Djotsji Khan

Djotsji (Mongools: Зүчи; Zütsji) (1181–1227) was die oudste seun van die Mongoolse leier Djengis Khan by sy hoofvrou, Börte. Hy was ’n bekwame militêre leier en het saam met sy broers en ooms deelgeneem aan sy vader se verowering van Sentraal-Asië. Daar is verskeie spellings van sy naam: ook Djoetsji, Zütsji, Zjoetsji en Djötsji.

Djotsji
Khan van die Goue Horde
Standbeeld van Djotsji in Mongolië
DinastieBordjigin
Bewind1225–1227
Gebore1181
GesterfFebruarie 1227 (op 45-46 jaar)
VoorgangerDjengis Khan
OpvolgerOrda Khan (c. 1204–1280)
Batoe Khan (c. 1205–1255)
Berke, khan van die Goue Horde (1257–1267)
VaderDjengis Khan
MoederBörte

Daar is ’n vraagteken oor wie Djotsji se ware pa was. Kort nadat Djengis Khan (toe bekend as Temüjin) met Börte getrou het, is sy deur lede van die Merkit-stam ontvoer. Ná ’n paar maande in aanhouding is sy bevry en kort daarna het sy die lewe aan Djotsji geskenk. Volgens alle aanduidings het Djengis Djotsji as sy oudste seun behandel, maar daar het later ’n verwydering tussen hulle ingetree.

Erfenis

Djotsji se mausoleum in Kasakstan.

Djengis Khan het sy ryk tydens sy leeftyd tussen sy vier oorlewende seuns verdeel. Djotsji het die westelike deel van die ryk gekry, tussen die Oeral- en die Irtisjrivier. Tydens die raad van prinse twee jaar ná Djengis se dood in 1227 is dié verdeling gehandhaaf. Djotsji, wat ses maande voor Djengis dood is, se grondgebied is onder sy seuns verdeel.[1]

Djotsji se oudste seuns, Orda en Batoe, het onderskeidelik die Wit en Blou Horde gestig, wat later verenig is as die Goue Horde.

Djengis het volgens die Mongoolse tradisie net 4 000 troepe aan elk van sy drie oudste seuns toegeken en 101 000 aan sy jongste, Toloei Khan. Djotsji se afstammelinge het dus hul ryk uitgebrei met die hulp van troepe uit die plaaslike bevolkings, wat hoofsaaklik Turks was. Dit is die hoofrede hoekom die Goue Horde later ’n Turkse karakter aangeneem het.

Djotsji se seun Berke was een van die eerste Mongole wat hulle tot die Islam bekeer het. Dit is hy wat die Wit en Blou Horde ná Orda en Batoe se dood verenig het.[2]

Verwysings

Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia