Tomme de Savoie

Tomme de Savoie is 'n variant van Tomme-kaas wat in die Savoie-gebied (départements Savoie en Haut-Savoie) van die Franse Alpe gemaak word. Dit is 'n milde, halfharde kaas met 'n beige kleur in sy binneste en 'n dik grys kors. Die Tomme de Savoie is die bekendste van die verskillende Alpynse en Savoiardiese Tomme-bergkaassoorte.

Tomme de Savoie
HerkomsSavoie
Vetgehalte20 tot 45 %
VormSilindries, deursnee 18 cm
Hoogte5 tot 8 cm
Gewig1 tot 2 kg
TipeHalfharde kaas
OorsprongAfgeroomde koeimelk

Net soos ander Tomme-variante word Tomme de Savoie gewoonlik van afgeroomde koeimelk gemaak (die room word vir botter of ander kaassoorte gebruik) en het derhalwe 'n relatief lae vetgehalte van tussen 20 en 45 persent. Die kaas word dwarsdeur die jaar gemaak en ontwikkel sy karakter na gelang van die koeie se voedsel wat saam met die seisoene van somergras na winterhooi wissel.

Die kaas word gewoonlik in skywe met 'n deursnee van sowat 18 sentimeter, 'n dikte van 5 tot 8 sentimeter en 'n gewig tussen 1 en 2 kilogram vervaardig. Dit word eers gepers en word daarna vir rypwording enkele maande lank in 'n tradisonele kelder gestoor. Hierdeur kry die kaas sy tipiese dik kors en dikwels ook 'n sagte "kaaskelder"-smaak.