Marvel Comics

Amerikaanse maatskappy wat strokiesboeke en ander soortgelyke media publiseer

Marvel Comics is 'n Amerikaanse uitgewer van strokiesverhale en sedert 31 Desember 2009 die eiendom van The Walt Disney Company. Marvel is in 1939 deur Martin Goodman gestig as Timely Comics,[1] en dit het teen 1951 algemeen bekend geraak as Atlas Comics. Die Marvel-era het in Junie 1961 begin met die uitreiking van The Fantastic Four en ander superheldreekse wat geskep is deur Stan Lee, Jack Kirby, Steve Ditko en baie ander.

Marvel Comics
TipeStrokiesmaatskappy
Gestig1939 (as Timely Comics)
HoofkantoorNew YorkVerenigde State
SleutelpersoneAxel Alonso (hoofredakteur)
Dan Buckley (uitgewer)
Stan Lee (voormalige hoofredakteur, uitgewer)
Gebied bedienWêreldwyd
ProdukteStrokiesverhale
Webwerfmarvel.com

Onder Marvel se karakters tel bekendes soos Spider-Man, Iron Man, Captain America, Thor, Doctor Strange, Hulk, Daredevil, Wolverine, Punisher, Black Panther en Captain Marvel, sowel as bekende superheldspanne soos die Avengers, X-Men, Fantastic Four en Guardians of the Galaxy. Sy talle superskurke sluit in Doctor Doom, Magneto, Ultron, Thanos, Kang the Conqueror, Green Goblin, Red Skull, Galactus, Loki en Kingpin.

Die meeste van Marvel se fiktiewe karakters tree op in die Marvel Universe, en die meeste plekke weerspieël regte plekke soos New York.[2] Daarbenewens het Marvel ook verskeie gelisensieerde reekse van ander maatskappy gepubliseer. Dit sluit in Star Wars-strokiesverhale twee keer van 1977 tot 1986 en weer sedert 2015.

Geskiedenis

Timely Publications

Die uitgewer van pulptydskrifte Martin Goodman het die maatskappy wat later Marvel Comics sou word, in 1939 onder die naam Timely Publications gestig.[3] Goodman, wat in 1933 met 'n western-pulptydskrif begin het, het uitgebrei na die opkomende en toe reeds hoogs gewilde nuwe medium, strokiesboeke. Hy was die hoofredakteur en bestuurder van die nuwe lyn, wat hy uit sy bestaande kantore in West 42nd Street, New York, bedryf het. Sy broer, Abraham Goodman, is as die redakteur aangedui.[4]

Timely se eerste publikasie, Marvel Comics #1 (Oktober 1939), het die eerste verskyning van baie karakters bevat, soos Human Torch en Namor the Sub-Mariner.[3] Dit was 'n groot sukses; altesaam 900 000 eksemplare van dié uitgawe en 'n herdruk die volgende maand is verkoop.[5] Die maatskappy se eerste ware redakteur, die skrywer-kunstenaar Joe Simon, het met die kunstenaar Jack Kirby saamgewerk om een van die eerste superhelde met 'n patriotiese tema,[6] Captain America, te skep in Captain America Comics #1 (Maart 1941). Dit was ook 'n treffer, met verkope van byna 'n miljoen.[5]

Goodman het Timely Comics, Inc., gestig en strokiesboeke begin uitgee met die voorbladdatums April 1941 of Lente 1941.[1][7] Hy het sy vrou se 16-jarige neef,[8] Stanley Lieber, in 1939 as algemene kantoorassistent gehuur.[9] Toe die redakteur Simon die maatskappy laat in 1941 verlaat,[10] het Goodman Lieber tussentydse redakteur van die strokiesboeklyn gemaak. Lieber het in dié tyd onder die skuilnaam "Stan Lee" geskryf. Hy het dié posisie dekades lank behou, buiten drie jaar tydens sy militêre diens in die Tweede Wêreldoorlog. Lee het tot verskeie titels bygedra.

Goodman het verskeie tydskrifte en strokiesboeke deur middel van verskeie korporasies uitgegee. Hulle was almal in dieselfde kantore werksaam en het dieselfde personeel gehad.[1] Een van dié sustersmaatskappye is Marvel Comics genoem, minstens van Marvel Mystery Comics #55 (Mei 1944) af. Sommige voorblaaie van strokiesboeke soos All Surprise Comics #12 (Winter 1946-'47) is ook onder die banier "A Marvel Magazine" gepubliseer, baie jare voordat Goodman die naam in 1961 amptelik aanvaar het.[11]

Atlas Comics

Ná die oorlog het strokiesboeke minder gewild geraak.[12] Goodman se strokiesboeklyn het hulle ophou uitgee en uitgebrei na ander genres soos gruverhale, westerns, humor, pratende diere, avontuurdramas, monsters, misdaad en oorlog. Later is woud-, romantiese, spioenasie- en selfs Bybel- en sporttemas bygevoeg.

