Suurkool

Suurkool, of sauerkraut, is fyngesnyde kool wat vanweë verskeie soorte melksuurbakterieë gegis het.[1][2] Dit het ’n lang raklewe en ’n kenmerkende suur smaak danksy die melksuur wat gevorm word wanneer die bakterieë die suikers in die kool laat fermenteer.[3][4]

Duitse sauerkraut.

Oorsig

Tuisgemaakte suurkool.

Gefermenteerde kos kom in baie kulture voor, en suurkool is seker een van die bekendste soorte gegiste koolgeregte.[5] Die Antieke Romeinse skrywers Cato die ouere (in sy De Agri Cultura) en Columella (in sy De re Rustica) noem die preservering van kool en rape met sout.

Suurkool is veral gewild in Oos-Europese en Duitse kookkuns, maar ook in Nederland (zuurkool) en Frankryk (choucroute).[6] Die woord "sauerkraut", soos dit ook in Engels genoem word, kom uit Duits en beteken letterlik suurkool. Die name in Slawiese en ander Oos-Europese lande beteken soms "gegiste kool" – soos квашеная капуста, kwasjenaja kapoesta (Russies), kiszona kapusta (Pools) en skābēti kāposti (Letties) – of "suur kool" – soos кисело зеле, kiselo zele (Bulgaars), kiselo zelje (Kroaties) en savanyúkáposzta (Hongaars). [7]

Voordat bevrore kos, yskaste en goedkoop vervoer uit warmer gebiede algemeen geraak het in Noord-, Sentraal- en Oos-Europa, was sauerkraut nes ander gepreserveerde kossoorte in die winter ’n belangrike bron van voedingstowwe. James Cook het altyd suurkool saamgeneem op sy seereise, want hy het uit ondervinding geweet dit voorkom skeurbuik.[8][9]

Tydens die Eerste Wêreldoorlog het die Amerikaanse vervaardigers van suurkool dit "liberty cabbage" genoem uit vrees dat die Amerikaanse publiek ’n produk met ’n Duitse naam sou verwerp.[10]

Verwysings

Eksterne skakels