Keiser van Japan

Die Keiser (天皇 tennō?, letterlik "hemelse vors",[1]) van Japan is die land se monarg. Hy is die hoof van die Japannese Keiserlike Familie. Volgens Japan se huidige grondwet is die Keiser die "simbool van die staat en die eenheid van die volk," en dien as seremoniële hoof in die grondwetlike monargie.

Standaard van die Keiser van Japan
Die Keiserlike Seël van Japan

Die huidige keiser is Sy Keiserlike Majesteit die Keiser Naruhito, wat die Krisantetroon bestyg het toe sy vader Keiser Akihito in 2019 abdikeer het. Hy is die 126ste keiser volgens Japan se tradisionele opvolgingsorde.[2]

Die rol van die keiser van Japan het histories gewissel van dié van 'n opperrang geestelike met grootliks simboliese magte en dié van 'n werklike keiserlike heerser. 'n Onderliggende keiserlike kultus (die idee van Arahitogami) beskou die keiser as van goddelike afstamming. Tot 1945 was die Japannese monarge altyd amptelik militêre aanvoerders. Anders as in die geval van westerse monarge, het hulle die funksie nie in praktyk uitgevoer nie. Japannese keisers is byna altyd tot 'n mindere of meerdere mate deur ander politieke magte beheer.

Sedert die middel van die 19de eeu het die Keiserlike Paleis as "Kyūjō" (宮城) bekendgestaan. Later is dit hernoem na Kōkyo (皇居), en was geleë op die voormalige terrein van die Edo-kasteel in die hartjie van Tokio. Vroeëre keisers het vir byna elf eeue in Kioto gewoon.

Keisers van Japan

Vervolgens die vyf keisers van Japan se moderne tydperk sedert 1867.

No.PortretPersoonlike naamBewindPosthume naamNotas
122 Mutsuhito1867–1912Keiser MeijiEerste Keiser van die Japannese Keiserryk
123 Yoshihito1912–1926Keiser TaishōKroonprins Hirohito het 1921–1926 as Sesshō (Prinsregent) gedien
124 Hirohito1926–1989Keiser ShōwaDien 1921–1926 as Sesshō (Prinsregent).
Laaste Keiser van die Japannese Keiserryk
125 Akihito1989–2019Keiser HeiseiAbdikeer op 30 April 2019. Word in Japannees Jōkō ("die groot Keiser") genoem, en "keiser emeritus Akihito" in Afrikaans.
126 Naruhito2019–hedeKeiser ReiwaIngehuldig op 1 Mei 2019. Word Kinjō Tennō ("die regerende Keiser") of Tennō Heika ("Sy Majesteit die Keiser") in Japannees genoem, en "Keiser Naruhito" in Afrikaans.[3]

Verwysings

Verdere leesstof

Eksterne skakels