Galaal

Galaal of halaal[1][2] (Arabies: حلال, ḥalāl) is 'n Arabiese woord wat in Afrikaans as "wettig" vertaal word. Dit word gebruik in teenstelling met die woord garaam of haraam, wat "verbode" beteken. Dié teenstelling is deel van 'n ingewikkelder klassifikasie bekend as ""die vyf beslissings"": fard (verpligtend), mustahabb ("aanbevole"), mubah ("neutraal"), makruh ("afkeurenswaardig") en garaam ("verbode").[3] Islamitiese juriste verskil daaroor of die term "galaal" die eerste twee of die eerste vier van dié kategorieë dek.[3] In onlangse tye lê baie Islamitiese bewegings klem op die eenvoudiger onderskeid tussen galaal en garaam.[4][5]

Die woord "galaal" in Arabies. Dit word in winkels en restaurante en op produkte gebruik om vir Moslems aan te dui wat wettig is.

Die term "galaal" word veral verbind met kosse wat wettig is kragtens Islamitiese wette, veral oor hoe vleis berei word. In die Heilige Quran word die woorde "wettig" en "verbode" gebruik.[6]

Kos

In Islam word alle kosse gewoonlik as galaal beskou, tensy dit spesifiek deur die Hadit of Quran verbied word.[7] Galaal kos is meer spesifiek dié wat:

1. Gemaak, vervaardig, bewerk en geberg word met masjinerie, toerusting en/of gerei wat volgens die Islamitiese wet Sjaria skoongemaak is.
2. Vry is van enige komponent wat Moslems volgens Islamitiese wette nie mag eet nie.[8]

Die algemeenste voorbeeld van "garaam" (niegalaal) is varkvleis (die Quran verbied dit).[9] Ander kosse wat garaam is, hang af van die bron daarvan, die oorsaak van die dier se dood en hoe dit verwerk is. Die meeste Islamitiese geleerdes beskou skulpvis en ander seekos as galaal.[10] Vegetariese kosse is galaal indien dit nie alkohol bevat nie.[11]

Moslems moet seker maak alle kosse (veral geprosesseerde kosse), sowel as ander items soos skoonheidsmiddels en medisynes, is galaal.[12][13] Dié produkte bevat dikwels dierebyprodukte of ander bestanddele wat Moslems nie mag eet of aan hulle lyf gebruik nie. Kosprodukte wat nie as galaal beskou word nie, sluit in bloed[14] en bedwelmende middels soos sterk drank.[15]

'n Moslem wat andersins van honger sou omkom, word toegelaat om niegalaal kos te eet as daar geen galaal kos beskikbaar is nie.[16][17] Soms, soos op 'n vliegtuig, sal Moslems gewoonlik kosjer kos bestel as galaal kos nie beskikbaar is nie om te verseker dit bevat nie varkvleis nie.

Galaal vleis

Die galaal vleisafdeling van 'n winkel in Kanada.

Galaal vleis moet kom van 'n verskaffer wat galaal praktyke beoefen. Dhabīḥah (Arabies: ذَبِيْحَة) is volgens Islam die voorgeskrewe manier om alle vleisbronne dood te maak, insluitende vis en ander seediere. Dit behels dat 'n skerp mes gebruik word om 'n insnyding deur die voorkant van die keel, slukderm en keelaar te maak, maar nie deur die rugmurg nie.[18] Die kop van die dier wat met die galaal metode doodgemaak word, moet met die kiebla oplyn. Benewens die rigting, moet wettige diere doodgemaak word terwyl die Islamitiese gebed Basmala opgesê word.[19]

Die dier moet deur 'n Moslemman doodgemaak word.[20] Die karkas van dooie diere, soos diere wat in die natuur dood is, mag nie geëet word nie[21] – ook nie 'n dier wat verwurg of doodgeslaan is of wat doodgeval het of deur 'n roofdier doodgemaak is nie (tensy die finale doodslag deur 'n mens toegedien is), ook nie diere wat op 'n steenaltaar geoffer is nie.[21]

Verwysings

Nog leesstof

  • Yungman, Limor, "Food", in Muhammad in History, Thought, and Culture: An Encyclopedia of the Prophet of God (2 volumes.), reds. C. Fitzpatrick en A. Walker, Santa Barbara, ABC-CLIO, 2014, Vol I.

Skakels