Vitamien B12

Kobalamien
Kobalamien se chemiese struktuur
Chemie
Sistematiese naamα-(5,6-dimetielbensimidasoliel)
kobamiedsianied
Chemiese formuleC63H88CoN14O14P
Molêre massa1355.37 g/mol
VoorkomsDonkerrooi poeier
Oplosbaarheid12 g/l in water; byna onoplosbaar
in asetoon, eter en chloroform
CAS registernommer68-19-9

Vitamien B12, ook bekend as kobalamien, is 'n wateroplosbare vitamien en een van die agt B-vitamiene. Dit speel 'n belangrike rol in die normale funksionering van die brein en senuweestelsel, en ook in die vorming van bloed. Dit is gewoonlik betrokke by die metabolisme in elke sel van die menslike liggaam, veral wat DNS-sintese en -regulering, vetsuurbiosintese en energieproduksie betref.

Metielkobalamien (foto) is 'n vorm van vitamien B12. Dit kom voor as donkerrooi kristalle wat vryelik kersie-gekleurde helder oplossings in water sal vorm.

Nie swamme, plante, óf diere is in staat om self vitamien B12 te vervaardig nie. Slegs bakterieë en archaea besit die ensieme wat nodig is vir die sintese, hoewel baie kossoorte 'n natuurlike bron van B12 is as gevolg van bakteriële simbiose. Die vitamien is die grootste en struktureel mees-ingewikkelde vitamien en kan in die nywerheid slegs geproduseer word deur bakteriële fermentasie-sintese.

Mediese gebruike

Vitamien B12 word toegedien tydens vitamien B12-tekort, sianiedvergiftiging, of om 'n oorerflike tekort aan transkobalamien II te behandel.[1] Dit word as deel van die Schillingtoets vir die diagnose van bloedarmoede gebruik.[1]

Vir sianiedvergiftiging, kan 'n groot hoeveelheid van hidroksokobalamien binneaars toegedien word in kombinasie met natriumtiosulfaat.[2] Die meganisme van aksie is eenvoudig: Die hidroksokobalamienhidroksied ligand word verplaas deur die giftige sianied-ioon, en die gevolglik skadelose sianokobalamien-kompleks word uitgeskei in die urine. In die Verenigde State van Amerika het die FDA (Food and Drug Administration) in 2006 die gebruik van hidroksokobalamien goedgekeur vir die akute behandeling van sianiedvergiftiging.[3]

Hoë vitamien B12-vlakke in bejaardes kan beskerming bied teen breinatrofie wat verband hou met Alzheimer se siekte en verswakte kognitiewe funksie.[4]

Aanbevole inname

[5]Die dieetverwysingsinname van vitamien B12 vir 'n volwassene wissel van 1.5 µg per dag (vir die VK) [6] tot 2-3 µg per dag (vir die VSA).[5]

Daar word gemeen dat vitamien B12 wat mondelings ingeneem word veilig is in hoeveelhede wat nie die aanbevole dieettoelae oorskry nie. Die aanbevole dieettoelae vir vitamien B12 in swanger vroue is 2.6 mg per dag en 2.8 mg tydens laktasie.[7] Daar is onvoldoende inligting beskikbaar oor die veiligheid van hoër inname van vitamien B12 tydens swangerskap.

Die Amerikaanse Instituut van Medisyne beweer dat, aangesien 10 tot 30% van die ouer mense nie natuurlike vitamien B12 uit hul voeding kan absorbeer nie, dit raadsaam is om vir diegene 51 jaar en ouer B12-gefortifiseerde kosse of B12 aanvullings tot op die aanbevole inname te verskaf.[8]

Verwysings