Motivering

Motivering is 'n teoretiese konsep wat gebruik word om gedrag te verduidelik. Dit verskaf die rede vir mense se optredes, begeertes en behoeftes. Motivering kan ook gedefinieer word as 'n persoon se gerigtheid op 'n sekere gedrag, of dit wat maak dat 'n persoon 'n gedrag wil herhaal, en omgekeerd.[1] 'n Motief spoor 'n persoon aan om op 'n sekere manier op te tree, of om minstens 'n geneigdheid vir spesifieke gedrag te ontwikkel.[2]

Tipes teorieë en modelle

Sielkundige teorieë

Motivering kan verstaan word as 'n siklus waarbinne gedagtes tot sekere gedrag lei, waarop gedrag tot prestasie lei, en prestasie weer tot sekere gedagtes lei.

Rasionele motiverings

Almal is bekend met die idee dat mense rasioneel is en dat menslike gedrag deur logiese denke gerig word. Die terrein van gedragsekonomie is egter in die besonder gemoeid met die beperkings van rasionaliteit in ekonomiese agente.[3]

Aansporingsteorieë: intrinsieke en ekstrinsieke motivering

Motivering kan in twee verskillende teorieë verdeel word, naamlik intrinsieke (interne of inherente) motivering en ekstrinsieke (eksterne) motivering.

Intrinsieke motivering

Intrinsieke motivering is 'n persoon se innerlike begeerte om nuwe dinge en nuwe uitdagings te vind, om sy kapasiteit te ontleed, om waar te neem en kennis te versamel.[4] Dit bestaan binne die individu is nie gebaseer op eksterne druk of 'n begeerte na erkenning nie.

Voordele: Intrinsieke motivering kan blywend en selfonderhoudend wees. Pogings fokus eerder op die subjek as op beloning of straf.

Nadele: Dit neem soms lank voordat pogings om intrinsieke motivering te bevorder, 'n persoon se gedrag affekteer en dit kan spesiale en omslagtige voorbereiding vereis.[5]

Ekstrinsieke motivering

Ekstrinsieke motivering verwys na die uitvoering van 'n aktiwiteit ten einde 'n verlangde uitkoms te verkry. Ekstrinsieke motivering kom van invloede buite die individu. Algemene ekstrinsieke motiverings is belonings (byvoorbeeld geld of punte) en die bedreiging van straf vir wangedrag.

Gedragsteorieë

Waar baie motiveringsteorieë 'n mentalistiese perspektief het, fokus behavioriste slegs op waarneembare gedrag en teorieë wat op eksperimentele bewyse gebaseer is. Motivering word beskou was 'n vraag oor watter faktore verskeie gedragvorms veroorsaak, voorkom of weerhou terwyl die kwessie van byvoorbeeld bewuste motiewe geïgnoreer word.

Sosiokulturele teorie

Die sosiokulturele teorie (sien Kultuurhistoriese sielkunde) (ook bekend as Sosiale Motivering) beklemtoon die impak van aktiwiteite en optredes wat deur sosiale interaksie en binne sosiale kontekste gefasiliteer word. Die sosiokulturele teorie verteenwoordig 'n verskuiwing weg van tradisionele motiveringsteorieë wat die individu se ingebore drange as bepalende faktor van motivering beskou.

'n Voorbeeld van die sosiokulturele teorie is sosiale opsette waar mense saamwerk om gemeenskaplike probleme op te los, soos atletiekspanne, studiegroepe, en burgerverenigings.[6]

Stoot en trek

Stootmotiverings is dié waar mense hulleself druk om hul doelwitte te behaal of om iets te bereik, soos die begeerte na ontsnapping, rus en ontspanning, prestige, gesondheid en fiksheid, avontuur, en sosiale interaksie.[7]

Trekmotivering is die teenoorgestelde van stootmotivering. Eersgenoemde kan beskou word as so 'n sterk begeerte om 'n doel te bereik dat dit voel asof die doel jou aantrek. Dit is waarom trekmotivering sterker as stootmotivering is. Dit is makliker om na iets aangetrek te word as om jouself te druk ter wille van iets wat jy begeer.