Goodman het die logo van een van sy maatskappye, Atlas News Company,[13] in November 1951 op sy strokiesboeke begin gebruik. Dié naam het talle van sy sustersmaatskappye ingesluit, van Animirth Comics tot Zenith Publications.[14] Atlas het nie juis geïnoveer nie, maar gewilde temas van dié tyd uitgegee, soos westerns en oorlogdramas, en daarna rolprentmonsters en grutemas.[15] Atlas het ook talle kinderboekies en humorboeke vir tieners uitgegee. Die maatskappy het tussen 1953 en middel 1954 probeer om die superhelde te laat herleef, maar sonder sukses. Volgens Stan Lee het Atlas bly bestaan omdat hy boeke vinnig en goedkoop vervaardig het, en hulle was nie van baie goeie gehalte nie.[16]

Marvel Comics

Die eerste moderne strokiesboeke onder die naam Marvel Comics was 'n antologie van wetenskapsfiksie genaamd Journey into Mystery #69 en die tienerhumortitel Patsy Walker #95 (albei Junie 1961), wat elk die naam "MC" op die voorblad gehad het.[17] Kort nadat DC Comics daarin geslaag het om die superhelde in die laat 1950's en vroeë 1960's te laat herleef, veral met onder andere Batman en Superman, het Marvel dieselfde gedoen.

Goodman, wat daarvan gehou het om bestaande neigings te volg, het aan Stan Lee opdrag gegee om 'n strokiesverhaalreeks oor 'n span superhelde te skep.[18]

Spider-Man in Madame Tussauds in Londen. Hy sou Marvel Comics se topsuperheld word.

In 1961 het Lee strokiesverhale oor superhelde vernuwe deur helde te skep wat tot volwassenes sou spreek en nie noodwendig tot tieners nie, en dit was die begin van wat Marvel later sou noem die "Marvel Age of Comics".[19] Die helde van die eerste titel, The Fantastic Four #1 (November 1961),[20] was anders as vorige superhelde omdat hulle gestry het, wrokke gehad het en geheime identiteite verkies het bo sterstatus. Marvel het dus strokiesverhale ontwikkel wat gefokus het op karakteruitbeelding en volwasse sake, 'n eienskap wat die ouer lede van die nuwe generasie lesers waardeer het.[21]

Dit was veral van toepassing op The Amazing Spider-Man-titel, wat Marvel se topverkoper sou word. Die jong Spider-Man het geworstel met selfvertwyfeling en klein probleme soos enige ander tiener, en dit was iets waarmee baie lesers hulle kon vereenselwig.[22]

Stan Lee en die kunstenaar en later medeskrywer Jack Kirby se Fantastic Four het hulle oorsprong in 'n Koue Oorlog-kultuur wat hulle skeppers daartoe lei om die superheldkonvensies van vorige eras te laat herleef om die psigologiese gees van hulle tydperk beter te weerspieël.[23] Die gebruik van eienskappe soos bakleiery, geheime identiteite en selfs kostuums, en 'n monster as een van die helde, was 'n groot sukses.

Marvel het baie superhelde met gebreke geskep, anders as die aantreklike, fikse en perfekte helde van vorige tradisionele strokiesverhale. Sommige helde het soos skurke en monsters gelyk, soos die Hulk. Dié naturalistiese benadering het selfs tot in die politiek gestrek. Soos die geskiedkundige van strokiesverhale Mike Benton opgemerk het:

In die wêreld van Superman-strokiesverhale [van Marvel se teenstanders DC Comics] het kommunisme nie bestaan nie. Superman het selde nasionale grense oorgesteek en in politieke dispute betrokke geraak.[24] Van 1962 tot 1965 was daar meer kommuniste [in Marvel Comics] as op die subskripsielys van Prawda. Kommunistiese agente val Ant-Man in sy laboratorium aan, rooi trawante veg op die maan teen die Fantastic Four, en Viëtkong-guerrillas loop Iron Man tromp-op.[25]

Al dié elemente het byval gevind by die ouer lesers, insluitende dié van universiteitstudente se ouderdom. In 1965 het Spider-Man en die Hulk albei verskyn op die tydskrif Esquire se lys van 28 helde op universiteitskampusse, saam met John F. Kennedy en Bob Dylan.[26] In 2009 het die skrywer Geoff Boucher gesê:

