Wenera 7

Sowjet ruimtetuig

Wenera 7 (Russies: Венера-7 wat Venus 7 beteken) is 'n Sowjetse ruimtetuig wat deel van hul Wenera-ruimteprogram was. Toe dit op 15 Desember 1970 op Venus se oppervlakte geland het, was dit die eerste ruimtetuig om 'n sagte landing op 'n ander planeet te maak en die eerste om data terug na die Aarde te versend.[2][3]

Wenera 7
Reproduksie van die Wenera 7 landingstuig by die Sergei Pavlovich Korolyov Museum of Cosmonautics
SendingtipeVenus-lander
OperateurLavochkin
COSPAR-ID1970-060A Edit this at Wikidata
SATCAT-nr.4489
SendingstydsduurRuimtetuig: 52 jaar, 11 maande, en 26 dae
(in omwenteling)
Lander: 23 minute (finaal)
Ruimtetuigeienskappe
Ruimtetuig4V-1 Nr. 630
VervaardigerLavochkin
Lanseermassa1 180 kg[1]
Landingsmassa500 kg
Begin van sending
Lanseerdatum17 Augustus 1970, 05:38:22 UTC[1]
VuurpylMolniya 8K78M
LanseerplekBaikonoer 31/6
Einde van sending
Laaste kontak15 Desember 1970, 06:00 UTC
Omwentelingsparameters
VerwysingstelselHeliosentries
Periheliumhoogte0,69 astronomiese eenhede (103 000 000 km)
Afeliumhoogte1,01 astronomiese eenhede (151 000 000 km)
Helling2,0°
Periode287 dae
Venus-lander
Landingsdatum15 Desember 1970, 05:37:10 UTC
Landingsplek5°S 351°E / 5°S 351°O / -5; 351

Seël van Wenera 7 

Ontwerp

Die landingstuig was ontwerp om druk tot 18 MPa en temperatuur tot 580°C te kan weerstaan.[4] Dit was aansienlik groter as wat verwag kan word tydens die landing, maar weens onsekerheid oor die temperatuur en druk op Venus se oppervlakte het die ontwerpers dit goed gedink om 'n groot veiligheidsmarge daar te stel.[4] Die verharde staal het egter die tuig se massa verhoog en gevolglik kon minder wetenskaplike instrumente op die ruimtetuig en landingstuig geïnstalleer word.[4] Daar was 'n sonwind-gelaaide-deeltjie-bespeurder en 'n kosmiese-straling-bespeurder op die vuurpyl geïnstalleer.[5] Op die landingstuig was temperatuur- en druk-sensors sowel as 'n versnellingsmeter geïnstalleer om die atmosfeer se digtheid te bepaal.[6] Daar was ook 'n radaraltimeter op die landinsgtuig geïnstalleer.[6]

Lansering

Die vuurpyl is op 17 Augustus 1970 om 05:38 UTC vanaf die Aarde gelanseer. Die ruimtetuig na Venus het uit die inter-planetêre bus, gebaseer op die 3MV-stelsel, en 'n landingstuig bestaan.[7] Tydens die vlug na Venus was daar twee middebaankorreksies gemaak deur die aanboord KDU-414-vuurpyl te gebruik.[7]

Landing

Wenera 7 het die atmosfeer van Venus op 15 Desember 1970 binnegedring.[7] Die landingstuig was so lank as moontlik aan die satellietbus gekoppel gehou tydens die eerste gedeelte van die binnedringing van die atmosfeer[7] om die bus 'n kans te gee om die landingstuig se temperatuur op −8 °C vir so lank as moontlik te hou.[7] Die landingstuig was ontkoppel nadat die atmosfeer se digtheid sodanig was dat dit die bus se verbinding met die Aarde verbreek het.[7] Die valskerm is ontplooi op 'n hoogte van 60 km en toetsing van die atmosfeer het begin met die resultate wat bewys het dat die atmosfeer uit 97% koolstofdioksied bestaan.[7] Die valskerm was aanvanklik ingebind om net 1.8 m² groot te wees en na 13 minute is dit verder ontplooi na 2.5 m² toe die inbind tou gesmelt het soos beplan is.[6] Nog ses minute later het die valskerm begin om te faal met die daalsnelheid wat vinniger was as wat beplan was.[6][7] Die valskerm het uiteindelik heeltemal gefaal en die landingstuig het verder vrygeval na die oppervlakte van Venus.[6] Die gevolg was dat die landingstuig die oppervlakte van Venus getref teen 'n snelheid van 59 km/h om 05:37:10 UTC.[7] Die Venus landings koördinate was 5°S 351°E.[8]

Die landingstuig was still na impak[7] maar die opnamebande aan boord het aanhou opneem.[9] 'n Paar weke later het die radiosterrekundige Oleg Rzhiganog 23 minute se baie swak seine op die bande gevind.[9][10] Toe die landingstuig geland het, het dit waarskynlik gebons en op sy sy te lande gekom wat tot gevolg het dat die medium wins antenna nie korrek na die Aarde opgestel was nie en dus 'n transmissie verlies ondervind het.[9]

Die tuig het vir 53 minute data na die Aarde versend, wat 20 minute insluit terwyl dit op die oppervlakte was.[11] Die temperatuur op die oppervlakte was 475° Celsius ± 20 °C.[7][11] Deur die temperatuur en modelle van die atmosfeer te gebruik was daar bepaal dat die druk 9.0 MPa ± 1.5 MPa moes gewees het.[12] Met die landingstuig se skielike stopaksie (van vryval na doodstil binne 0.2 sekondes) is dit duidelik dat die landingstuig 'n soliede oppervlakte onder die stof getref het.[12]

Die landingstuig het inligting oor die oppervlakte van Venus verskaf wat andersins glad nie deur 'n dik laag van die atmosfeer gesien kon word nie. Die landingstuig het bevestig dat mense nie op die oppervlakte van Venus kan oorleef nie. Dit het ook die moontlikheid uitgesluit dat daar enige water op die planeet mag wees.[11][7]

Verwysings


Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal.