2I/Borisov

2I/Borisov (voorheen bekend as C/2019 Q4 (Borisov))[4][5] is die eerste interstellêre komeet en slegs die tweede interstellêre liggaam, naas 1I/ʻOumuamua, wat in die Sonnestelsel waargeneem is.[6][7] Dit het ’n heliosentriese baaneksentrisiteit van 3,4 en en is nie aan die Son gebonde nie. Die komeet het teen einde Oktober 2019 deur die Sonnestelsel beweeg en op 8 Desember op sy naaste afstand aan die Son gekom: net meer as 2 AE[2][8][9] In November 2019 het sterrekundiges van die Yale-universiteit gesê die komeet (insluitende sy koma en stert) was 14 keer so groot soos die Aarde.[10]

2I/Borisov

Borisov in Oktober 2019.
Ontdekking
Ontdek deur: Gennadi Borisof
Ontdekkingsdatum: 30 Augustus 2019
Alternatiewe name: 2I, 2I/2019 Q4, 2I/Borisov,
2I/2019 Q4 (Borisov),
C/2019 Q4 (Borisov),
gb00234
Wenteleienskappe
Perihelium: 2,008±0,005 AE
Lengteas: −0,851±0,006 AE
Eksentrisiteit: 3,36±0,02 (JPL)
3,36±0,02 (Gray)[1]
Baanhelling: 44,04±0,04 grade
Laaste perihelium: 8 Desember 2019[2][3][1]

Middel Maart 2020 is gesien dat die komeet aan die opbreek is[11] en in April was daar nog tekens van opbreking.[12][13][14]

Naam

Nadat vasgestel is die voorwerp, wat op 30 Augustus 2019 deur Gennadi Borisof van die Krim ontdek is, is inderdaad ’n interstellêre voorwerp soos wat vermoed is en dat dit nie aan die Son gebonde is nie, het die Internasionale Astronomiese Unie (IAU) se Kleinplaneetsentrum sy voorlopige naam, C/2019 Q4 (Borisov), in 2I/Borisov verander volgens die tradisie om komete na hulle ontdekkers te noem.[5] Die "2I" vooraan dui aan dit is die tweede interstellêre voorwerp wat in die Sonnestelsel waargeneem is, naas ʻOumuamua.[4][5] Anders as ʻOumuamua, wat ’n asteroïdeagtige voorkoms gehad het, het Borisof se aanvanklike waarneming en daaropvolgende bevestigings deur derde partye die teenwoordigheid van ’n koma om die liggaam aangedui – ’n wolk van gas en stof wat die liggaam as ’n komeet identifiseer.[15]

Kenmerke

Samestelling

Op 13 September 2019 het die Gran Telescopio Canarias ’n voorlopige laeresolusie-sigbareligspektrum van 2I/Borisov verkry wat onthul het die liggaam het ’n oppervlaksamestelling wat nie veel verskil van ’n tipiese Oortwolkkomeet nie.[16][17] Daarbenewens het die William Herschel-teleskoop op die eiland La Palma die waarneming van sianiedvrystellings (formule: CN) by 388 nm aangekondig (hierdie soort vrystellings is in baie ander komete bespeur, onder meer Halley se Komeet).[18]

Wentelbaan

2I/Borisov se wentelbaan deur die Sonnestelsel.

2I/Borisov se wentelbaan is uiters hiperbolies; dit het die grootste baaneksentrisiteit van meer as 300 bekende hiperboliese komete, ook baie groter as dié van ʻOumuamua.[19] Met ’n waarnemingstydperk van 13 dae is die grootste waarskynlikheid van die hiperboliese wentelbaan ’n eksentrisiteit van sowat 3,5, met ’n perihelium by 2 AE.[1] Ná 151 waarnemings het die monitorstelsel Scout van Nasa se Jet Propulsion Laboratory besluit op ’n eksentrisiteit van 2,9-4,5.[20]

In vergelyking daarmee het die planete se byna ronde wentelbane ’n eksentrisiteit van omtrent nul, terwyl ʻOumuamua s’n gereken word op 1,2. Hoe kleiner die periheliumpunt, hoe kleiner sal die eksentrisiteit wees. Interstellêre voorwerpe kan baie groot eksentrisiteite hê, soos groter as 3, omdat hulle nie tot die Son gebonde is nie en ’n klein verandering in snelheid ’n groot verandering in eksentrisiteit sal meebring.

Vanweë sy baanhelling van 44 grade het 2I/Borisov nie baie naby aan enige planeet gekom nie.[21]

In die interstellêre ruimte reis 2I/Borisov ’n ligjaar relatief tot die Son in rofweg 9 000 jaar.[Nota 1] Dit het die Sonnestelsel in die rigting van die sterrebeeld Teleskoop verlaat.[22] Die liggaam het sowat ’n miljoen jaar gelede binne 5,7 ligjare van die middel van die dubbelster Kruger 60 (13,18 ligjare van hier in die sterrebeeld Kefeus) verbybeweeg teen ’n lae snelheid van 3,4 km/s.[23]

Waarnemings in 2020

Op 12 Maart 2020 het sterrekundiges berig daar is bewyse dat die komeet aan die opbreek is.[11] In April 2020 was daar nog waarnemings van moontlike opbreking.[12][13][24] Ná ’n opvolgstudie is op 6 April 2020 aangekondig dat die stuk wat afgebreek het, verdwyn het.[25][14]

Nota

Verwysings

Eksterne skakels