Belgiese nasionale rugbyspan

Die Belgiese nasionale rugbyspan (Duits: Belgische Rugby-Union-Nationalmannschaft; Frans: Équipe nationale de Belgique de Rugby de XV; Nederlands: Belgisch rugbyteam) is die nasionale rugbyspan wat België in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Rugby word in België geadministreer deur die Belgiese Rugbyfederasie (FBRB) wat in 1931 gestig is. Hulle dra die bynaam “Swart duiwels”. België word deur Wêreldrugby as ’n vlak drie-span erken. Die Belgiese rugbyspan is tans (April 2024) 28ste op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.[4]

België
UnieBelgiese Rugbyfederasie (FBRB)
Bynaam(e)Zwarte Duivels (nl) / Diables noir (fr) / Schwarze Teufel (de) (Swart duiwels)
EmbleemBelgiese leeu
StadionNelson Mandela-stadion, Brussel
Afrigter(s)Vlag van Frankryk Laurent Dossat (sedert 2024)
Kaptein(s)Jens Torfs
Spankleure


Alt. kleure

Statistiek
Meeste toetseThomas Dienst (27)[1]
Meeste punteAlan Williams (173)[2]
Meeste drieëThomas de Molder (5)[3]
Eerste internasionale wedstryd
Vlag van Nederland Nederland 0–6 België Vlag van België
(Amsterdam, Nederland; 1 Julie 1930)
Grootste oorwinning
Vlag van België België 94–3 Verenigde Arabiese Emirate Vlag van Verenigde Arabiese Emirate
(Doebai, Verenigde Arabiese Emirate; 8 Desember 2012)
Grootste nederlaag
Vlag van Spanje Spanje 77–0 België Vlag van België
(Madrid, Spanje; 8 Desember 1996)
Unie webwerf
www.rugby.be

België het op 1 Julie 1930 in sy eerste toetswedstryd teen Nederland gespeel en met 6–0 gewen. In die daaropvolgende jare het albei spanne gereeld ontmoet. Van die ander opponente in die begintydperk was Italië en Duitsland. Sedert die 2000’s het die rugbysport in België verder ontwikkel en die keurspan lok intussen gereeld skare van sowat 1 000 tydens tuiswedstryde. Hulle ding in die Europese Rugbykampioenskap met ander opkomende rugbyspanne mee.

Beheerliggaam

Die beheerliggaam vir rugby in België is die Belgiese Rugbyfederasie (Fédération Belge de Rugby, FBRB). Die FBRB is in 1931 gestig en het in 1998 by die Internasionale Rugbyraad (IRR, nou Wêreldrugby) aangesluit.[5] Daarbenewens was die FBRB in 1934 ’n stigtingslid van die kontinentale beheerliggaam Fédération Internationale de Rugby Amateur (FIRA; nou Rugby Europa).[6]

Die hoogste rugbyliga in België is die Eerste Divisie, waaraan agt spanne deelneem. Die meeste spelers van die Belgiese nasionale span is uit dié liga afkomstig. Van die ander spelers is veral in Frankryk aktief. In België aktiewe nasionale spelers draf meestal uit vir die professionele span Brussels Devils wat sedert 2021 aan die Rugby Europa Superbeker deelneem.

Naas die amptelike nasionale span roep die FBRB ook ander keurspanne byeen. Net soos ander rugbylande beskik België oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Europese en Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem.[7] Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hul met hul afrigting.

