Donker newel

’n Donker newel of absorpsienewel is ’n soort newel wat so dig is dat dit die lig van voorwerpe agter hulle, soos sterre en emissie- en refleksienewels, blokkeer. Die blokkering word veroorsaak deur interstellêre stofdeeltjies. Swerms en groot donkernewelkomplekse word verbind met reuse- molekulêre wolke. Geïsoleerde, klein donker newels word Bok-newels genoem (na die sterrekundige Bart Bok). Nes met ander interstellêre stof of materiaal, is voorwerpe wat dit verberg net sigbaar danksy radiogolwe of infrarooilig.

LDN 483 is sowat 700 ligjare van ons af in die sterrebeeld Slang.[1]

Oorsig

Donker wolke lyk so vanweë submikrometer-grootte stofdeeltjies wat bedek is met bevrore koolstofmonoksied en stikstof, wat die deurgang van lig met sigbare golflengtes blokkeer. Ook teenwoordig is molekulêre waterstof, atomiese helium, C18O, CS, NH3 (ammoniak), H2CO (formaldehied), c-C3H2 (siklopropenilideen) en ’n molekulêre ioon N2H+ (diasenilium), wat almal redelik deursigtig is. Dié wolke is die broeigrond vir sterre en planete, en om hul ontwikkeling te verstaan is noodsaaklik vir ’n begrip van stervorming.[2][3]

Die vorm van sulke donker newels is baie onreëlmatig; hulle het geen duidelike grense nie. Die grootste donker newels is met die blote oog sigbaar en lyk soos donker kolle teen die ligter agtergrond van die Melkweg.

Galery

Verwysings

Eksterne skakels