Sambo

Sambo (Russies: самбо) is ’n Russiese vegkuns en sportsoort.[1][2] Dit is die afkorting van die Russiese uitdrukking САМооборона Без Оружия (letterlik "selfverdediging sonder wapens"). Sambo is ’n redelike moderne gevegskuns; die ontwikkeling daarvan het in die vroeë 1920's begin in die weermag van die voormalige Sowjetunie om soldate se handgevegsvermoëns te verbeter.[1] Dit het sy wortels in judo en stoei.

’n Beenklem in sambo.

Die pioniers van sambo is Wiktor Spiridonof en Wasili Osjtsjepkof. Laasgenoemde is in die tronk dood tydens die politieke vervolgings van 1937 nadat hy daarvan beskuldig is dat hy ’n Japannese spioen is. Die twee mans het twee verskillende style onafhanklik van mekaar ontwikkel wat eindelik saam sambo geword het. Dit is in 1938 as ’n amptelike sportsoort erken deur die Sowjet-sportkomitee.

Style

Drie style word deur die Internasionale Amateursambofederasie goedgekeur:[3]

  • Sportsambo (спортивное самбо,sportiwnaja sambo), soortgelyk aan Olimpiese vrystyl-stoei of judo, maar met verskille in reëls, protokol en uniform.
  • Gevegsambo (боевое самбо, bojewoje sambo), wat in die weermag gebruik word. Dit is ’n gemengde vegkunsvorm. Mededingers gebruik baadjies soos in sportsambo, maar ook beskerming vir hul hande en soms vir hul maermerries en kop.
  • Vrystyl-sambo, ’n Amerikaanse mededingende sambostyl wat in 2004 geskep is.

Die Russiese president, Wladimir Poetin, is ’n kampioen van Leningrad en ’n nasionale kampioen in sambo en judo.

Omstredenheid van naam

Hoewel sambo ’n Russiese afkorting is, het deelnemers aan die sportsoort in Engelssprekende lande probleme ondervind met die naam omdat dit in Engels ook ’n ongure rasseterm vir mense van Afrika-afkoms is. Sambo-verteenwoordigers was verplig om die "polities korrekte" spelling sombo te gebruik.[4]

Verwysings

Eksterne skakels