airspeed (120), Percival (245) en Standard Motors (156) het ook modelle vervaardig. De Havilland het altesaam 5 700 Mosquito's gebou waarvan 4 444 gedurende die Tweede Wêreldoorlog gebou is.

Daar is ook 208 vliegtuie gebou deur De Havilland Australië en 1 134 deur De Havilland Kanada. Die totale aantal Mosquito's wat tydens die oorlog gebou is, was 6 710, met 'n verdere 1 071 wat na VJ-Dag gebou is.

Die vliegtuig is ook gebruik deur die Pathfinder Force om teikens te merk vir die bomwerpers. Hulle het later ook die Mk IX gebruik wat op hoë hoogtes kon vlieg, asook die Mk XVI.

Die mees algemene bom wat die vliegtuig gedra het was die 1 814kg block-buster bom. Hierdie bom was gedra in 'n spesiale bomhouer wat agterna geïnstalleer is aan modelle Mk IX, XVI en 'n paar Mk IV's. Ongeveer 1 200 model XVI's was toegerus met langafstandbrandstoftenks. Modelle NF Mk II en FB Mk IV's is omskep in vegvliegtuie.

Die Mosquito was uiteindelik deur die English Electric Canberra vervang in die Britse Lugmag.

Tegniese besonderhede

De Havilland Mosquito
Besonderhede van die De Havilland Mosquito B XVI:
ItemStatistiek
Aantal motors2
Tipe motorSkroef
VervaardigerRolls-Royce Merlin 72 of 76 V-tipe
Kraglewering per motor1680 perdekrag
Vlerkspan16,51 m
Lengte12,34 m
Hoogte4,66 m
Maksimum opstygmassa8 660 kg
Maksimum snelheid656 km/h op 7 925 m
Operasionele hoogte11 278m
Togafstand met bomvrag van 5 443 kg2 205 km
BewapeningGeen masjiengewere nie.

Bron