Geskiedenis

Invoering en vestiging van rugby

België teen Italië tydens die FIRA-toernooi in 1937

Die Belgiese nasionale span het hulle eerste wedstryd op 1 Julie 1930 teen Nederland gespeel, waarmee die tot op hede aanhoudende mededinging met die buurland afgeskop het. België kon dié wedstryd met 6–0 wen. Een jaar later is die Belgiese Rugbyfederasie (Fédération Belge de Rugby, FBRB) gestig en van 1932 af het België vir vyf jaar lank elke jaar teen Nederland gespeel. In 1932 was die uitslag gelykop maar het die wedstryde in die 1930’s wat daarop gevolg het verloor. In 1934 was die FBRB een van die stigtingslede van die vastelandse beheerliggaam Fédération internationale de rugby amateur (FIRA) wat onder Franse leiding as mededinger tot die destydse eksklusiewe, Angel-Saksies oorheersde Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR, nou Wêreldrugby) gestig is.[6][8] Nogtans was internasionale ontmoetings skaars. In 1937 is die Eerste Divisie, die nasionale kampioenskap, vir die eerste keer beslis. In dieselfde jaar het die span, tydens die tweede FIRA-toernooi in Parys (die Europese Rugbykampioenskap se voorloper), ook teen Italië gespeel, maar hulle is verslaan. Hulle kon in die uitspeelwedstryd om die vyfde plek Nederland klop.[9]

Gereelde internasionale kontak

In die 1950’s het België aangehou om teen Nederland te speel. Tydens die Europese Rugbybeker 1952 is hulle deur Duitsland geklop en daarmee in die eerste rondte uitgeskakel.[10] Tydens die Rugbybeker 1954 het hulle vir die eerste keer Spanje ontmoet, maar hulle is weer in die eerste rondte uitgeskakel.[11]

Toe die FIRA die Europese Rugbykampioenskap ná ’n onderbreking van meer as tien jaar hervat het (onder deelname van Noord-Afrikaanse spanne), het die Belge begin in die tweede afdeling. Tydens die FIRA-nasiesbeker 1965/66 het hulle ná ’n gelykop teen Portugal op eie bodem promosie na die eerste afdeling misgeloop.[12] Tydens die FIRA-nasiesbeker 1966/67 het hulle in die eindstryd teen Tsjeggo-Slowakye vasgeval.[13] In 1967/68 is hulle deur Spanje, Marokko en Portugal verslaan.[14] In 1968/69 het die span ná ’n oorwinning oor Nederland die finale rondte gehaal, maar hulle is deur Italië en Spanje geklop.[15] In 1970/71 is België in die groepfase uitgeskakel.[16]

Ná ’n herstrukturering van die FIRA-beker het België tydens die FIRA-beker 1974/75 in die tweede afdeling aangebly, maar albei groepwedstryde verloor.[17] Daarmee is hulle na die derde afdeling gerelegeer, waar hulle ná drie oorwinnings regstreekse promosie behaal het.[18] In 1977/78 het die span ’n nederlaag teen Marokko gely, terwyl hulle nie teen Joego-Slawië gespeel het nie en dié wedstryd ook as ’n nederlaag geag is.[19] Tot in die middel-1980’s het die Belge veral in die derde afdeling gespeel, maar ná nog ’n herstrukturering ná die FIRA-beker 1984/85, toe die FIRA die tweede en derde afdeling saamgevat het, het hulle in die tweede afdeling aangebly.

In 1985 het die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby), wat destyds baie eksklusief was en slegs agt lede gehad het, op die invoering van die rugbywêreldbekertoernooi besluit. Vir die eerste Rugbywêreldbeker 1987 het die IRVR nege spanne vir deelname genooi, maar België het geen uitnodiging ontvang nie.[20] Die Belge se eerste deelname was tydens die Rugbywêreldbeker 1991-kwalifisering, waar hulle in die tweede rondte van die Europese kwalifisering slegs die vierde plek kon behaal, nadat België al sy drie wedstryde verloor het.[21]

In die 1990’s het die span al hoe meer wedstryde teen hulle gereelde Europese teenstanders begin speel en tydens die FIRA-beker 1990–1992 aan die eerste divisie deelgeneem.[22] Tydens die Rugbywêreldbeker 1995-kwalifisering kon die span slegs Switserland klop, maar hulle is deur Portugal en Spanje geklop.[23]

