Stonehenge

prehistoriese monument in Engeland

Stonehenge is ’n prehistoriese monument in Wiltshire, Engeland, sowat 13 km noord van Salisbury. Dit is die ruïnes van ’n kring regopstaande klippe (menhirs) in ’n kompleks van monumente uit die Nuwe Steentydperk en Bronstydperk wat verskeie grafheuwels insluit.[1]

Stonehenge, Avebury en bybehorende terreine*
Unesco-wêrelderfenisterrein

Stonehenge in 2007.
Ligging van Stonehenge op 'n kaart (Engeland)
Stonehenge
Stonehenge
Koördinate: 51°10′43.84″N 1°49′34.28″W / 51.1788444°N 1.8261889°W / 51.1788444; -1.8261889 1°49′34.28″W / 51.1788444°N 1.8261889°W / 51.1788444; -1.8261889
LandeVlag van Verenigde Koninkryk Verenigde Koninkryk
TipeKultureel
Kriteriai, ii, iii
Verwysings373
StreekEuropa
Inskripsiegeskiedenis
Inskripsie1986  (10de Sessie)
* Naam soos dit in die Wêrelderfenislys verskyn.
Streek soos deur Unesco geklassifiseer.

Argeoloë glo dit is tussen omstreeks 3000 en 2000 v.C. opgerig. Volgens radiokoolstofdatering in 2008 kon die eerste klippe tussen 2400 en 2200 v.C. opgerig gewees het,[2] terwyl nog ’n teorie bestaan dat blouklippe reeds in omstreeks 3000 v.C. opgerig is.[3][4][5]

Stonehenge is een van die beroemdste prehistoriese monumente ter wêreld. Die omringende ronde aardwal en sloot, wat die eerste boufase van die monument was, word gedateer op omstreeks 3100 v.C. Stonehenge, Avebury en die omgewing is in 1986 by Unesco se lys Wêrelderfenisgebiede gevoeg. Dit word deur die Britse regering beskerm en behoort aan die Kroon. Die omliggende terrein behoort aan die National Trust.[6][7]

Argeologiese bewyse is in 2008 gevind wat daarop dui dat Stonehenge van sy ontstaan af ’n begraafplaas kon gewees het.[8] Die datering van veraste oorblyfsels wat op die terrein gevind is, dui daarop dat dit menslike bene kan bevat van reeds omstreeks 3000 v.C., toe die sloot en wal geskep is. Dit is minstens 500 jaar lank vir dié doel gebruik.[9]

Die naam Stonehenge beteken waarskynlik "hangende klippe".[10]

Funksie en oprigting

’n Rekenaarweergawe van Stonehenge.

Stonehenge is opgerig deur ’n kultuur wat geen geskrewe rekords agtergelaat het nie en daarom is daar verskillende menings oor verskeie aspekte van die monument. ’n Aantal mites bestaan ook daaroor.[11]

Daar is min of geen direkte bewyse oor die metodes wat deur die bouers gebruik is nie. Verskeie skrywers het deur die jare voorgestel dat bonatuurlike of antieke metodes gebruik is omdat dit glo onmoontlik sou gewees het om die klippe andersins te beweeg. Algemene tegnieke met tegnologie uit die Nuwe Steentydperk as basis is egter al in demonstrasies gebruik om klippe van soortgelyke grootte te skuif en in dieselfde posisies te plaas. Voorgestelde funksies van die terrein sluit in gebruik vir astronomiese waarneming of godsdienstige rituele.

Een van die mees onlangse teorieë is dat dit gebruik is as ’n plek van genesing en dat dit die rede is vir die baie grafte in die gebied en die getuienis van trauma-misvorming in sommige grafte. Die voorstellers van dié teorie erken egter dat daar meer as een gebruik kon wees en dat dit ook dalk as ’n plek van aanbidding gebruik is.[12] Isotoop-ontledings van die oorblyfsels dui daarop dat baie van die mense wat daar begrawe is van ander plekke kom, soos die Middellandse See-gebied, Duitsland en Frankryk .[13]

’n Tweede onlangse teorie is dat Stonehenge deel was van ’n rituele landskap wat met Durrington Walls verbind was deur lane en die Avonrivier. Daarvolgens was die gebied om Durrington Walls Henge ’n plek vir die lewendes, en Stonehenge ’n plek vir die dooies. ’n Reis met die Avon langs na Stonehenge was deel van ’n rituele reis na die dood, ter ere van voorouers en onlangse afgestorwenes.[14]

Waarvoor Stonehenge ook al gebruik is, sy ontwerp sluit ’n funksie vir astronomiese waarneming in. Dit kon gebruik gewees het om verduisterings, nagewenings en ander gebeure in die ruimte te voorspel wat vir die godsdiens van dié tyd belangrik was.[15]

Nog ’n teorie wat in 2012 die lig gesien het, is dat die doel van die monument was om die volke van die Britse eiland te verenig. Daarvolgens was die samewerking tussen verskillende streke noodsaaklik vir die oprigting van Stonehenge,[11] veral omdat baie van die klippe oor lang afstande vervoer is, van so ver as Wallis.[16]

Galery

Sien ook

Eksterne skakels

Verwysings