Selfbeheersing

Selfbeheersing as motiveringsaspek word toenemend as 'n onderstel van emosionele intelligensie beskou;[8] daar word voorgehou dat alhoewel 'n persoon as hoogs intelligent geklassifiseer is (soos deur baie tradisionele intelligensietoetse bepaal), hy die motivering kan ontbreek om intellektuele uitdagings aan te gryp.

Drifte

'n Drif of begeerte kan as ’n tekort of behoefte beskou word wat gedrag aktiveer wat daarop gemik is om' n doel te bereik, of 'n aansporing.[9] Basiese drifte word deur tekorte soos honger geaktiveer wat 'n persoon motiveer om kos te soek, terwyl die begeerte na lof en goedkeuring meer subtiele drange is wat 'n persoon motiveer om op 'n manier op te tree wat ander tevrede stel.

Drifverminderingsteorie

Die drifteorie het uit die konsep ontwikkel dat mense sekere biologiese drange het, soos honger en dors. Met verloop van tyd word die drange sterker indien dit nie bevredig word nie (in hierdie geval deur te eet). Die bevrediging van hierdie drang veroorsaak dat die drif se krag afneem.

Kognitiewe dissonansieteorie

Volgens hierdie teorie het mense 'n motiveringsdrang om dissonansie te verminder.  Die lui denker (cognitive miser)-perspektief maak dat mense dinge op 'n eenvoudige manier wil regverdig ten einde die inspanning te verminder wat deur denke vereis word.

Inhoudsteorieë

Die inhoudsteorie was een van die eerste motiveringsteorieë. Inhoudsteorieë kan ook behoefteteorieë genoem word, want die teorie fokus op die belangrikheid van dit wat ons motiveer (behoeftes). Hierdie teorieë probeer dus identifiseer wat ons "behoeftes" is en hoe dit verband hou met die motivering om in daardie behoeftes te voorsien.[10]

Maslow se hiërargie van behoeftes

Maslow se Piramide.

Inhoudsteorieë van menslike motivering sluit Abraham Maslow se hiërargie van behoeftes sowel as Herzberg se tweefaktorteorie in. Abraham Maslow het aangevoer dat individue 'n groeiende innerlike dryfkrag het wat oor groot potensiaal beskik. Sy hiërargie van behoeftes (1954) word algemeen gebruik om menslike motiewe te klassifiseer.[11]

Die behoeftes, gelys van basies (onderste-eerste) tot hoogs kompleks (boonste-jongste) is soos volg:[12]

  • Fisiologie (honger, dors, slaap, ens.)
  • Veiligheid/Sekuriteit/Beskutting/Gesondheid
  • Sosiaal/Liefde/Vriendskap
  • Selfbeeld/Erkenning/Prestasie
  • Selfverwesenliking/ontwikkeling tot volle potensiaal/kan nooit ten volle bereik word nie

Herzberg se tweefaktorteorie

Herzberg se tweefaktorteorie.

Herzberg onderskei tussen:

  • Motiveerders (bv. uitdagende werk, erkenning, verantwoordelikheid) wat tot positiewe bevrediging lei, en
  • Higiënefaktore (bv. status, beroepsekerheid, salaris en byvoordele) wat op sigself nie motiveer nie, maar, indien afwesig, demotiverend is.

Alderfer se ERG-teorie

Alderfer het op Maslow se hiërargie van behoeftes uitgebrei en die ERG-teorie geskep. Volgens hierdie teorie is daar drie groepe kernbehoeftes — bestaan (existence), verwantskap (relatedness), en groei (growth), vandaar die naam: ERG-teorie. Die bestaansgroep is gemoeid met die bevrediging van ons basiese materiële bestaansbehoeftes. Die tweede groep behoeftes is dié van verwantskap – ons begeerte na die instandhouding van belangrike persoonlike verhoudings. Ten slotte isoleer Alderfer groeibehoeftes as 'n intrinsieke begeerte na persoonlike ontwikkeling. Al hierdie behoeftes moet vervul word om 'n groter volkomenheid as mens te bereik.[13]

Selfbeskikkingsteorie (SBT)

Hierdie teorie fokus op die mate waarin 'n individu se gedrag selfgemotiveerd en selfbeskik is. Die SBT identifiseer drie ingebore behoeftes wat, indien dit bevredig word, optimale funksionering en groei meebring: bevoegdheid,[14][15] verwantskap,[16] en outonomie.[17][18]

Temporele motiveringsteorie

Hierdie teorie beklemtoon tyd as 'n kritiese, motiveringsfaktor. Die Temporele Motiveringsteorie-formule kan op uitstel en doelwitstelling as menslike gedragsvorms toegepas word.

