Jim Crow-wette

Die Jim Crow-wette was Amerikaanse wette wat rassesegregasie in die Suidelike Verenigde State afgedwing het.[1] Ander gebiede van Amerika is ook deur formele en informele beleide van segregasie geraak,[2] maar baie state buite die Suide het van die laat 19de eeu af wette aanvaar wat diskriminasie in openbare akkommodasie en verkiesings verbied.[3]

Die voorblad van die Franse tydskrif Le Petit Journal in Oktober 1906 beeld dié jaar se rassegeweld in Atlanta uit.

Wette in die Suide is in die laat 19de en vroeë 20ste eeu deur die wetgewende gesag uitgevaardig wat deur die Suidelike Demokrate oorheers is en het ten doel gehad om politieke en ekonomiese winste te ontneem wat swart Amerikaners tydens die Heropboutydperk gemaak het.[4] Jim Crow-wette is tot in 1965 afgedwing.[5]

Jim Crow-wette het in die praktyk van die 1870's af rassesegregasie gemagtig in alle openbare geriewe in die state van die voormalige Gekonfedereerde State van Amerika en in sommige ander state. Die wette is in 1896 gehandhaaf in die hofsaak Plessy vs. Ferguson, waarin die hooggeregshof sy leerstelling van "apart maar gelyk" vir geriewe vir swart Amerikaners uiteengesit het. Verder was daar rassesegregasie in openbare skole sedert die stigting van die meeste skole in die Suide ná die Amerikaanse Burgeroorlog in 1861-'65.

Hoewel die leerstelling van "apart maar gelyk" in die teorie ook na openbare geriewe en vervoer uitgebrei is, was die geriewe vir swart Amerikaners minderwaardig teenoor dié vir wit Amerikaners; soms was daar geen geriewe vir die swart gemeenskap nie.[6][7] Die Jim Crow-wette het allesbehalwe "gelykheid" voorgestaan en het ekonomiese, opvoedkundige, politieke en sosiale agterstande en tweedeklasburgerskap vir die meeste swart Amerikaners ingestel.[6][7][8] Nadat die National Association for the Advancement of Colored People in 1909 gestig is, het dit betrokke geraak by in 'n openbare protes en veldtogte teen die Jim Crow-wette en die sogenaamde leerstelling van "apart maar gelyk".

Die voorblad van 'n vroeë uitgawe van die bladmusiek vir "Jump Jim Crow" (omstreeks 1832).

In 1954 het die hooggeregshof onder hoofregter Earl Warren segregasie in openbare skole ongrondwetlik verklaar in die saak Brown v. Board of Education.[9][10][11] In sommige state het dit jare geduur voordat dié besluit in werking gestel is.[12] Die meeste oorblywende Jim Crow-wette is in 1964 met die Menseregtewet en in 1965 met die Stemregwet afgeskaf.

Etimologie

Die vroegste bekende gebruik van die term "Jim Crow-wet" kan teruggespeur word na 1884 in 'n koerantberig wat 'n debat in die Kongres opgesom het.[13] Dit het in 1892 verskyn in die titel van 'n artikel in The New York Times oor Louisiana wat afgesonderde treinkompartemente benodig.[14][15]

Die oorsprong van die term "Jim Crow" word dikwels toegeskryf aan "Jump Jim Crow", 'n lied-en-dans-karikatuur van swart mense wat deur die wit akteur Thomas D. Rice in blackface (met 'n swartgesmeerde gesig) uitgevoer is, die eerste keer in 1828. Vanweë Rice se roem het "Jim Crow" teen 1838 'n neerhalende uitdrukking geword wat "Neger" beteken het. Toe wette teen die einde van die 19de eeu in die Suide oor rassesegregasie uitgevaardig word, het dit bekend geword as Jim Crow-wette.[14]

Verwysings

Skakels