Die FIRA het die Europese toernooi weereens herstruktureer, maar België het tydens die FIRA-beker 1994–1997 in die eerste afdeling aangebly en tydens die hoofrondte die laaste groepplek beklee.[24] België het in 1998 amptelik by die IRR aangesluit. Die jare van 1997 tot 1999 was ’n tyd van veranderinge in Europese rugby, aangesien FIRA homself onder die IRB as vastelandse beheerliggaam geskik en gelyktydig die nie-Europese lede ontslaan het. Buitendien het met Frankryk en Italië die twee sterkste spanne nie meer aan die Europese kampioenskappe deelgeneem nie. Om dié redes is ander toernooie beslis, wat nie as vastelandse kampioenskappe geag is nie. Tydens die FIRA-toernooi 1996/97 het die Belge die agste plek behaal. Tydens die aansluitende Rugbywêreldbeker 1999-kwalifisering, wat in die wintersemester 1997/98 beslis is, het hulle slegs die vyfde groepplek behaal.[25]

Tydens die FIRA-toernooi 1998/99 het België sy wedstryde teen Joego-Slawië en Luxemburg gewen, terwyl hulle deur Tunisië en Duitsland geklop is. Daarmee het die span die derde groepplek behaal, waarmee hulle die Europese Nasiesbeker 1999/2000 se derde afdeling gehaal het, die eerste toernooi van die Europese toernooi se nuwe formaat. België het die wedstryd teen Switserland gewen, maar hulle het die ander wedstryde teen Pole, Tsjeggië en Letland verloor.[26]

In die nuwe millennium

Duitsland speel tydens die Europese Rugbywêreldbeker 2007-kwalifisering teen België op 29 April 2006 in Hannover, Duitsland
Pole speel tydens die Europese Rugbywêreldbeker 2011-kwalifisering teen België op 30 Mei 2009

Die Europese Nasiesbeker 2000/01 en die Europese Nasiesbeker 2001/02 was gelyktydig die eerste en tweede rondte van die Rugbywêreldbeker 2003-kwalifisering en die Belge het met hul promosie na die tweede afdeling ook die tweede rondte gehaal, maar daar het hulle slegs die laaste plek behaal.[27]

Tydens die Europese Nasiesbeker 2002–2004 het die Belge die laaste plek behaal.[28] Die Europese Nasiesbeker 2004–2006 het gelyktydig as die Rugbywêreldbeker 2007-kwalifisering se eerste deel gedien. Dit het vir die span in die tweede rondte geëindig, nadat hulle die tweede plek behaal het.[29] Voor die Rugbywêreldbeker 2007 het ’n Belgiese span teen Argentinië gespeel. Op 24 Mei 2008 het ’n Belgiese XV teen die Britse Barbarians gespeel.

België het geleidelik verbeter, van die 55ste rang af in 2004 het die “Swart Duiwels” gedurende die volgende jare baie verbeter en goeie resultate teen ander Europese spanne behaal, en in 2010 een van die 30 beste spanne op die IRR se ranglys geword. Sedert België se toetreding tot die eerste 30 spanne in die internasionale ranglys het hulle daarin geslaag om hul plek te behou.[4] Die Europese Nasiesbeker 2006–2008 het die Belge in die tweede plek afgesluit en sodoende promosie na die eerste afdeling misgeloop.[30] Tydens die Europese Nasiesbeker 2008–2010, wat ook deel gevorm het van die Rugbywêreldbeker 2011-kwalifisering, het die Belge sowel promosie asook die Europese uitspeelwedstryd misgeloop.[31]

