Omar Sharif

Egiptiese akteur (1932-2015)

Omar Sharif (Arabies: عمر الشريـف, Egiptiese Arabies [ˈʕomɑɾˤ eʃʃɪˈɾiːf]; gebore Michel Demitri Chalhoub [miˈʃel dɪˈmitɾi ʃælˈhuːb]; 10 April 1932 – 10 Julie 2015) was ’n Egiptiese akteur wat in verskeie Hollywood-rolprente gespeel het soos Lawrence of Arabia, Doctor Zhivago en Funny Girl. Hy is vir ’n Oscar benoem en het drie Golden Globes gewen.

Omar Sharif
'n Beeld van die betrokke persoonlikheid.
Omar Sharif in 2013

GeboortenaamMichel Demitri Shalhoub
Geboorte10 April 1932
Alexandrië, Egipte
Sterfte10 Julie 2015
Kaïro, Egipte
NasionaliteitVlag van Egipte Egipte
Beroep(e)Akteur
Aktiewe jare1954–2015
RolprenteDr. Zhivago
Lawrence of Arabia
Funny Girl
ToekenningsCésar (2004)
Golden Globe (1962, 1963, 1965)
Internet-rolprentdatabasis-profiel
Rolprentpryse
PrysJaarKategoriePrent
Gewen
Golden Globe1962ByspelerLawrence of Arabia
Golden Globe1965AkteurDoctor Zhivago
Bambi1969AkteurMore Than a Miracle
César2004AkteurMonsieur Ibrahim
Benoem
Oscar1963ByspelerLawrence of Arabia

Vroeë lewe

Omar Sharif is op 10 April 1932 in ’n Libanese Christelike gesin in Alexandrië, Egipte, gebore as Michel Demitri Shalhoub (ميشيل ديمتري شلهوب). Hy het aan die Victoria-kollege in Alexandrië skoolgegaan en daarna ’n graad in beide wiskunde en fisika aan die Universiteit van Kaïro behaal.

Loopbaan

Rolprentloopbaan

Sahrif het sy akteursloopbaan in 1953 begin met ’n rol in Sira` Fi al-Wadi. Hy het gou ’n ster geword en in meer as 20 Egiptiese produksies gespeel, onder andere saam met sy vrou, die Egiptiese aktrise Faten Hamama.

Sharif se eerste Engelse rol was dié van Sharif Ali in 1962 in David Lean se Lawrence of Arabia. Vir dié byrol is hy benoem vir ’n Oscar en het hy ’n Golden Globe gewen vir beste manlike byspeler. Hierna het hy ’n verskeidenheid karakters vertolk, soos ’n Spaanse priester in Behold a Pale Horse (1964) en die Mongoolse veroweraar in Genghis Khan (1965). In dieselfde jaar het hy in nog ’n prent van Lean gespeel: Doctor Zhivago, ’n verwerking van Boris Pasternak se roman, waarvoor Sharif sy tweede Golden Globe gewen het.

In die volgende paar jaar het Sharif ’n Duitse generaal vertolk in The Night of the Generals, kroonprins Rudolf van Oostenryk in Mayerling en Che Guevara in Che!. Hy het ook lof ontvang vir sy uitbeelding van Nicky Arnstein, die man van Fanny Brice in Funny Girl. Die Egiptiese regering was woedend oor sy besluit om saam met Barbra Streisand te werk vanweë Streisand se steun aan Israel. Streisand self het hierop geantwoord: "You think Cairo was upset? You should've seen the letter I got from my Aunt Rose!" Sharif het die rol in 1975 weer gespeel in die opvolgprent, Funny Lady.

In 2003 is hy geloof vir sy rol in die Franse prent Monsieur Ibrahim et les fleurs du Coran as ’n Turkse Moslem-handelaar wat ’n vaderfiguur word vir ’n Joodse seun.

