Trimurti

Die Trimurti (/trɪˈmʊərti/;[1] Sanskrit: त्रिमूर्ति trimūrti, "drie vorme") is die driedubbele godheid in Hindoeïsme[2][3][4][5] waarin die kosmiese funksies skepping, onderhoud en vernietiging verpersoonlik word deur ’n triade van gode: gewoonlik Brahma die skepper, Vishnu die onderhouer en Shiva die vernietiger/vervormer.[6][7] Individuele denominasies se weergawes kan egter verskil. Wanneer al drie gode van die Trimurti in ’n enkele avatar geïnkarneer word, is die avatar bekend as Dattatreya.[8]

Trimurti (trimūrti)
Devanagari त्रिमूर्ति
Sanskrit-transliterasie trimūrti
Affiliasie Deva
Metgesel Tridevi

Sienings in Hindoeïsme

Shaivisme

Shaiviste glo Shiva voer vyf aksies uit: skepping, onderhoud, vernietiging, die geheimhouding van grasie en die onthulling van grasie. Die eerste drie aksies word vereenselwig met Shiva as Sadyojata (soortgelyk aan Brahma), Vamadeva (Vishnu) en Aghora (Rudra). Hulle is nie ander gode as Shiva nie, maar ander vorme van hom. Net so is die Trimurti ’n vorm van Shiva. Volgens Shaiviste is Shiva die opperwese wat verskeie kritieke rolle vervul en toepaslike name en vorme daarvoor aanneem.[9]

Die Trimurti en die Tridevi.

Shaktisme

Shaktiste glo die drie vorme van die Trimurti is vroulik en nie manlik nie: Mahasarasvati is die skepper, Mahalaxmi die onderhouer en Mahakali die vernietiger. Hierdie vroulike weergawe van die Trimurti word die Tridevi ("drie godinne") genoem. Die manlike gode Brahma, Vishnu en Shiva tree dan in ’n hulphoedanigheid vir die Tridevi op en as hul metgeselle.

Smartisme

In Smartisme word klem gelê op ’n groep van vyf gelykwaardige gode eerder as ’n enkele god.[10] Die Panchayatana puja-stelsel ("aanbidding van die vyf gode") is ’n praktyk waarin ikone van vyf gode gebruik word:[11] Shiva, Vishnu, ’n Devi (soos Parvati), Surya en enige ander god(in) wat die aanbidder verkies.[12] Dié ikone help aanbidders om die aspekte van Brahman te visualiseer en daarop te fokus, eerder as op aparte wesens.

Vaishnavisme

Ondanks die feit dat die Vishnupurana lui Vishnu kom as Brahma te voorskyn om te skep en as Rudra (Shiva) om te vernietig,[13] erken Vaishnaviste gewoonlik nie die begrip Trimurti nie. Sommige volgelinge van dié tradisie glo die gode is gelykwaardig, terwyl ander nie ’n onderskeid tussen Vishnu en Shiva maak nie en glo hulle is verskillende vorme van dieselfde god.[14][15]

Verwysings

Bronne

  • Flood, Gavin (1996). An Introduction to Hinduism. Cambridge: Cambridge University Press. ISBN 0-521-43878-0.
  • Flood, Gavin (Editor) (2003). The Blackwell Companion to Hinduism. Malden, MA: Blackwell Publishing Ltd. ISBN 1-4051-3251-5. {{cite book}}: |first= has generic name (hulp)
  • Zimmer, Heinrich (1972). Myths and Symbols in Indian Art and Civilization. Princeton, New Jersey: Princeton University Press. ISBN 0-691-01778-6.

Eksterne skakels