Omega Centauri

Omega Centauri (ω Cen), of NGC 5139, is ’n bolswerm in die sterrebeeld Sentour wat in 1677 deur Edmond Halley ontdek is. Dit is 15 800 ligjare van die Aarde af en is die grootste bolswerm in die Melkweg. Omega Centauri lyk so anders as die sterrestelsel se ander bolswerms dat geglo word dit moet ’n ander oorsprong hê, soos dat dit die oorblyfsel van ’n versteurde dwergsterrestelsel is.[9]

Omega Centauri
The globular cluster Omega Centauri. (Bron: ESO
The globular cluster Omega Centauri. (Bron: ESO
Soort stelselBolswerm
SterrebeeldSentour
TipeVIII[1]
Waarnemingsdata (Epog J2000)
Regte klimming13h 26m 47,28s[2]
Deklinasie−47° 28′ 46,1″[2]
Skynmagnitude3,9[3]
Besonderhede
Afstand (ligjaar)15 800 ligjare[4]
Ouderdom (jaar)11,52 miljard jaar[5]
Skynbare grootte 36′,3[6]
Aantal sterreVerskeie miljoene
Massa4,05±0,1×106 M[7]
Ander nameNGC 5139,[8] GCl 24,[8] ω Centauri,[4] Caldwell 80
Portaal  Portaalicoon  Sterrekunde

Geskiedenis

In 150 n.C. het die Grieks-Romeinse skrywer en sterrekundige Ptolemeus die voorwerp in sy Almagest opgeneem as ’n ster op die perd se rug, "Quae est in principio scapulae". Die Duitse kartograaf Johann Bayer het Ptolemeus se data gebruik om die Bayer-naam "Omega Centauri" daaraan te gee in sy 1603-uitgawe van Uranometria. Edmond Halley het die voorwerp in 1677 herontdek met ’n teleskoop op die eiland Sint Helena en dit gelys as ’n nie-stellêre voorwerp. In 1715 het Halley dit in sy lys van ses "helder kolle" genoem in die Philosophical Transactions of the Royal Society.[10]

Die Switserse sterrekundige Jean-Philippe de Cheseaux het Omega Centauri by sy 1746-lys van 21 newels ingesluit,[10] so ook die Franse sterrekundige Lacaille in 1755. Laasgenoemde het dit die katalogusnommer L I.5 gegee. In 1826 was die Skot James Dunlop die eerste persoon wat dit as ’n bolswerm herken het; hy het dit beskryf as ’n "pragtige bol sterre wat geleidelik en middelmatig digter word na die middel toe".[11][12]

Eienskappe

Die sentrale deel van Omega Centauri. In die onderste illustrasie kan die toekomstige posisie van die sterre in die wit vierkant in die middel bo gesien word. Elke streep verteenwoordig die ster se beweging oor die volgende 600 jaar. (Oktober 2010)

Dit is sowat 15 800 ligjare van die Aarde af en een van die min bolswerms wat met die blote oog gesien kan word. Dit is op ’n donker nag op die platteland amper so groot soos ’n volmaan.[13] Dit is die helderste, grootste en teen 4 miljoen sonmassas[7] die bolswerm met die grootste massa in die Melkweg. Van al die bolswerms in die Plaaslike Groep sterrestelsels is net Mayall II in die Andromeda-sterrestelsel helderder en swaarder.[14] Omega Centauri het verskeie miljoene Populasie II-sterre en is byna 12 miljard jaar oud.[15]

Die sterre in die middel is so dig dat daar geraam word hulle is maar sowat 0,1 ligjaar van mekaar af.[15]

Volgens ’n studie in 2008 is daar getuienis van ’n swartkolk van gemiddelde massa in die middel van Omega Centauri; dit is gebaseer op waarnemings deur die Hubble-ruimteteleskoop en die Gemini-sterrewag in Chili.[16][17] E. Noyola en sy kollegas het gevind die sterre by die middel wentel vinniger as sterre wat verder geleë is. Hulle het dié gegewens geïnterpreteer as dat onsigbare materie by die kern in ’n swaartekragwisselwerking is met nabygeleë sterre. Deur dit met standaardmodelle te vergelyk, het hulle afgelei dit word heel waarskynlik veroorsaak deur die swaartekrag van ’n digte, swaar voorwerp soos ’n swartkolk. Hulle het bereken die voorwerp se massa is 4 x 104 sonmassas.[16]

Onlangse studies het egter twyfel gewerp op dié bevindings, veral wat betref die ligging van die bolswerm se kern.[18][19] Met berekening vir ’n ander kernligging, is gevind die sterre naby die kern beweeg nie vinniger as ander sterre soos wanneer daar ’n swartkolk van gemiddelde massa sou wees nie. In dié studies is ook bevind die helderheid van die swerm neem nie toe na die middel nie, maar bly redelik konstant. Die navorsers het gesê hul bevindings sluit nie ’n swartkolk uit nie, maar bevestig dit ook nie. As daar wel een is, dink hulle nie die massa is groter as 1,2 x 104 sonmassas nie.

Daar is voorgestel Omega Centauri is dalk die kern van ’n dwergsterrestelsel wat deur die Melkweg opgeneem is.[20] Daar word juis gereken Kapteyn se Ster, wat tans net 13 ligjare van die Aarde af is, het in Omega Centauri ontstaan.[21] Omega Centauri se eienskappe en beweging in die Melkweg stem ook ooreen met dié bevinding.[13] Nes Mayall II het Omega Centauri sterre met ’n verskeidenheid metaalgehaltes en ouderdomme, wat beteken hulle het dalk nie terselfdertyd ontstaan (soos geglo word in bolswerms gebeur) nie en dit dui ook daarop dat dit die oorblyfsel van ’n kleiner sterrestelsel is wat lank gelede in die Melkweg opgeneem is.[22]

Verwysings

Eksterne skakels