Brugloopbaan

Sharif het eens onder die wêreld se bekendste brugspelers getel en het in 1967 die "Omar Sharif Bridge Circus" gestig wat deur die wêreld gereis het om teen ander beroemde spanne te speel. Hy het verskeie jare lank saam met Charles Goren ’n gesindikeerde brugrubriek vir die koerant Chicago Tribune geskryf.[1] Hy het egter die skryf van die kolom meestal oorgelaat aan Tannah Hirsch, wie se naam tot vandag saam met syne in die naamlyn verskyn. Hy is ook die skrywer en medeskrywer van verskeie boeke oor brug en het sy naam gekoppel aan ’n brugvideospel, Omar Sharif Bridge, wat steeds verkoop word.[2]

Sharif het dikwels in casino's in Frankryk gedobbel.[3] In 2006 het gesê hy het ophou brug speel en dobbel omdat hy sy familie afgeskeep het en meer tyd saam met hulle wou deurbring.[4]

Persoonlike lewe

Sharif en die Libanese aktrise en sangeres Cyrine Abdelnour in 2009 by die Venesiese Rolprentfees.

Sharif het vlot Arabies, Engels, Grieks en Frans gepraat. Hy het ook ’n bietjie Italiaans, Spaans en Turks gepraat.

Hy het van sy geboorte tot in 1932 in Egipte gewoon en in 1965 na Europa getrek.[5] In sy outobiografie skryf hy sy pa was nie ’n ryk man nie, maar het heelwat verdien.[5] Voor die Egiptiese Rewolusie van 1952 het koning Faroek dikwels Sharif-hulle se huis besoek, waar hy ’n vriend en kaartspelmaat van Sharif se ma was. Sy ma was ’n elegante en sjarmante gasvrou wat danksy dié verbintenis in hoë kringe beweeg het. Sharif vertel ook sy pa se houtonderneming was in dié tyd baie suksesvol, op maniere wat hy beskryf as oneerlik of immoreel.[5]

Sy pa se onderneming is geknou ná die bewindsoorname en nasionalisasiebeleid van Gamal Abdel Nasser[5] Daar was ook reisbeperkings en Sharif kon dit nie hanteer nie – dit het hom laat besluit om in Europa te bly tussen die skiet van rolprente. Dié besluit het hom sy huwelik met Hamama gekos, maar hulle het vriende gebly. Hulle het ’n seun, Tarek El-Sharif. Hy is in 1957 in Egipte gebore en het in Doctor Zhivago verskyn as Yuri op agtjarige ouderdom. Die egskeiding was ’n kruispad vir Sharif en hy het verander van ’n gevestigde gesinsman in ’n lewenslange alleenloper wat in Europese hotelle gewoon het. Oor sy Hollywood-loopbaan het hy gesê: "Dit het vir my glorie gebring, maar ook eensaamheid. En die gemis aan my eie land en my eie mense."[6]

Sharif en Peter O'Toole het vriende geword tydens die verfilming van Lawrence of Arabia. Hulle het daarna in nog ’n paar rolprente saam verskyn en het goeie vriende gebly.

Hy het in 2010 ’n eregraad van die Universiteit van Hull gekry.[7] In November 2005 het hy die Sergei Eisenstein-medalje by Unesco gekry uit erkenning vir sy bydrae tot die internasionale rolprentwese en kulturele verskeidenheid. Daar is net 20 medaljes gemunt en hulle word ongereeld toegeken. Dit is genoem na die Russiese regisseur Sergei Eisenstein.[8]

Sharif het las meestal in Kaïro saam met sy familie gebly.[6] Benewens sy seun het hy ook twee kleinseuns, Omar en Karim.[9] Omar is ook ’n akteur.

Gesondheidsprobleme

Sharif het in 1992 ’n driedubbele hartomleidingsoperasie ondergaan en het in 1994 ’n ligte hartaanval gehad.

