Christopher Nolan

Christopher Edward Nolan, (gebore 30 Julie 1970) is 'n Britse en Amerikaanse filmmaker. Hy is bekend vir sy rolprente met komplekse storievertelling en word beskou as 'n toonaangewende filmmaker van die 21ste eeu. Sy rolprente het wêreldwyd sowat $5 miljard verdien. Hy is genomineer vir vyf Oscar-toekennings, vyf BAFTA-toekennings en ses Golden Globe-toekennings. In 2015 is hy deur Time Magazine as een van die 100 invloedrykste mense ter wêreld gelys, en in 2019 is hy aangestel as bevelvoerder van die Orde van die Britse Ryk vir sy bydraes tot film.

Christopher Nolan in 2018.

Nolan het van jongs af 'n belangstelling in rolprentvervaardiging ontwikkel. Nadat hy Engelse letterkunde aan die University College London gestudeer het, het hy verskeie kortfilms gemaak voor sy speelfilmdebuut met Following (1998). Nolan het internasionale erkenning gekry met sy tweede film, Memento (2000), waarvoor hy genomineer is vir die Oscar-toekenning vir beste oorspronklike draaiboek.

Hy het oorgeskakel van onafhanklike na ateljeefilmvervaardiging met Insomnia (2002), en het verdere kritiese en kommersiële sukses behaal met The Dark Knight Trilogy (2005–2012), The Prestige (2006) en Inception(2010); die laaste hiervan het Nolan twee Oscar-benoemings besorg, vir beste rolprent en beste oorspronklike draaiboek. Dit is gevolg deur Interstellar (2014), Dunkirk (2017) en Tenet (2020). Vir Dunkirk het hy twee Oscar-benoemings verdien, insluitend sy eerste vir beste regisseur.

Nolan se werk verskyn gereeld op die lys van beste rolprente van hul onderskeie dekades. Hulle word tipies gekenmerk deur temas van epistemologie en eksistensialisme. Gevul met 'n metafisiese uitkyk, ondersoek hulle etiese gedrag, die konstruksie van tyd en die smeebare aard van geheue en persoonlike identiteit.

Sy werk is deurspek met wiskundig-geïnspireerde beelde en konsepte, onkonvensionele narratiewe strukture, praktiese spesiale effekte, eksperimentele klanklandskappe, grootformaat filmfotografie en materialistiese perspektiewe.

Hy het verskeie van sy films saam met sy broer Jonathan geskryf en vervaardig en bestuur die produksiemaatskappy Syncopy Inc. saam met sy vrou, Emma Thomas.[1][2][3][4][5]

Verwysings