Prestasiemotivering

Prestasiemotivering is 'n geïntegreerde perspektief gebaseer op die veronderstelling dat motivering uit die manier spruit waarop verskeie persoonlikheidskomponente daarop gerig is om te presteer. Die beklemtoning van prestasie is daarop gemik om voorheen afsonderlike benaderings, soos behoefte aan prestasie, met sosiale motiewe soos byvoorbeeld oorheersing te integreer.[19]

Kognitiewe teorieë

Kognitiewe teorieë definieer motivering in terme van mense se manier van dink oor situasies. Kognitiewe motiveringsteorieë sluit die doelwitstellingsteorie en verwagtingsteorie in.

Doelwitstellingsteorie

Die doelwitstellingsteorie is gebaseer op die idee dat individue soms 'n behoefte het om 'n duidelik gedefinieerde eindstaat te bereik. Hierdie eindstaat hou dikwels 'n eie beloning in. 'n Doel se doeltreffendheid word deur drie faktore beïnvloed: nabyheid, moeilikheidsgraad en spesifisiteit. 'n Ideale doel behoort binne 'n situasie te bestaan waar die tyd tussen die aanvangsgedrag en die eindstaat naby mekaar is. 'n Doel behoort nie te moeilik of te maklik te wees nie. Spesifisiteit is gemoeid met die beskrywing van die doel. Die doel behoort objektief omskryf en verstaanbaar te wees.

Verwagtingsteorie

Die verwagtingsteorie verduidelik die gedragsproses waarvolgens 'n individu een gedragsopsie bo 'n ander kies, en waarom/hoe hierdie besluit met betrekking tot sy doel geneem word.

Modelle van gedragsverandering

Sosiaal-kognitiewe gedragsmodelle sluit die konstrukte van motivering en wilskrag in. Motivering word beskou as 'n proses wat tot die vorming van gedragsvoornemens lei. Wilskrag word beskou as die proses waartydens voornemens in die gedrag self oorgaan. Met ander woorde, motivering en wilskrag verwys onderskeidelik na doelwitstelling en die najaag van daardie doel.

Tematiese appersepsietoets

Die sielkundiges David C. McClelland en John W. Atkinson het redeneer dat motivering onbewustelik moet wees. Hulle het onder andere die Tematiese Appersepsietoets gebruik om motiveringsvlakke te meet.[20][21]

Intrinsieke motivering en die 16 basiese begeertesteorie

Beginnende by studies waarby meer as 6 000 mense betrokke was, het professor Steven Reiss 'n teorie ontwikkel waarvolgens daar 16 basiese begeertes is wat amper alle menslike gedrag rig.[22][23] Intrinsieke motivering is die geneigdheid om uitdagings te soek, om meer te wil uitvind, ontdek en soveel moontlik te leer om sodoende jou volle potensiaal as mens te bereik.

Attribusieteorie

Die attribusieteorie, 'n teorie wat deur die sielkundige Fritz Heider ontwikkel is, beskryf die proses waardeur individue die oorsake van hulle gedrag en gebeure verduidelik.[24] 'n Vorm van die attribusieteorie wat deur die sielkundige Bernard Weiner ontwikkel is, beskryf 'n individu se oortuigings oor hoe die oorsake van sukses en mislukking hulle emosies en motiverings beïnvloed.

Benadering teenoor vermyding

Benaderingsmotivering kan omskryf word as wanneer 'n sekere gedrag of reaksie op 'n situasie/omgewing beloon word of 'n positiewe/gewenste uitkoms het. Vermydingsmotivering, aan die ander kant, word omskryf as wanneer 'n sekere gedrag of reaksie op 'n situasie/omgewing gestraf word of 'n negatiewe/ongewenste uitkoms het.[25] Navorsing toon dat, in gelyke omstandighede, vermydingsmotivering geneig is om sterker as benaderingsmotivering te wees.

