Graham Ford

Suid-Afrikaanse krieketafrigter en krieketspeler

Graham Xavier Ford (* 16 November 1960) is 'n Suid-Afrikaanse krieketafrigter en voormalige -speler.

Graham Ford
Gebore16 November 1960 (1960-11-16) (63 jaar oud)
Pietermaritzburg, Natal, Suid-Afrika
KolfstylRegshandig
BoulstylRegterarm draaibouler
RolAfrigter
FamilieMatt Ford (seun)[1]
Greg Ford (seun)[2]
Eersterangse spaninligting
Jaar(e)Span
1982/83–1989/90Natal B
Loopbaanstatistiek
Kompetisie1e rang
Wedstryde7
Lopies aangeteken162
Kolfgemiddeld13.50
100s/50s0/0
Hoogste telling43
Vangskote/Stonkings3/–
Bron: Cricinfo, 31 Julie 2009

Hy is 'n voormalige hoofafrigter van die Ierse nasionale krieketspan (2017–2021) en die Sri Lankaanse nasionale krieketspan (2012–2014; 2016–2017). Hy was 'n regshandige kolwer en het tydens sy tyd as krieketspeler 7 wedstryde gespeel vir Natal B. Sy laaste wedstryd is sewe jaar na sy debuut in 1982/83 gespeel. Hy is 'n voormalige provinsiale tenniskampioen, en het Natal in voetbal verteenwoordig. Hy is ook 'n gekwalifiseerde rugbyskeidsregter.

Afrigtersloopbaan

In 1992 word hy aangestel as afrigter van die Natalse krieketspan, waartydens hy spelers soos Malcolm Marshall, Clive Rice, Shaun Pollock, Jonty Rhodes en Lance Klusener afgerig het. Hy het die provinsie in beide die eersteklas- en eendagtrofeë in 1996–97 tot oorwinning gelei.

Ford het die Suid-Afrikaanse A-span in 1998 tydens 'n toer na Sri Lanka afgerig, en is die volgende jaar aangewys as die hulpafrigter van Suid-Afrika. As assistent van Bob Woolmer het hy Suid-Afrika tydens die 1999 Wêreldbeker afgerig waar hulle die halfeindronde gehaal het, voordat hulle deur Australië uitgeskakel is. Na afloop van die toernooi het hy Woolmer as afrigter vervang en die land tot oorwinning gelei in 8 van die 11 reekse wat hulle gespeel het, maar nadat hy agtereenvolgende nederlae teen Australië gely het, het hy sy werk in Junie 2002 verloor.[3] Hy het die Proteas onder meer tydens die Kampioenetrofee 2000 afgerig.

Ford het in 2005 direkteur van krieket by Kent Graafskap-krieketklub geword. In 2006 het hy na Suid-Afrika teruggekeer om die Dolphins-krieketspan af te rig, maar in dieselfde jaar om persoonlike redes die betrekking opgesê.[4]

Op 9 Junie 2007 is hy die pos van afrigter van die Indiese nasionale krieketspan aangebied, maar twee dae later het hy die aanbod van die hand gewys.[5]

Op 31 Julie 2009 is dit aangekondig dat hy nie vir die 2010-seisoen na Kent sou terugkeer nie, weereens met verwysing na persoonlike redes.[6]

In Januarie 2012 is hy aangestel as hoofafrigter van Sri Lanka. Hy het hiermee vir Geoff Marsh vervang.[7]

In September 2013 het hy besluit om nie sy kontrak vir 'n verdere twee jaar te hernieu nie.[8] Op 27 Februarie 2014 het hy die betrekking aanvaar van hoofafrigter van Surrey Graafskap-krieketklub.[9] Kumar Sangakkara het Ford se teenwoordigheid by Surrey as een van die redes genoem waarom hy in 2015 vir die klub wou speel, en Ford se invloed op Sri Lankaanse krieket geprys.[10]

In Januarie 2016 is Ford weer aangestel as hoofafrigter van die Sri Lankaanse nasionale krieketspan. Sri Lanka Krieket het Ford aangestel tot en met die Krieketwêreldbeker 2019, maar hy het na slegs 15 maande in Junie 2017 uit die pos bedank.[11]

In September 2017 is Ford vir 'n aanvanklike termyn van drie jaar as Ierland se hoofafrigter aangestel; sy kontrak met Krieket Ierland is in 2019 met 'n verdere drie jaar verleng.[12] Tydens sy termyn as hoofafrigter van Ierland het hy die span deur 'n oorgangsfase gelei. Ierland het tydens sy termyn as afrigter uiteindelik toetsstatus behaal, en 101 internasionale wedstryde onder sy leiding gespeel.[13]

In November 2021 het hy uit sy pos as hoofafrigter bedank.[13][14]

Verwysings