Superman en DC Comics het dadelik soos die vervelige ou Pat Boone gelyk; Marvel het gelyk soos The Beatles. Dit was Kirby se kunswerk met sy spanning en psigedelia wat dit perfek vir dié tyd gemaak het – of was dit Lee se bravade en melodrama, wat op 'n manier terselfdertyd onseker en vrypostig was?[27]

Benewens verhale oor Spider-Man en die Fantastic Four, het Marvel ook stories begin publiseer oor sulke helde en antihelde soos die Hulk, Thor, Iron Man, die X-Men en Black Panther, en sulke antagoniste soos Magneto, die Green Goblin en Doctor Octopus, wat almal gelewe het in 'n gedeelde werklikheid, bekend as die Marvel Universe, met plekke wat soos werklike stede gelyk het, onder meer New York, Los Angeles en Chicago.

Die maatskappy se publikasies het aanvanklik 'n klein "MC" regs bo op die voorblaaie gehad. Steve Ditko het egter 'n groter mashoof links bo op die voorblaaie ontwerp vir boeke vanaf The Amazing Spider-Man #2. Lee het daarvan gehou en dit vir die maatskappy se hele publikasielyn gebruik. Dit sou die standaard vir Marvel Comics word.[28]

Laat 1960's tot 2000

In 1968 het die stigter, Goodman, Marvel Comics en sy moedermaatskappy, Magazine Management, aan Perfect Film and Chemical verkoop, maar hy het aangebly as uitgewer.[29] Hy het in 1972 afgetree en sy seun, Chip, as uitgewer aangestel.[30] Lee het hom kort daarna opgevolg en het ook vir 'n kort ruk Marvel se president geword.[30][31] Terwyl hy president was, het hy sy mederedakteur, die skrywer Roy Thomas, as hoofredakteur aangestel. Thomas het "Stan Lee Presents" op die openingsblad van elke strokiesboek geplaas.[30]

'n Reeks nuwe hoofredakteurs het die maatskappy gelei in nog 'n verslapping in die nywerheid. Marvel het weer probeer diversifiseer, en titels uitgegee met die temas gruverhale (The Tomb of Dracula), vegkuns (Shang-Chi: Master of Kung Fu), towenary (Conan the Barbarian in 1970,[32] satire (Howard the Duck) en wetenskapsfiksie (2001: A Space Odyssey, Battlestar Galactica, Star Trek, en laat in die dekade die Star Wars-reeks).

In 1973 het Perfect Film and Chemical sy naam verander na Cadence Industries en Magazine Management na Marvel Comics Group.[33] Marvel het in 1975 in die oudiomark betrokke geraak met 'n radioreeks en 'n plaat, albei met Stan Lee as verteller. Die radioreeks was "Fantastic Four". Die plaat was Spider-Man: Rock Reflections of a Superhero, 'n album vir musiekliefhebbers.[34]

Marvel het in die lente van 1975 sy eie strokiesboekkonvensie, Marvelcon '75, gehou en nog een in 1976 belowe. Op die geleentheid van 1975 het Lee 'n paneelbespreking van Fantastic Four gebruik om die terugkeer aan te kondig van Jack Kirby, die artistieke medeskepper van die meeste van Marvel se bekende karakters, nadat hy Marvel in 1970 verlaat het om vir hulle teenstanders, DC Comics, te gaan werk.[35]

In 1986 is Marvel Entertainment Group aan New World Entertainment verkoop. Hulle het dit binne drie jaar verkoop aan MacAndrews and Forbes, wat deur Ronald Perelman van Revlon besit is.

In die oplewing van die strokiesboekmark van die vroeë 1990's het Marvel die suksesvolle 2099-lyn strokiesverhale gepubliseer wat in die toekoms afspeel, soos Spider-Man 2099, asook die waaghalsige maar onsuksesvolle Razorline-reeks.[36][37]

Marvel het vroeg in 1992 'n terugslag beleef toe sewe van sy beste kunstenaars die maatskappy verlaat om Image Comics te vorm in 'n transaksie met die eienaar van Malibu Comics, Scott Mitchell Rosenberg, as tussenganger.[38] Drie jaar later het Rosenberg Malibu aan Marvel verkoop.[39] In 1997 het Toy Biz die Marvel Entertainment Group gekoop en 'n nuwe korporasie, Marvel Enterprises, gestig.[40]

Verwysings

Bronne

Skakels