Referendum oor die onafhanklikheid van Skotland

Tydens die referendum vir die onafhanklikheid van Skotland is Skotse kiesers gevra om vir of teen onafhanklikheid te stem. Die stemming het op 18 September 2014 plaasgevind. Die uitkoms was 'n oorwinning vir die nee-stem.[1]

Die Skotse eerste minister, Alex Salmond en sy adjunk Nicola Sturgeon, het hulle vir onafhanklikheid beywer.
Uitslag: Groen ten gunste; rooi teen onafhanklikheid.

Die "Ja"-veldtog is deur Skotland se eerste minister en leier van die Skotse Nasionale Party (SNP), Alex Salmond gelei. Hulle het hulself beywer vir 'n onafhanklike Skotland wat nie deel van die Verenigde Koninkryk (VK) vorm nie. Na afloop van die referendum, waarin hulle slegs 45 persent van die stemme kon trek, het hy sy bedanking aangekondig met die woorde: "For me as leader my time is nearly over, but for Scotland the campaign continues and the dream shall never die".[2]

Die eerste minister van die Verenigde Koninkryk, David Cameron, die vise-eerste minister Nick Clegg en die opposisieleier Ed Miliband het hulself vir die "Nee"-stem beywer. Die voormalige eerste minister, Gordon Brown, het ook sy gewig agter die "Nee"-stem ingegooi. Die veldtog is onder die banier van "Better Together" geveg. Uiteindelik verkry hulle 55 persent van die stemme en verseker sodoende dat Skotland deel van die VK bly.

Nie alle Skotte kon aan die referendum deelneem nie. Skotte wat in Engeland[3] en die buiteland[4] woon is uitgesluit, daarteenoor kon nie-etniese Skotte wat in Skotland woonagtig is wel stem. Die stempersentasie was uitsonderlik hoog, bykans 85% van die land se inwoners het deelgeneem.

Resultate

Vraag:

Should Scotland be an independent country? (en)
(Behoort Skotland 'n onafhanklike land te wees?)
KeuseStemme%
Ja1,617,98944.7
Nee2,001,92655.3
Bedorwe/ blanko stemme3,429
Totaal3,623,344100
Geregistreer/ stempersentasie4,283,39284.59
Bron: ScotlandReferendum.info

Verwysings