Gedurende die Europese Nasiesbeker 2010–2012 het België ’n baie suksesvolle veldtog gehad en kon tussen Maart 2011 en Desember 2012 tien agtereenvolgende wedstryde wen.[32] Hulle het vir die 2012–14-toernooi tot die ENB 1A gevorder, waar hulle teen spanne soos Spanje en Portugal, maar ook die Rugbywêreldbeker 2011-deelnemers Roemenië, Georgië en Rusland gespeel het. Die span het egter in die sesde plek geëindig en is weer na die afdeling 1B gerelegeer.[33] Aangesien dit ook deel was van die Europese Rugbywêreldbeker 2015-kwalifisering, het die span ook dié toernooi misgeloop.[34] Tydens die Europese Nasiesbeker 2014–2016 het België regstreekse promosie na afdeling 1A behaal.[35]

’n Kontroverse en sy gevolge

Ná nog ’n formaatverandering in die Europese Nasiesbeker het België aan die hoogste vlak Europese Rugbykampioenskap 2017 deelgeneem. Dié toernooi se uitslae is soos die Europese Rugbykampioenskap 2018 s’n vir die Rugbywêreldbeker 2019-kwalifisering in ag geneem (uitsluitende die wedstryde teen die reeds gekwalifiseerde Georgiërs). Die Belge kon egter slegs het ’n oorwinning oor Duitsland aanteken. Daarna het hulle op 18 Maart 2018 in Brussel ’n omstrede 18–10-tuisoorwinning oor Spanje behaal. Die Roemeense skeidsregter Vlad Iordăchescu en die twee Roemeense lynregters het tydens die wedstryd verskeie omstrede besluite ten gunste van die Belge geneem, wat daartoe gelei het dat Roemenië pleks van Spanje sou gekwalifiseer het.[36]

Drie weke later het Wêreldrugby ’n ondersoek aangekondig. Die amptenare was bekommerd oor die benoeming van ’n klaarblyklik nie neutrale skeidsregterspan deur die vastelandse beheerliggaam Rugby Europa. Hulle wou ook ondersoek instel na gerugte wat intussen opgeduik het, waarvolgens verskeie spanne uitgesluite spelers ingespan het. Nasionale rugbyspanne kon destyds naas staatsburgers ook buitelandse spelers insluit, wat vir ten minste drie jaar sonder onderbreking hul verblyf in die betrokke land gehad het (sedert 2020 is dit vyf jaar).[37] Middel Mei 2018 het die onafhanklike ondersoekkomitee in opdrag van Wêreldrugby sy verslag gepubliseer. Volgens dié berig het België, Roemenië en Spanje in verskeie wedstryde spelers ingespan, wat volgens die verblyfreël nie geskik was nie. In België se geval was dit ses kwalifiseringswedstryde en hulle is met die aftrekking van 30 tabelpunte beboet (vyf vir elke wedstryd). Gevolglik het die span van die vierde na die sesde plek afgegly. Roemenië, wat ook beboet is, is by dié toernooi deur Rusland vervang, terwyl Duitsland pleks van Spanje aan die volgende kwalifiseringsrondte kon deelneem.[38] In Junie het ’n onafhanklike appèlliggaam dié uitspraak bevestig.[39]

Verdere ontwikkeling

Tydens die Europese Rugbykampioenskap 2020 kon die Belge slegs ’n oorwinning oor Rusland aanteken, waarmee hulle in die laaste plek geëindig het en om promosie/relegasie teen die Nederlanders moes speel. Hulle het ’n naelskraapse 21–23-nederlaag gely, waarmee hulle na die Europese Rugbytrofee gerelegeer is en nie meer vir die Rugbywêreldbeker 2023 kon kwalifiseer nie.[40] In Maart 2020 is die internasionale speelprogram weens die wêreldwye Covid-19-pandemie tot in Oktober 2021 gekniehalter. Tydens die Europese Rugbytrofee 2021/22 het België die eerste plek behaal, waarvolgens hulle na die Europese Rugbykampioenskap 2022/23 gepromoveer is, waartydens die span die sewende plek onder agt deelnemers beklee het.[41] Tydens die Europese Rugbykampioenskap 2023/24 het die Belge weer die sewende plek behaal, waarmee hulle in dié afdeling aangebly het.[42]

Kleure, embleem en bynaam

België speel tradisioneel in ’n rooi-swart-gestreepte trui met die Belgiese vlag op die moue, swart broeke en swart sokkies met die Belgiese vlag aan die bokant. Hul alternatiewe trui is geel-swart-gestreep met die Belgiese vlag op die moue, swart broeke en swart sokkies met die Belgiese vlag aan die bokant.

