Bruindwerg

’n Bruindwerg is kleiner as die kleinste sterre, maar groter as die grootste gasplanete – met ’n massa van sowat 13 tot 80 keer dié van Jupiter (MJ).[1][2]

Beskrywing

Bruindwerge word op dieselfde manier as sterre gevorm, dit wil sê deur die sametrekking van ’n wolk gas en stof, maar die massa van die sametrekkende wolk is onvoldoende om die fusie van waterstof (1H) in helium in hul kern mee te bring. Om dié rede word bruindwerge soms "mislukte sterre" genoem.

Hulle verbrand egter vermoedelik deuterium (2H), en dalk ook litium (7Li) as hulle massa groter as 65 MJ is.[2] Die minimum massa wat vereis word om volhoubare waterstofverbranding te begin, vorm die boonste perk van die definisie wat tans deur die Internasionale Astronomiese Unie (IAU) gebruik word, terwyl die minimum massa vir die verbranding van deuterium (~13 MJ) die onderste limiet van die klas vorm; daaronder lê die planete.[2][3]

’n Vergelyking tussen die Son, ’n bruindwerg, Jupiter en die Aarde. Die meeste bruindwerge is effens kleiner as Jupiter (15-20%),[4] maar die massa kan tot 80 keer so groot wees vanweë ’n groter digtheid. Die voorstelling is nie volgens skaal nie.

Daar word gedebatteer oor of bruindwerge dalk beter gedefinieer kan word deur hulle vormingsproses as deur die teoretiese massaperke volgens kernfusiereaksies.[5] Volgens dié vertolking is bruindwerge dié voorwerpe wat die produkte met die laagste massa in die stervormingsproses verteenwoordig, terwyl planete voorwerpe is wat gevorm word in ’n akkresieskyf om die ster. Die koelste vrydrywende voorwerpe wat nog ontdek is, soos WISE 0855, asook die voorwerpe met die laagste bekende massa, soos PSO J318.5−22, het vermoedelik massas keiner as 13 MJ, en dus word soms na hulle verwys as "planetêremassavoorwerpe" omdat dit onseker is of hulle as dwaalplanete of as bruindwerge beskou behoort te word. Daar is planetêremassavoorwerpe wat om bruindwerge wentel, soos 2M1207b, MOA-2007-BLG-192Lb en 2MASS J044144b.

Sterrekundiges klassifiseer voorwerpe wat self lig uitstraal volgens spektraalklas, ’n onderskeid wat na gelang van oppervlaktemperatuur getref word, en bruindwerge kom voor in klas M asook klas L, T en Y.[5][6] Omdat hulle nie stabiele waterstoffusie ondergaan nie, koel hulle mettertyd af en gaan hulle deur latere spektraalklasse namate hulle ouer word.

Ondanks hulle naam is die sterre nie werklik bruin van kleur nie, maar lyk hulle of hulle ander kleure het na gelang van hulle temperatuur.[5] Die warmstes is waarskynlik oranje tot rooi,[7] terwyl koeler bruindwerge waarskynlik magenta sal lyk vir die blote menslike oog.[5][8] Bruindwerge kan ten volle konvektief wees, met geen lae of chemiese differensiasie volgens diepte nie.[9]

Hoewel teorieë oor hulle bestaan reeds in die 1960's bestaan het, is die eerste sterre wat ongetwyfeld bruindwerge is eers in die middel 1990's ontdek. Omdat hulle oppervlaktemperatuur relatief laag is, is hulle nie baie helder op sigbare golflengtes nie en straal hulle die meeste van hulle lig in die infrarooi uit. Ná die ontdekking van beter infrarooi-opsporingstoestelle is duisende bruindwerge al geïdentifiseer.

Die naaste bruindwerge lê in die Luhman 16-stelsel, ’n dubbelster met ’n klas L- en klas T-ster op ’n afstand van sowat 6,5 ligjare. Luhman 16 is die naaste ster aan die Aarde naas Alpha Centauri en Barnard se Ster.

Verwysings

Skakels