Hiperseksualiteit

Hiperseksualiteit is ’n mediese diagnose vir ’n buitengewoon gereelde of skielike toename in seksdrange. Die terme nimfomanie en satiriase is eens gebruik om die toestand in onderskeidelik vroue en mans te beskryf. Dit word nie meer in mediese kringe gebruik nie, hoewel eersgenoemde nog in die volksmond voorkom.

Oorsig

Hiperseksualiteit kan óf ’n primêre toestand óf die simptoom van ’n ander siekte of mediese toestand soos bipolêre gemoedsteuring wees. Dit kan ook veroorsaak word deur sekere medisynes en behandelings, soos middels teen Parkinsonsiekte of hormoonterapie met testosteroon en estrogeen.

Geneeshere stem nog nie saam oor die beste manier om hiperseksualiteit as ’n primêre toestand te beskryf[1][2][3] of oor die wenslikheid om sulke gedrag en impulse as ’n aparte patologie te beskryf nie. Verskillende dokters en terapeute beskou hiperseksualiteit dikwels verskillend: as ’n verslawing,[4][5] ’n soort obsessief-kompulsiewe steuring of ’n impulsiwiteitsteuring. ’n Paar skrywers erken nie so ’n siektetoestand nie[6] en reken dit weerspieël bloot ’n kulturele afkeer van buitengewone seksuele gedrag.[7][8]

Net soos wat daar geen konsensus is oor wat hiperseksualiteit veroorsaak nie,[9] gebruik skrywers verskillende name om daarna te verwys, na gelang van watter teorie hulle voorstaan of watter spesifieke soort gedrag hulle bestudeer. Moderne name sluit in kompulsiewe masturbasie, kompulsiewe seksuele gedrag,[10][11] kuberseksverslawing, erotomanie, oordrewe seksdrang,[12] hiperfilie,[13] hiperseksualiteit,[14][15] hiperseksuele steuring,[16] seksuele verslawing, seksuele kompulsiwiteit,[17] seksuele afhanklikheid,[8] seksuele impulsiwiteit[18] en parafilieverwante steuring.[19][20]

Verwysings