Die huidige truiverskaffer is die Nieu-Seelandse sportuitruster Canterbury en die truiborg is die Belgiese THV.[43] Die beheerliggaam se kenteken verskyn op die regterbors, die truiverskaffer se kenteken links en die borgkenteken in die middel.

Die Belgiese Rugbyfederasie se kenteken toon ’n leeu met doelpale op die agtergrond voor ’n rugbybal in die nasionale kleure swart-geel-rooi met die afkorting FBRB daaronder. Die Belgiese nasionale rugbyspan se bynaam is “Swart Duiwels” (Duits: Schwarze Teufel; Frans: Diables noir; Nederlands: Zwarte Duivels).

Tuisstadion

België se tuisstadion is die Nelson Mandela-stadion in Brussel.

Toetswedstryde

België het 98 van sy 232 toetswedstryde gewen, ’n wenrekord van 42,24%. België se statistieke in toetswedstryde teen alle lande, in alfabetiese volgorde, is soos volg (korrek teen Maart 2024):[44]

OpponentGespeelGewenVerloorGelykop% Gewen
Armenië10100,00
Brasilië10100,00
 Britse Barbarians10100,00
Denemarke531160,00
Duitsland1256141,67
Fidji10100,00
Georgië70700,00
Hongkong413025,00
Italië20200,00
Kanada10100,00
Kroasië422050,00
Letland211050,00
Litaue2200100,00
Luxemburg4400100,00
Malta2200100,00
Marokko413025,00
Moldowa752071,40
Monaco1100100,00
Nederland462319450,00
Oekraïne523040,00
Pole1358038,46
Portugal17411223,53
Roemenië90900,00
Rusland716014,29
Samoa10100,00
Serwië871087,50
Slowenië321066,67
Spanje17214111,76
Swede1284066,67
Switserland853062,50
Tsjeggië742157,10
Tsjeggo-Slowakye615016,67
Tunisië513120,00
Uruguay10100,00
Verenigde Arabiese Emirate1100100,00
Wes-Duitsland641166,67
Zimbabwe1100100,00
Algeheel232981221242,24

Rekords

Wêreldbekerrekord

JaarUitslag
1987Nie genooi nie
1991Nie gekwalifiseer nie
1995Nie gekwalifiseer nie
1999Nie gekwalifiseer nie
2003Nie gekwalifiseer nie
2007Nie gekwalifiseer nie
2011Nie gekwalifiseer nie
2015Nie gekwalifiseer nie
2019Nie gekwalifiseer nie
2023Nie gekwalifiseer nie
2027N.v.t.
2031N.v.t.

Europese Rugbykampioenskap

Die Belgiese nasionale span neem sedert 1952 aan die Europese Rugbykampioenskap deel, meestal in die tweede afdeling. Hulle het sedertdien nog nie ’n toernooi gewen nie.

Ander toetswedstryde

Vanweë sy laat vestiging het België gedurende die amateurtydperk min toere volgens die ou tradisie onderneem, aangesien dit teen die jaar 2000 tot ’n einde gekom het. Deesdae is toetswedstryde teen die spanne van die Suidelike Halfrond tweekeer per jaar moontlik. Gedurende Juniemaand se midjaarrugbytoetsreeks en gedurende Novembermaand se eindjaarrugbytoetsreeks. In teenstelling met die meeste ander rugbylande speel België nie vir enige trofee teen sy opponente nie.