Filmografie

Sharif in Januarie 2009.
Films
JaarTitelRolNotas
1954Shaytan al-SahraBekend as Devil of the Sahara
1954Sira` Fi al-WadiAhmedOok bekend as The Blazing Sun, Struggle in the Valley of Fight in the Valley
1955Ayyamna al-HolwaAhmed"Ons Beste Dae"
1956Siraa Fil-MinaRagab
1957Ard al-SalamAhmedBekend as Land of Peace
1957The Lebanese MissionMokrirAs Omar Cherif
1958La anamAzizOok bekend as I Do Not Sleep en No Tomorrow
1958GohaGohaAs Omar Cherif
1959Fadiha fil-zamalekScandal in Zamalek
1959Sayedat el kasrAdel"Dame van die Kasteel"
1959Seraa fil NilMuhassab"Stryd op die Nyl"
1960Bidaya wa nihaya
1960Hobi al-wahid"My Enigste Liefde"
1960Esha'a hob"Gerug van Liefde"
1960Nahr al-HobKhalid"Die rivier van Liefde"
1961A Man in our HouseIbrahim
1962Lawrence of ArabiaSherif Ali
1964Behold a Pale HorseFrancisco
1964The Fall of the Roman EmpireSohamus
1965Doctor ZhivagoYuri
1965The Yellow Rolls-RoyceDavich
1965Genghis KhanGenghis Khan
1967The Night of the GeneralsMajoor Grau
1967More Than a MiraclePrins Rodrigo Fernandez
1968Funny GirlNick Arnstein
1968MayerlingAartshertog Rudolf
1969Che!Che Guevara
1969The AppointmentFrenderico Fendi
1969Mackenna's GoldColorado
1970The Last ValleyVogel
1971The HorsemenUraz
1971The BurglarsAbel Zacharia
1973La Isla misteriosa y el capitán NemoKaptein NemoTV-minireeks
1974JuggernautKaptein Axel Brunel
1974The Tamarind SeedFeodor Sverdlov
1975Ace Up My SleeveAndre FerrenOok bekend as Crime and Passion
1975Funny LadyNicky Arnstein
1976The Pink Panther Strikes AgainEgiptiese sluipmoordenaarnaam nie op lys
1979Ashanti: Land of No MercyPrins hassan
1979BloodlineIvo Palazzi
1979S-H-EBaron Cesare MagnascoS-H-E: Security Hazards Expert
1980Oh Heavenly DogBart
1980The Baltimore BulletThe Deacon
1980Pleasure PalaceLouis LefevreTV-prent
1981Green IceMeno Argenti
1984Top Secret!Agent Cedric
1986Peter the GreatFyodor RomodanovskyTV-reeks
1986HaremSultan HassanTV-prent
1986Anastasia: The Mystery of AnnaTsaar Nikolaas IITV-reeks
1987The Novice
1988The PossessedStepan
1989Al-aragoz Mohamed Gad El Kareem
1990The Opium Connection
1990The Rainbow ThiefDima
1991Memories of MidnightConstantin DemirisTV-prent
1991Mowaten masriAn Egyptian Citizen
1992Beyond JusticeEmir Beni-Zair
1992Grand Larceny
1992Mayrig
1992Mrs. 'Arris Goes to ParisMarkies HippoliteTV-prent
1992588 rue paradisHagop
1993Dehk we le'b we gad we hob
1994Lie Down with LionsSafar KhanTV-prent
1995Catherine the GreatAlexey RazumovskyTV-prent
1996Gulliver's TravelsTV-prent
1997Heaven Before I DieKhalil Gibran
1998Mysteries of EgyptOupaDokumentêr
1999The 13th WarriorMelchisideck
2001The Parole OfficerVictor
2003Monsieur Ibrahim et les fleurs du CoranMonsieur Ibrahim Deneji
2004HidalgoSjeik Riaad
2005Imperium: Saint PeterPetrusTV-prent
2005Fuoco su di mePrins Nikolaas
2005Shaka Zulu: The Last Great Warrior
2006One Night with the KingPrins Memucan
2006The Crown PrinceHans Canon
2007Hanan W HaneenTV-reeks
2007The Ten CommandmentsJetroTV-reeks
2008The Last TemplarKonstantineTV-reeks
2008Hassan & MarcusHassan/Morcus
200810,000 BCVertellerNet stem
2009The Traveller
2009J'ai oublié de te direJaume
2009La Traversée du désir

Verwysings

Bibliografie

  • The Eternal Male (1977)
  • Omar Sharif's Life in Bridge (1983)
  • Omar Sharif talks Bridge (2004)
  • Bridge Deluxe II play with Omar Sharif (instruksieboek)

Eksterne skakels