Praktiese toepassings

Werknemersmotivering

Poseienskappemodel

Die poseienskappemodel (PEM), soos ontwikkel deur Hackman[26] en Oldham, poog om pos-ontwerp te gebruik om werknemersmotivering te verbeter. Hulle voer aan dat enige pos in terme van vyf sleutelposeienskappe beskryf kan word:[27][28]

  1. Vaardigheidsverskeidenheid – die mate waarin die pos die gebruik van verskillende vaardighede en talente vereis
  2. Taakidentiteit – die mate waarin die pos tot 'n duidelik identifiseerbare groter projek bydra
  3. Taakbetekenis – die mate waarin die pos die lewens of werk van ander mense beïnvloed
  4. Outonomie – die mate waarin die werker onafhanklikheid, vryheid en diskresie in die uitvoering van die werk het
  5. Taakterugvoering – Die mate waarin die werker duidelike, spesifieke, gedetailleerde inligting oor die effektiwiteit van sy of haar werksprestasie ontvang

Die PEM verbind bogenoemde posdimensies met kritiese sielkundige toestande wat tot gewenste persoonlike en werksuitkomste lei. Die kerndimensies kan gekombineer word om 'n voorspellende indeks te vorm, naamlik die Motiveringspotensiaaltelling.

Motiveringspotensiaaltelling

Die motiveringspotensiaaltelling (MPT) word met behulp van bogenoemde kerndimensies soos volg bereken:

Indien 'n pos 'n hoë MPT het, voorspel die poseienskappemodel dat motivering, prestasie en werksbevrediging positief beïnvloed sal word, en dat die waarskynlikheid van negatiewe uitkomste, soos afwesigheid en werknemersomset, sal afneem.

Erkenningsprogramme

Werknemerserkenning gaan nie net oor geskenke en punte nie. Dit gaan daaroor dat die korporatiewe kultuur verander ten einde doelwitte en inisiatiewe te bereik en, heel belangrikste, om werknemers by die maatskappy se kernwaardes en oortuigings te betrek.

Opvoeding

Motivering is van besondere belang vir opvoedkundige sielkundiges op grond van die noodsaaklike rol wat dit in studenteleer speel.

Motivering het verskeie uitwerkings op die manier waarop studente leer en hoe hulle met leerstof omgaan.[29] Dit kan:

  1. gedrag ten opsigte van spesifieke doelwitte rig.
  2. tot verhoogde inspanning en energie lei.
  3. die aanpak van, en volharding in, aktiwiteite verhoog.
  4. kognitiewe prosessering verbeter.
  5. vasstel watter gedrag deur gevolge versterk word.
  6. tot beter prestasie lei.

Besigheid

By die laagste vlakke van Maslow se hiërargie van behoeftes, soos fisiologiese behoeftes, is geld wel 'n motiveerder, maar die effek daarvan op personeel is egter nie van lange duur nie (in ooreenstemming met Herzberg se tweefaktor motiveringsmodel). By hoër vlakke van die hiërargie is aanprysing, respek, erkenning, bemagtiging en 'n gevoel van geborgenheid baie sterker motiveerders as geld, soos blyk uit Abraham Maslow se motiveringsteorie.

(Rekenaar)speletjies

Motiveringsmodelle vorm die kern van speletjiesontwerp, want sonder motivering sal 'n speler nie daarin belangstel om verder binne 'n sekere speletjie te vorder nie.[30] Daar bestaan verskeie modelle vir speletjiesmotivering, insluitend dié van Richard Bartle. Jon Radoff het 'n vierkwadrant-speletjiesmodel ontwikkel wat samewerking, kompetisie, immersie (verdieping) en prestasie insluit.[31]

Motiveringspreker

'n Motiveringspreker lewer toesprake wat daarop gemik is om 'n gehoor te motiveer of te inspireer. Hierdie sprekers stel hulle ten doel om hulle gehore uit te daag of te help verander. Daar was al baie hoëprofiel motiveringsprekers in die 21e eeu, naamlik Tony Robbins, Zig Ziglar, Nick Vujicic, Louise Hay, Wayne Dyer ens.

Sien ook

Verwysings

Verdere leesstof