Spelers

Huidige span

Die volgende spelers het die Belgiese span gevorm tydens die 2021 eindjaarrugbytoetsreeks:

Agterspelers

SpelerPosisieKlub
Tom CocquSkrumskakelBrussels Devils
Ryan GodsmarkSkrumskakelBrussels Devils
Henri DequenneLosskakelBrussels Devils
Viktor PazgratLosskakelBrussels Devils
Basile PoupaertSenterBrussels Devils
Jens TorfsSenterNizza
Charles ReynaertVleuelCognac
Matias RemueVleuelBrussels Devils
Thomas WallrafVleuelBassin D’Arcachon
Hugo RuelleHeelagterBrussels Devils

Voorspelers

SpelerPosisieKlub
Alexandre RaynierHakerLombez Samatan
Vincent TauziaHakerLombez Samatan
Charlesty BerguetStutPerpignan
Ian DumezStutBrussels Devils
Samuel OpsomerStutBrussels Devils
Basile van ParysStutBrussels Devils
Frédéric De SmetSlotBrussels Devils
Maximilien HendrickxSlotBrussels Devils
Guillaume MortierSlotMarmande
Michael AbrahamsLosvoorspelerBrussels Devils
Hugues BastinLosvoorspelerBrussels Devils
Toon DeceuninckLosvoorspelerBrussels Devils
Jean-Maurice DecubberLosvoorspelerMassy

Bekende spelers

Jacques Rogge (2014)

Tot dusver is nog geen Belgiese speler in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem nie.

Jacques Rogge, die voormalige Internasionale Olimpiese Komitee-president, het tien keer vir die Belgiese nasionale rugbyspan uitgedraf.[45]

Spelerstatistieke

Vervolgens die belangrikste statistieke van België se spelers. Die spelers wat met * gekenmerk is, is nog aktief en kan hul statistieke verbeter.

(Korrek teen April 2020)

Meeste toetswedstryde[46]
RangNaamTydperkToetswedstryde
01Thomas Dienst2014–202127
02Guillaume Piron2013–202123
03Alan Williams2013–202123
04Thomas de Molder2013–202121
05Bertrand Billi2013–202020
06Gillian Benoy2017–202120
07Maxime Jadot2013–202118
08Tom Cocqu2017–202118
09Alexis Cuffolo2013–202017
10Julien Berger2013–202016
Meeste punte aangeteken[47]
RangNaamTydperkPunte
01Alan Williams2013–2021173
02Vincent Hart2017–2021032
03Louis de Moffarts2019–2021027
04Thomas de Molder2013–2021025
05Thomas Dienst2014–2021020
06Gillian Benoy2017–2021020
07Maxime Jadot2013–2021020
08Julien Berger2013–2020015
09Ervin Muric2017–2020015
10Charles Reynaert2017–2019015
Meeste drieë gedruk[48]
RangNaamTydperkDrieë
01Thomas de Molder2013–20215
02Thomas Dienst2014–20214
03Gillian Benoy2017–20214
04Maxime Jadot2013–20214
05Jens Torfs2014–20214
06Julien Berger2013–20203
07Ervin Muric2017–20203
08Charles Reynaert2017–20193
09Craig Dowsett2017–20202
10Vincent Hart2017–20212

Afrigters

Richard McClintock (2015)

Die volgende persone het al as hoofafrigters van die Belgiese nasionale rugbyspan gedien:

NaamTydperk
Richard McClintock2004–2014
Guillaume Ajac2014–2020
Frédéric Cocqu2020–2022
Chris Cracknell2022–2023
Mike Ford2023
Laurent Dossatsedert 2024

Sien ook

Verwysings

Verdere leesstof

  • (en) Huw Richards (2007). A Game for Hooligans: The History of Rugby Union. Edinburg: Mainstream Publishing. ISBN 978-1-84596-255-5.
  • (en) Richard Bath (1997). The Complete Book of Rugby. Seven Oaks. ISBN 1-86200-013-1.

Eksterne skakels