Akira Kurosawa

Japannese regisseur

Akira Kurosawa (Japannees: 黒澤 明, 23 Maart 1910 – 6 September 1998) was ’n Japannese rolprentregisseur, -vervaardiger en -draaiboekskrywer. Hy word beskou as een van die belangrikste en invloedrykste rolprentmakers in die geskiedenis van die rolprentwese; hy het 30 rolprente geregisseer in sy loopbaan van 57 jaar.

Akira Kurosawa
黒澤 明
'n Beeld van die betrokke persoonlikheid.
Akira Kurosawa in 1953 op die stel van Seven Samurai.

Geboorte(1910-03-23)23 Maart 1910
Tokio, Japan
Sterfte6 September 1998 (op 88)
Tokio, Japan
Beroep(e)Rolprentregisseur, -vervaardiger en
-draaiboekskrywer
Aktiewe jare1936–1993
Internet-rolprentdatabasis-profiel

Loopbaan

Kurosawa het in 1936 in die rolprentbedryf betrokke geraak ná ’n kort loopbaan as skilder. Nadat hy jare lank as mede-regisseur en draaiboekskrywer gewerk het, het hy sy debuut as regisseur in 1943 tydens die Tweede Wêreldoorlog gemaak met die gewilde aksieprent Sanshiro Sugata (ook bekend as Judo Saga). Ná die oorlog het Drunken Angel (1948) hom ’n gerekende regisseur in Japan gemaak. Een van die hoofspelers was die toe onbekende akteur Toshiro Mifune. Die twee mans het later nog 15 prente saam gemaak. Sy vrou, Yōko Yaguchi, het ook in een van sy prente gespeel.

Rashomon, waarvan die première in Augustus 1950 in Tokio was, weer met Mifune in, het op 10 September 1951 in ’n verrassende wending die Goue Leeu op die Venesiese Rolprentfees gewen en is daarna in Europa en Noord-Amerika uitgereik. Die sukses van die prent het gemaak dat die Weste vir die eerste keer kennis geneem het van Japannese rolprente, en dit het weer gelei tot die erkenning van ander Japannese rolprentmakers. Regdeur die 1950's en vroeë 1960's het Kurosawa sowat een prent per jaar geregisseer, onder meer ’n paar wat goed ontvang is soos Ikiru (1952), Seven Samurai (1954) en Yojimbo (1961). Ná die middel 1960's het hy baie minder produktief geraak, maar sy latere werk het sy laaste twee epiese prente ingesluit: Kagemusha (1980) en Ran (1985). Hy het nog pryse gewen, onder meer die Palme d'Or vir Kagemusha – meer dikwels oorsee as in Japan.

In 1990 het hy die Oscar ontvang vir sy lewensbydrae tot die rolprentbedryf.[1][2]

Hy is ná sy dood deur die tydskrif AsianWeek en CNN aangewys as "Asiër van die Eeu" in die kategorie Kuns, Letterkunde en Kultuur. Hy is genoem "een van die (vyf) mense wat in die afgelope 100 jaar die meeste bygedra het tot die verbetering van Asië".[3]

Filmografie

Van Kurosawa se werk sluit in:

As regisseur

JaarEngelse titelJapanneesTransliterasie
1943Sanshiro Sugata (Judo Saga)姿三四郎Soegata Sansjiro
1944The Most Beautiful一番美しくItsjiban oetsoekoesjikoe
1945Sanshiro Sugata Part II (Judo Saga 2)續姿三四郎Zokoe Soegata Sansjiro
The Men Who Tread on the Tiger's Tail虎の尾を踏む男達Tora no o wo foemoe otokotatsji
1946No Regrets for Our Youthわが青春に悔なしWaga seisjoen ni koeinasji
1947One Wonderful Sunday素晴らしき日曜日Soebarasjiki nitsjijobi
1948Drunken Angel酔いどれ天使Joidore tensji
1949The Quiet Duel静かなる決闘Sjizoekanaroe ketto
Stray Dog野良犬Nora inoe
1950Scandal醜聞Soekjandaroe (Sjoeboen)
Rashomon羅生門Rasjomon
1951The Idiot白痴Hakoetsji
1952Ikiru (To Live)生きるIkiroe
1954Seven Samurai七人の侍Sjitsjinin no samoerai
1955I Live in Fear (Record of a Living Being)生きものの記録Ikimono no kirokoe
1957Throne of Blood (Spider Web Castle)蜘蛛巣城Koemonosoe-jo
The Lower Depthsどん底Donzoko
1958The Hidden Fortress隠し砦の三悪人Kakoesji toride no san akoenin
1960The Bad Sleep Well悪い奴ほどよく眠るWaroei jatsoe hodo jokoe nemoeroe
1961Yojimbo (The Bodyguard)用心棒Jodjinbo
1962Sanjurō椿三十郎Tsoebaki Sandjoero
1963High and Low (Heaven and Hell)天国と地獄Tengokoe to djigokoe
1965Red Beard赤ひげAkahige
1970DodesukadenどですかでんDodesoekaden
1975Dersu Uzalaデルス・ウザーラDeroesoe Oezara
1980Kagemusha (The Shadow Warrior)影武者Kagemoesja
1985RanRan
1990Dreams (Akira Kurosawa's Dreams)Joeme
1991Rhapsody in August八月の狂詩曲Hatsjigatsoe no rapoesodi (Hatsjigatsoe no kjosjikjokoe)
1993Madadayo (Not Yet)まあだだよMadadajo

As vervaardiger

Vir die volgende prente wat Kurosawa geregisseer het, het hy ook kresiet as vervaardiger ontvang:

  • Stray Dog (assistent-vervaardiger)
  • Throne of Blood (mede-vervaardiger)
  • The Lower Depths (vervaardiger)
  • The Hidden Fortress (mede-vervaardiger)
  • The Bad Sleep Well (mede-vervaardiger)
  • Yojimbo (mede-vervaardiger)
  • Sanjuro (mede-vervaardiger)
  • High and Low (mede-vervaardiger)
  • Red Beard (mede-vervaardiger)
  • Dodesukaden (uitvoerende vervaardiger en vervaardiger)
  • Kagemusha (vervaardiger)

Verwysings

Eksterne skakels